ToekomsVenster: Te veel spinnerakke in my kop

(Foto: Pixabay/Pexels)

“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” – Filippense 4:7 (AFR83)

ʼn Onlangse studie sê ʼn mens het ongeveer 6 200 gedagtes per dag.

Sonder om op die besonderhede in te gaan kan die meeste van ons sekerlik daarmee identifiseer. Dit bly besig in ʼn mens se kop en somtyds is jy verleë oor die goed wat by jou opkom.

ʼn Ander bron beweer dat die meeste van die gedagtes wat ʼn mens koester sommer nonsens is en nêrens heen lei nie.

“Die Here ken die gedagtes van die mens, Hy weet dit beteken niks.” − Psalms 94:11 (AFR83)

Gedagtes kom en gaan weer tensy jy dit begin vertroetel en aandag daaraan gee. Jakobus help ons as hy sê dat ʼn “verkeerde” gedagte nie noodwendig sondig is nie, maar wanneer dit vertroetel word soos mens ʼn suikerklontjie in jou mond sou rondrol, kan dit aanleiding gee tot goed wat die Heilige Gees bedroef.

“Maar ʼn mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.” – Jakobus 1:14-15

Die Bybel leer ons immers om nie die Gees van die Here te bedroef nie, omdat dit sy werk in ons lewens inhibeer en maak dat ons nie die stem van die Here kan hoor nie.

Nou hoe gemaak met die gedagtes wat sonder uitnodiging hulle aan jou opdring?

“Julle gees en gedagtes moet nuut word…” – Efesiërs 4:23 (AFR83)

“Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.” − Kolossense 3:2 (AFR83)

Op ʼn ander plek is hy nog meer spesifiek oor wat hy bedoel:

“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” – Filippense 4:8 (AFR83)

“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.” − Deuteronomium 6:6 (AFR83)

Beteken dit dat ʼn mens nie meer met verkeerde, selfs ontstellende gedagtes, gekonfronteer sal word nie? Uiteraard nie, maar dalk is dit gepas dat ek ʼn gesegde hier aanhaal: “Jy kan nie help dat ʼn voël oor jou kop vlieg nie, maar as dit nes maak in jou hare is net jy te blameer”.

Sterkte met die gedagtes!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here U weet hoe my verstand soms verstrengel raak deur spinnerakke….help my om ten alle tye Heer dit deur U Heilge Gees te beveg en skoon te maak…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.