Wat definieer jou identiteit?

identiteit

Argieffoto.

Soms beleef ek dit dat almal in Suid-Afrika al minder wil wees wie hulle is en al meer wil wees wat hulle dink hulle moet wees.  Asof eie identiteit iets is wat jy kompleet nuut moet skep en nie moet begin by dit wie en en wat jy is nie.  ʼn Eenvoudige waarheid is dat eie erkenning van identiteit wesenlik belangrik is voordat jy begin met waarheen jy eintlik wil gaan en wie jy wil word.

Wie alles vir almal wil wees, word niemand vir niks.  Dit is ʼn groot waarheid.  Identiteit is sekerlik een van die belangrike sake wat ʼn mens in jou lewe moet uitsorteer.  Identiteit lê in wie jy is en waarheen jy oppad is.  Dit raak jou hele bestaan:  Watter taal jy praat,  by watter universiteit jy studeer. By watter skool jy jou kinders inskryf.  By watter geloofsdenominasie jy jou voeg.  Vir watter politieke party jy stem.  Hoe jou vriendekring lyk en waar jy jou geld bestee.  Taalidentiteit, kultuuridentiteit, geloofsidentiteit, landsidentiteit, kerkidentiteit – waarom is ons so bang om te wees wie ons is?  Waarom die geweldige dryfveer om te word wie ons nie is nie?  Hoekom so ʼn alewige gestoei vir ʼn masker-bestaan van ʼn verskuilde identiteit?

Deesdae word ons gekonfronteer met ʼn ander masker.  Almal wil niemand wees, wil alles en almal offer en ʼn identiteitlose individu, groep en massa word.  Ek is oortuig daarvan so ʼn beskouing lei na een groot niks.  Geen lyn is ook ʼn grens – dit is ʼn lynlose grens.

Maar weer, onthou:  wie alles vir almal wil wees word niemand vir niks.

Dit is miskien die grootste krisis in Suid-Afrika dat almal alles vir almal wil wees.  Jammer, maar jy kan nie.  Eie-identiteit is absoluut noodsaaklik.  Jy kan eers besef hoe nodig Zoeloe vir die Zoeloe is en Xhosa vir die Xhosa as jy weet wat Afrikaans vir jou beteken.  Jy kan eers opstaan vir ʼn ander se reg as jou eie reg ook vir jou belangrik is.  Jy kan eers ander se belange beskerm as jy jou eie belange ook kan beskerm.  Daarom het ek maar min begrip vir ʼn moderne geslag identiteitverloëners.  Wie iets vir iemand anders wil en kan beteken, moet weet wie hy in homself is.

Dis interessant hoeveel mense dink identiteit is juis identiteitsloosheid.  Almal moet niks en niemand word en dan begin ʼn mens saamwerk.  Dit is ongelukkig onmoontlik.  ʼn Mite. As jy eers niks word, gaan jy met niemand oor niks kan saamwerk nie.  Jy werk die beste saam met mense wat weet wie hulle is.  Mense wat niks is nie en vir wie niks belangrik is nie, het niks om voor te staan nie. Vir my is dit altyd interessant hoe mense wat voorstaanders is van identiteitsverloëning, skielik omswaai en krampagtig vashou as te naby aan hul eie binneruimte gekarring word. ʼn Gekarring wat verhinder kon word as daar aanvanklike karaktervolle integriteit-identiteit beskouing was.

Miskien is ons besig om elke dag ons lewens te vermors deur ʼn kunsmatige bestaan te skep om mense te word wat ons nie bedoel is om te wees nie.

My moontlike lys van die belangrikste vrae wat ons sal moet kan antwoord:

Wie is jy? Wie is ons? Wat is jou grense?  Waar lê jou lyne? Wat is jou identiteit?  Wat definieer jou?  Wat definieer jou nie?

Hoe wonderlik sal dit wees as ons in Suid-Afrika eers hierdie vrae kan beantwoord voordat ons saam toekomsbeplanning doen? Moet ons niks word voordat ons iets kan beteken? Of moet ons wees wat ons is en dan daarvandaan ʼn toekoms bou?

As ons weet wie ons is, sal ons weet waarheen ons op pad is.

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Ds. Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van die Gereformeerde Gekombineerde Skool Dirk Postma in Pretoria se Moot-omgewing. Hy is ook die skrywer van die boek, Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Puik, Hannes Noëth! ‘n Treffende stuk wat ook sommer deur al die sg. Afrikaanse meningsvormers gelees behoort te word. “Identiteitverloëners” is ‘n woord wat aan heeltemal te veel Afrikaanssprekendes herinner.

