ToekomsVenster: Sukses gewaarborg

hande-wat-liggies-vashou

(Foto: Diego PH/Unsplash)

Lees weer hier:

Jer. 17: 7-8 – “Maar gelukkig is dié mense  wat op die Here vertrou en hulle verwagting in Hom stel. Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels reik diep tot by die water. Hitte bedreig hulle nie, en hulle blare bly groen. Lang maande van droogte pla hulle ook nie. Hulle hou nie op om vrugte te dra nie.

Gedurende hierdie week het ons by twee soort mense stilgestaan na aanleiding van die teks in Jeremia 17. Mense wat op ander mense in stede van God vertrou en mense wat hul vertroue in God stel. Ek som graag ons gedagtes hier op.

Die teks wil nie sê dat ons nie op mense moet vertrou nie. Die teks staan nie teenoor die normale vertroue wat so nodig is vir opbouende interpersoonlike verhoudinge en vrede nie. Miskien het ons ʼn stewige dosis vertroue op mekaar en in mekaar nodig in ons land.

Soveel dinge wat gebeur is daarop ingestel om ons vertroue in mekaar te erodeer. Omdat mense uit huis uit onbetroubaar is begin ons met verdrag ʼn siniese lewens en wêreldhouding in te neem.

Ons het ʼn mate van vertroue in mekaar nodig en ons moet jaloers waak oor ons eie integriteit en betroubaarheid. Ons moet daarna streef om mekaar se vertroue waardig te wees.

Veral van owerheidsweë is dit so noodsaaklik dat die gewone burgers hulle kan vertrou. Wanneer beloftes gemaak word en nie nagekom word nie stort vertroue in mekaar. Dit is baie moeilik om wantroue weer in vertroue te laat oorgaan.

Mense wat binne huweliksverband vanweë ʼn derde persoon seergekry het kan getuig van hoe moeilik dit is om daardie vertroue weer terug te bou. Dit neem baie tyd en baie geduld.

Hoe lyk dit met jou vertrouensindeks? Is jy betroubaar? Is jou woord jou eer? Is jou ja, ja en jou nee, nee? Kan mense maar hul planne maak net omdat jy gesê het dinge is in plek?

Sjoe, dit is ʼn grootse verantwoordelikheid.

Dan weer kan vertroue misplaas wees as dit daarop gerig is om God uit die vergelyking te laat. Die oefening is in elk geval uit die staanspoor verdoem. Die prognose is swak, die kans dat jy teleurgesteld gaan wees is 100%.

Mens kan God nie vervang, verdring, ignoreer, uitlaat of uitskuif nie. Hy laat dit nie met Hom doen nie. Dit is nie God wat mense nodig het nie maar die omgekeerde die woord is ʼn waarskuwing omdat God ons die hartseer van misplaaste vertroue wil spaar.

Watter Vader wil hê dat sy kinders moet huil? Definitief nie ons hemelse Vader nie. Wat gebeur as jy reeds op die plek van misplaaste vertroue is ongeag wat jou motivering is of was?

Herbevestig jou vertroue in God. Bely jou afhanklikheid.

Hou op om jou eie planne te maak. Abram en Sara moes dit uitvind. Eie planne loop uit op hartseer.

Wag op die Here totdat Hy wys wat jou te doen staan. Hy is betroubaar en sal jou nie teleurgestel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.