ToekomsVenster: Wat is ’n kerk sonder die Heilige Gees?

wit-duif

(Foto: @awmleer/Unsplash)

“Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.” − Handelinge 8:17 (AFR53)

Wat is ʼn kerk sonder Jesus? Heeltemal niks. Wat is ʼn kerk sonder die Heilige Gees? Eweneens, heeltemal niks.

God openbaar Homself in drie persone; Vader, Seun en Heilige Gees. Die drie-enige God is ons Redder, Verlosser, Onderhouer, Leidsman na die lewe. Die drie-enige God is in alle opsigte wie Hy sê Hy is God. Dit is onverstaanbaar vir die menslike begrip. Dit is ʼn geloofswaarheid wat net aanvaar, geglo en bely kan word.

Wanneer jy dit doen, beleef jy die bevestiging daarvan in jou gees.

Die drie persone van die Goddelike drie-eenheid kan onderskei, maar nie geskei word nie. Misterieus waar. Onbegryplik waar. Aangrypend waar.

Kort voordat Jesus hemelwaarts keer, vertel Hy die dissipels van die noodsaak en geskenk wat in die Persoon van die Heilige Gees na hulle toe kom. Die voorwaarde is dat Hy eers sy vertrek neem, eers dan kan die belofte van die Vader uitgegiet word.

Joël profeteer merkwaardig oor die opdrag van die Gees.

Op Pinksterdag word die Heilige Gees kragdadig uitgestort en kom mense in hul duisende tot bekering. Daarvan lees ons in Handelinge.

Bang Petrus draai nie doekies om oor wat die Jode met hul Messiaskoning gedoen het nie.

Hy roep hulle op tot ʼn hartgrondige toe en terugkeer na die God van hul vaders. Die reaksie is oorweldigend en gee gestalte aan die Nuwe Testamentiese kerk.

Wat is ʼn kerk sonder die Heilige Gees?

Wanneer mense die begrip “Heilige Gees” hoor word hulle herinner aan alles wat mense onder die sogenaamde inspirasie van die Heilige Gees gedoen en bedryf het. Goed wat die toets van God se Woord nie deurstaan nie, word as herlewing beskryf.

Soekende mense stroom daarheen, maar raak gou weer weg.

Die Gees se werk is standhoudend en tydloos. Die Gees begin die werk in ons as gelowiges, ook in die kerk, en bring dit tot wasdom.

Hoe dikwels hoor en leer ons van die werk van die Heilige Gees?

In watter mate word ons afhanklikheid van Hom bely?

Is daar ruimte vir die Heilige Gees om onder, met en deur gelowiges te werk?

Die alternatief is eie krag, en eie pogings is futiel.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.