Johann Marx ·

Wat ‘n klomp niksseggende gemompel….oor niks. Ek kan myself “identifiseer” net met wie ek wil, na aanleiding van my omstandighede, en selfs ter wille van oorlewing. Maar voor ek dit kan doen moet ek “karkakter” hê.

Bok-Bok ·

Mooi gesê Johann. Party van ons met sogenaamde identiteite kan darem gorrel en tjommel en blaas. Jy sal sekerlik weet wie jy is wanneer dit die dag gaan om oorlewing – werklike hou of vou. Tot dan kan ons maar selfies neem en pronk tot die koeie huis toe kom oor wie en hoe wonderlik ons is.

chrisp ·

Baie dankie wat ‘n raakvat stuk.
Ek kan werklik nie verstaan hoekom mense wil aanhou om hierdie(alles vir almal) mite na te jaag nie.
Verder ook dat mense aanstoot neem by juis mense, volkere,gelowe,instellings ens wat weet wie en wat hulle is en waarvoor hulle staan.Dan kom hierdie (alles vir almal) voorpraters soos Max du Preez,Piet Croucamp en meer onlangs Skarrelkind en wil hulle sienswyse op hierdie instellings of groepe afdwing sodat hulle moet verander tot dit hulle sieninge pas .
Hierdeer kan ek mos bv as Christen by ‘n moskee aansluit en aandring op ‘n kersdiens in die moskee.Dit is eintlik belaglik.

Die mense in RSA probeer grootliks hulle identiteit verloor vir juis so ‘n alles vir almal bestel deur veral engels te gebruik as ‘n gemene deeler. Dit is egter kunsmatig en sal nie lank bestaan nie.Groepe beweeg maar weer terug in hul groeperings daarvan getuig baie lande in Europa selfs in die ou USSR ook.

Dit is so waar wat jy se “Jy werk die beste saam met mense wat weet wie hulle is.” Hierdie mense het ek in Afrika ook beleef. Hulle is trots op hulle volk en daarom op hul werk ook ( wil deur swak werk nie die volk se naam verswak nie).

SkarrelKind ·

chrisp, jy doodbenoud is as iemand nie presies is soos wat jy wil hê hulle moet wees nie. Vrees vir die vreemde, onbekende of verandering. Nee man!

En jy lees sonder begrip en saal dan ‘n mank perd op wat jy ry en ry en ry. Sonder dat jy korrek weergee wat ek bedoel het met my skrywe.

Hou op om bang te wees omdat daar mense is wat anders as jy is. Gun almal hulle plek in die son en probeer jou horisonne so bietjie verbreed. Ons het nie gaan stilstaan as ‘n nasie nie – wel ons het – maar ons moet probeer om aan te pas en te oorleef.

Ek weet wie ek is, en nog altyd sal ek poog om verdraagsaam te wees – ongeag hoe jy dit verdraai en my beskuldig dat enige iets hier wil “afdwing”.

Mediavryheid laat my toe, binne perke, om ook my mening te lug, al hou jy niks daarvan nie en verdraai jy my seining om my iets te maak wat ek nie is nie.

As jy regtig die begrip “identiteit” verstaan het, sou jy glad nie die nodigheid gesien het om so groot bohaai te maak oor ‘n ander se mening nie.

Henry ·

Ek weet nie waarom daar so ‘n ge-gorrel en temery is oor wat en wie ‘n Afrikaner sou wees nie. Of ‘n siel kwansuis vrede gemaak het oor sy/haar se sogenaamde identiteit nie.

Lees gerus die bydrae onder die opskrif – My trots, my taal Afrikaans, wat ‘n 10 jarige genaamd Tasrique Patrick – kort, kragtig en in die kol kwytraak.

Bok-Bok ·

In die kol, Henry. Ek het ‘n broertjie dood aan hierdie ‘intellektuele’ gekarring in ‘n poging om mekaar te beindruk – lyk my die Afrikaner glo nog steeds inherent dat hy dom is. Klein Patrick vat dit vas doodeenvoudig, doodeerlik, doodreg. En hy sit nie hope grade agter sy naam om te wys hoe oulik hy is nie.

Skim ·

Johann Marx – jy kan jouself identifiseer maar daar is ‘n meningte wat nie kan nie. Die “gemompel” sal juis diegene wat hulleself nie kan identifiseer nie, aan die dink sit.

Alida ·

Jy kan ‘n ui se lowwe aftrek, maar hy bly steeds ‘n ui.

rietrot ·

Ons almal weet die lewe is ʼn kliek spul eerstens en dan kom groepsdruk of die so genoemde Alpha mentaliteit. Of die “eie ek” god kompleks. Dis raar dat jy die alleenloper wolf kry met sy eie denke en persoonlikheid, ʼn persoon wat nie voorgee nie en nie sy “ego” op blaas met kleinighede nie.

