ToekomsVenster: Wat stukkend is, kan herstel

(Foto: Vlad Dyshlivenko/Unsplash)

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” – Genesis 1:26

Veral na die eerste en tweede Wêreldoorlog het mense begin dink aan menseregte. Die wyse waarop die wêreldoorloë mense verniel het, het aanleiding gegee tot ʼn proses van selfidentifikasie. Aan die kern van menseregte is die vraag wie is ek en uiteraard wie jy is? Waarin in ons dieselfde en waarin verskil ons van mekaar? Wat het ons met mekaar ingemeen en wat is uniek, eiesoortig en persoonlik?

Die wêreld se prestasie wat menseregte betref is betreurenswaardig laag. Suid-Afrika is geen uitsondering nie.

Die wyse waarop ons mekaar verniel, slegsê en met etikette omhels is daarvan klinkklare bewys.

Die rede waarom ons nie vorder met menseregte nie is vrees, vrees vir die onbekende. Dit is mag en beheer en ʼn ingesteldheid om dit ten alle koste te behou. Dit is agterdog en oordeel, eintlik onbekendheid met mekaar.

Ons het nooit ʼn kultuur ontwikkel van mekaar leer ken nie. Ons leef in ons veilige ruimtes en voel bedreig om daaruit te kom. Ons waag dit nie die diepsee van verhoudinge in nie. Ek is eweneens skuldig.

Onderlinge wantroue word net verder gevoed en dit voel of ons nie uit die moeras van ellende kan uitstyg nie. Ons sukkel maar hier en daar is darem tekens van nuwe lewe.

Mens word bewus van mooi inisiatiewe wat daarop gerig is om plaaslike gemeenskappe te bemagtig met hul betrokkenheid, sy aan sy, skouer aan skouer die stukkende mure van die verlede herstel.

Een steen op ʼn slag, word ons geroep om soos in Nehemia se tyd, reg voor onsself wat stukkend is te herstel. Dit kan en moet gedoen word. Ons het geen ander keuse nie. Ons kinders en kleinkinders vra daarna. Ons erfenis mag ons nie oordeel en veroordeel nie. Daar is werk om te doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.