Video: Kinders van die vervolgde kerk

Valentina is by die huis vir Kersfees, maar sy weet dat dit gevaarlik is omdat vervolging ʼn wrede werklikheid is (Foto: Geopende Deure)

Vervolging is fel, isolerend en vorm Christenkinders se lewens – en vir baie van hulle is Kersfees ʼn tyd van uiterste vrees en gevaar. In 84% van die lande waar vervolging plaasvind, word kinders van hul ouers geskei.

Een van die kinders wat dié situasie eerstehands ervaar, is die 15-jarige Valentina van Colombia. Valentina is tans by die huis vir Kersfees, omring deur die liefde en warmte van haar familie. Sy is opgewonde oor die Kersseisoen en dis vir haar ekstra spesiaal om by haar ouerhuis in die pragtige Colombiaanse berge te wees. Maar ongelukkig is hierdie vreugde van korte duur en moet sy kort ná Kersfees weer die pyn van skeiding deurmaak…

Valentina en haar kleinboetie, Elver, moet binnekort vir 15 ure terugreis na Geopende Deure se Kindersentrum in Colombia, waar hulle bly en skoolgaan. Hulle sal hul gesin eers oor ʼn jaar weer kan sien. Maar ongelukkig kan hulle nie tuisbly nie – want hul geloof maak hulle ʼn teiken vir intense vervolging.

Die hoë prys van geloof

Valentina het in ʼn Christen-gesin grootgeword nadat haar pa, Francisco, op 20-jarige ouderdom tydens ʼn kerkdiens sy hart vir die Here gegee het. Hierna is hy gedoop en het hy intensief by die kerklewe betrokke geraak as ʼn kerkleier.

Ongelukkig het dié ommeswaai in sy lewe Francisco in die kollig geplaas en het sy sterk beginsels en weiering om aan die inheemse Páez-gemeenskap se towerkuns-rituele deel te neem, die dorpsleiers woedend gemaak. Hulle is openlik vyandig teenoor hom en ook gekant teen sy standpunt oor plaaslike kwessies soos onwettige betogings oor grondregte.

Teiken vir vervolging

Valentina se ouers, Luz en Francisco, ʼn kerkleier (Foto: Geopende Deure)

Toe Valentina begin skoolgaan het, was sy ʼn groot teiken vir vervolging weens haar pa se posisie as kerkleier. Francisco se onderdrukkers het dit as ʼn manier gesien om hom aan te val en sy was in gevaar van seksuele aanranding, mensehandel en ʼn gedwonge huwelik. Elver was die teiken van kriminele guerrilla-groepe wat seuns so jonk as twaalf jaar oud werf.

“Ek het geen vryheid gehad nie. Ek het swaargekry op skool en was bitter alleen en ongelukkig,” sê Valentina.

Francisco vertel verder: “Ons is ingelig dat ons geen reg op onderrig en gesondheidsorg het nie, en dat guerrillagroepe daarop uit is om kinders te werf. Ons was desperaat en het besef dat ons kinders in groot gevaar was. Ons moes hulle uit die dorp wegkry om hulle te beskerm.”

ʼn Hartverskeurende keuse

Vervolging het die gesin tot ʼn hartverskeurende keuse gedryf. Toe Valentina elf jaar oud was, is sy en haar boetie na Geopende Deure se Kindersentrum in Colombia gestuur. Hier is hulle veilig, hulle ontvang akademiese en Bybelse onderrig, en hul geloof word al hoe sterker. Valentina het selfs intussen chirurgie vir ʼn hartkwaal ontvang.

En Francisco het nou vrede in sy gemoed. “Ons was hartseer om ons jong kinders so ver weg te stuur en dat ons hulle nie gereeld kan sien nie. Maar ons is gelukkig omdat hulle nou veilig is. Hulle groei ook nader aan God – en dis goed vir hulle. Selfs as ons sterf, weet ons dat hulle agterbly om die Woord van God te versprei,” sê hy.

Volgens Valentina is sy voortdurend oor haar gesin se veiligheid bekommerd, maar sy het hoop. “Ek vertrou op God en het nog altyd verstaan dat alles in die lewe met ʼn doel gebeur.”

Skeiding van hul ouers is ʼn wrede taktiek van vervolging wat teen Christenkinders reg oor die wêreld gebruik word. Soms is dit gedwonge, met ʼn kind wat van hul gesin weggeneem word, en soms, soos in Valentina se geval, is dit ʼn keuse wat uit desperaatheid en vrees gemaak word.

Ondersteuning aan kinders

Met behulp van hul ondersteuners, lewer Geopende Deure bystand aan hierdie kinders wat deur vervolging geraak word. Daar is ʼn dringende behoefte aan onderrig, Christelike literatuur en Bybels, sosiale byeenkomste soos jeugkampe, die versterking van gesinne deur mikrolenings en ondersteuning deur traumasorg.

Jy kan ook hierdie Kersfees hoop gee aan vervolgde kinders deur vir hulle veiligheid, onderrig en ʼn toekoms te gee. Klik hier om vervolgde kinders met ʼn finansiële Kersgeskenk te seën.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.