Henry ·

Dankie Bok-Bok.
Ja die gorrelaars en temers wat heelvoor draf is gewoonlik die piete en pietinne wat kort na skool hul in die Gorrel en Teem studierigtings bekwaam.

Indien jy nie die antwoord ken nie, dan be-gorrel en be-teem jy die ding dat g’n iemand uiteindelik kop of stert* verstaan wat jy wil sê nie.

Uiteindelik en na nog ‘n spul ge-gorrelry word die deurlugte besluit geneem dat die gorrelaar wat nie die antwoord geken het nie, eintlik ‘n nuwe “Waarheid” raak ge-gorrel het. ‘n Nuwe “Waarheid” waaroor ons opnuut en vanuit ‘n heel ander hoek kan gorrel en kekkel.
En da’ gaat ons!!!

*Swaar ge-sensor.

Bok-Bok ·

Ai, hoekom het j Maroela Henry se epos swaar gesensor? Net wanneer mens lekker warm word gooi hierdie Swaer Sensor water op jou vuur.

Suné van Heerden ·

Dagsê Bok-Bok

Die woorde “swaar gesensor” is iets wat Henry self getik het. Maroela Media wysig nie enige kommentaar nie. Wanneer kommentaar afgekeur word, word dit van die webwerf verwyder, nie “gesensor” nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Henry ·

Bok-Bok
Dankie pel. Maroela is onskuldig. Is ek wat myself sensor. Kan mos nie voor die kjeenirs sê wat ek eintlik wil sê nie, nou sê ek dit maar op ‘n ander manier!
:-)

Therese van Schalkwyk ·

Henry, ek sien jy sukkel ‘n bietjie. Vra gerus, enigeen van ons sal tyd maak om vir jou te probeer verduidelik:

Hierdie is beslis nie net nóg ‘n gegorrel oor Afrikaner-identiteit nie. Almal van ons deel jou geïrriteerdheid daarmee.

Die skrywer vat na my mening álmal vas wat deesdae alle waardes oorboord gooi en ‘n ‘alles-is-maar-oraait- houding’ het. Sonder ruggraat en integriteit is ‘n mens bloot ‘n “people pleaser” vir wie niemand op die ou end respek het nie.

Henry ·

Theresa
Ek was gelukkig om van kleinsaf in die omgewing van ouers, familie en pelle te leef, wat ons onderskeie identiteite met ‘n lied in die hart beleef en geniet. Ons Afrikaner identiteit word dikwels aangeval en bedreig, maar soos my voorouers dit gedoen het, stap ons aan deur die stowwe, geduldig, maar nooit te gedienstig of te gedweë nie.

Soos die 10 jarige Patrick hiernaas geen twyfel oor sy Afrikaner identiteit het en wat hy so kort en kragtig beskryf, het die mense rondom my ook nie ellelange gorrels nodig om hul eie identiteite onder die knie te kry nie.

So. Moenounie jou kop breek oor my ge-sukkelry nie. Om ons identiteite uit te leef, te beskerm en te wat ookal, laat nie tyd en ruimte oor vir allerlei ou bekende slimmighede en gorrels nie.
Liw wif iet.

Bok-Bok ·

Maroela – hoekom plaas julle nie daai stuk van my oor Willem en Willemien nie? Is ons sensitief, huh?

Loeis ·

Ek het ‘n aantal jare gelede by UNISA aan ‘n navorsingsprojek gewerk wat oor groepsidentiteit handel. Die studie het reeds in die 1970’s begin.

Wat opmerklik was, is dat die resultate van daardie jaar (2003) nie veel van die 70’s se resultate verskil het nie.

Mense van alle rasse en taalgroeppe het aan die studie deelgeneem en ras is die grootste faktor waaraan mense hul groepsidentiteit meet. Dit word dan verder aan taal gekoppel. Swart Suid-Afrikaners rapporteer eintlik verbasend nie-rassisties, maar voel dikwels dat hulle Zulu’s, Xhosa’s of ander is. Dit maak dit ironies dat swart kiesers grootliks ‘n rasbehepte party ondersteun. Dalk sy beleid wat hulle bevoordeel?

Blankes se blanke identiteit is vir ons baie belangrik. Wat ook interessant is, is dat wanneer ‘n persoon hom/haarself as “White English” beskryf, jy maar kan weet dat hul ‘Outgroup’ “Afrikaners” is, wat hulle dan as dikwels met meer afkeur beskryf as wat swart Suid-Afrikaners doen.

Klasverskille begin wel sy gesig te wys. Maar oor een ding droom Tutu: die reenboognasie is ‘n mite.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.