ToekomsVenster: Vrede en tevrede

(Foto: Tamara Menzi/Unsplash.)

Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom. Hy was toe nog ingeperk in die binneplaas van die paleiswag. So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is: Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. – Jeremia 33:1-3

Interessant hoe ʼn mens somtyds onthou waar ʼn bepaalde teks vir jou betekenis gekry het. Ek was in Lagos, ver van die huis af, toe Koot Swanepoel vir my aan hierdie teks voorgestel het.

Dit was ʼn tyd van nadenke en soeke na die dieper dinge van die Gees. Ek het geworstel met teenstrydige gedagtes en diepe introspeksie.

Om van tyd tot tyd daarmee besig te wees, is belangrik. Ons mag nooit tevrede raak nie.

Vrede en tevrede het, wat ʼn mens se geestelike lewe betref, twee betekenisse. Die vrede wat God gee is onvergelykbaar wonderlik en blywend. Niks kan daarmee vergelyk nie. Dit is ʼn gawe van die Heilige Gees. Dit kan chaoties wees rondom my en ek mag worstel met baie kwelvrae en tog die vrede van die Here eg en dankbaar beleef.

Tevrede is dalk iets anders. Ek is op reis, op soek na die diepere dinge van die Gees. Die eerste dinge van die geloof is gevestig en vas. Nou waag ek dit in die diep water. Ek ervaar hoe dit voel as daar nie vaste grond onder my voete is nie. Wanneer ek blindelings volg, nie sien nie en tog sien.

Ek spring soos ʼn kindjie in die arms van my Vader in die vertroue dat Hy my sal vang. Ek het immers die ervaring dat Hy my in baie jare van bestaan nog nooit een keer laat val het nie.

Dit het al gevoel of ek sy arms mis maar deur sy Goddelike almag was sy greep sterker en meer omvattend as my uitdagend.

Wanneer laas moes jy spring?

Die vrede is daar, maar dit is omdat jy nie meer tevrede is met babakos nie dat jy besluit het om Hom te volg.

As jy eers die avontuur van nie weet nie en tog weet, nie seker wees nie en tog seker, nie veilig voel nie en tog veilig wees smaak dat jy nie kan terugdraai nie.

Niks is ooit weer dieselfde nie. Ek moet agter Hom aan, met alles binne in My, op pad na die Hemelstad, die nuwe Jerusalem.

Dit is in daardie konteks dat die geheime van die hemel met jou gedeel word, waar openbaring plaasvind, waar geestelike groei plaasvind. Ons moet Hom volg, Jesus van Nasaret gaan hier verby.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.