ToekomsVenster: Wees bedag, wees waaksaam

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

(Foto: Pixabay)

So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. – Matt. 6: 9-13

Ons het gedurende hierdie week nog ietwat in die nuuskantoor gekuier, deur die koerant geblaai, TV-nuus gevolg en gewonder wat die Bybelse perspektief op hierdie gebeure mag wees. Ek vertrou dat dit iets was waaroor jy kon nadink.

Ek dink graag ʼn paar oomblikke met jou saam oor nog ʼn berig wat tans gereeld verskyn; paaie wat onbegaanbaar is en slaggate wat reis ʼn gevaarlike oefening maak. Ek wonder of daar ʼn gemeenskap in Suid-Afrika is wat nie deur slaggate getreiter word nie?

Dit is veral in die nag dat die gevaar groot is dat ʼn mens ʼn ongeluk kan maak, of veroorsaak. Teen 60 kilometer per uur kom daardie gapende wond in die pad vinnig op jou af. In ʼn breukdeel van ʼn sekonde moet jy besluit of jy gaan uitswaai, of jou motor verder gaan beskadig. Ons persoonlik het verskeie sulke oefeninge gehad wat ons duisende rande aan motorbande en ander skade berokken het. Ek is seker jy kan skrikwekkende verhale vertel oor jou ervarings in die verband.

Slaggate moet ten alle koste vermy word. Dit is uiters skadelik en gevaarlik.

Daar is ook wat ons geloofslewe betref verskeie slaggate. Sommige daarvan is ooglopend en sigbaar. Ander word op ʼn subtiele wyse op jou afgedwing en tensy jy deur die Gees onderskei, staan jy ʼn goeie kans om ingesluk te word. Dit is eers heelwat later dat jy agterkom dat jy oop oë in die ellende ingeloop het.

Gebed is een manier waarop ʼn mens slaggate in die geloofslewe kan onderskei. Die Bybel is die ander. Saam vorm dit ʼn duo wat mens sensitief maak vir die verkeerde, die sonde wat loer en wag.

“Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.” – Genesis 4:7

Dalk het jy reeds skade opgetel. Dit lê in jou denke, jou emosies, jou optrede, jou reaksie.

Die Gees wil jou vrymaak. Hy kan die skade ongedaan maak maar dan moet jy opdaag, vra en toelaat dat Hy sy werk in jou lewe doen.

Dat die bose baie vindingryk is wanneer dit by slaggate kom, is duidelik. Hy is soos ʼn brullende leeu wat ʼn volgende prooi wil vastrek.

Wees bedag. Wees waaksaam, sê die Woord.

Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn. – Lukas 21:36

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.