Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word: Moenie bang wees nie, Sion, moenie jou hande moedeloos laat hang nie! Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stiltevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou. (Sef 3:16-17)
Watter beeld het jy van die God van die Ou Testament? Is Hy dalk die lastige Loerbroer, of die genadelose Regter, of die gevreesde geheime Agent wat jou diepste geheime oopvlek, of sommer net ’n God wat jy moet vrees? Baie mense sit vasgevang in so ’n vreesaanjaende godsbeeld. Maar hoe verkeerd is hulle tog nie! Ja, dis waar dat die Ou Testament in ’n geheel ander atmosfeer afspeel as die Nuwe Testament. In die Ou Testament word die kontras tussen lig en duisternis, die ryk van God en die ryk van die Bose in skelhelder kleure van die skilder se kwas uitgebeeld. God haat sonde. En mense wat sonde kies, kies ’n oordeel oor hulleself. Hierdie byna surrealistiese uitbeelding van die verwoestende gevolge van sondeslawerny was nodig om die krag van die kruis in die Nuwe Testament na behore te waardeer.
En dis waarheen ons teksvers vooruit wys! Die God van die Ou Testament is dieselfde God wat sy Seun gee sodat elkeen wat in Hom glo, gered kan word. En dis dieselfde God wat reeds in die Ou Testament vir jou glimlag, met deernis na jou kyk, vir jou sy oneindige groot liefde verklaar. Hy is bly oor jou. Want jy is die Jerusalem waarna daar verwys word, die nuwe Jerusalem wat bestaan uit kinders van God, almal wat by die kruis die volle impak van God se liefde ervaar en aangegryp het.
Moenie bang wees nie; God is stil-tevrede in sy liefde vir jou.
Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy