ToekomsVenster: Rykdom is ’n gawe

ryk-sjokolade-drankie

Foto: Monika Grabkowska/Unsplash.com

Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? – Jak.2:6-7

Jakobus het sy mes in vir sommige ryk mense. Uiteraard is rykdom nie die probleem nie dit is die arrogansie en aanstellerigheid wat somtyds daarmee gepaard gaan. Die probleem is dat die sug na rykdom nooit versadig word nie. Dit is ʼn monster wat uiteindelik die motiveringsbeginsel is en word vir elke handeling. Dit net ʼn kwessie van tyd en die Ons Vader gebed word omgedraai. In stede van “Laat U koninkryk kom” word dit “laat my koninkryk kom”.

Al bid mense dit nie, leef hulle dit.

Kom ons wees nie vals en oneerlik nie. Ek weet van min mense wat nie kan doen met meer geld nie. Die lewe het duur geword (ja, elke generasie sou dit aanvoer maar dis ewe seer waar vir die tyd waarin ons lewe). Omdat mens sukkel om spreekwoordelik “siel, gees en liggaam” bymekaar te hou raak ʼn mens se fokus beneweld. Dit gaan om oorlewing en sekuriteit. Die wyse waarop die “Jones” familie dit doen is merkbaar en ons probeer byhou. Dit is net ʼn kwessie van tyd en God word verwaarloos. Ons vind boonop rede waarom ons dit doen.

Ek wil dit weer duidelik stel dat Jakobus nie venynig teenoor ryk mense is nie. Hy moes egter in eie omgewing ʼn paar ervarings gehad het wat sy perspektief op rykdom beïnvloed het. Onthou die verhaal wat die profeet vir Dawid voorgehou het na sy sonde met Batseba. Dit was die verhaal van ʼn ryk man wat die enigste besitting van ʼn arm man gevat het. Jesus deel Jakobus se sentiment as Hy aanvoer dat dit moeilik is vir ʼn ryk man om die Koninkryk van God te beërwe. Die gelykenis van die ryk man en Lasarus is ʼn verdere illustrasie.

As die Here jou met rykdom seën waak dat dit nie jou van Hom vervreem nie. Rykdom is ʼn gawe soos alle ander gawes en word vir die saak van die Koninkryk gebruik.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.