Soorte resepte:

2020 beloof goeie oesjaar vir SA wyn

Nederburg voorspel ‘n goeie oesjaar vir Suid-Afrika (Foto: Verskaf)

“Geurig en lieflik, maar kort.” Só som Niël Groenewald Nederburg se 2020-oes op.

Groenewald, besturende direkteur van dié bekende wynkelder, sê vanjaar se plukseisoen was ʼn volle twee weke korter as gewoonlik. Die wingerd- en kelderspanne moes dus hul storie ken om die gladde ontvangs en verwerking van die druiwe te verseker.

“In Januarie was dit ʼn kwessie van vat en los, met die lewering van druiwe wat nie behoorlik op dreef gekom het nie. In die meeste gebiede is dit gevolg deur ʼn onderbreking van twee weke waartydens almal gewag het vir die druiwe om optimaal ryp te word,” vertel Groenewald.

“Van begin Februarie het die toenemende lewering van druiwe by die kelder ons heeltyds op ons tone gehou. Met die pluktyd wat al korter en besiger geraak het, moes ons ten nouste as span met mekaar saamwerk.”

Groenewald sê hulle is dankbaar teenoor die owerhede vir toestemming om klaar te pluk ondanks die instelling van die staat van inperking.

“As gevolg daarvan kon al die druiwe tydig en in goeie toestand by die kelder gelewer word waar ons kernpersoneel al die nodige veiligheids- en sanitasievoorskrifte tot in die kleinste besonderhede nakom om risiko tot die minimum te verlaag en die welstand van elke lid van die span te verseker.”

Niël Groenewald (Foto: Verskaf)

Hy vertel dat Nederburg tans besig is met die gistingsproses van die laaste druiwe asook die aftap van die wyn. Hulle tap ook veral die rooiwyn in vate, “aangesien die oes klaarblyklik nog nie verby is bloot omdat die druiwe klaar gepluk is nie,” sê hy.

Groenewald glo hulle word vir die druk met die oes beloon met gesonde, goed-gebalanseerde druiwe, met gekonsentreerde geure en ʼn lewendige suur en, onder die rooies, diep, digte kleure.

“Vanjaar se cabernet sauvignon is wonderlik: ryk, swart korrels, sonder selfs ʼn suggestie van groenigheid, pragtig vol, met sagte tannien. Die sauvignon blanc vertoon sy tropiese eienskappe ten beste terwyl die chenin blanc bloot uitsonderlik is – lewenskragtig en met so ʼn helder evokasie van die oes.”

Volgens Groenewald word klei-amforas vir die bereiding van deel van die chenin blanc gebruik om dit ʼn verhoogde frisheid en ʼn meer intense mondgevoel te gee. Hierdie wyn sal mettertyd onder die Heritage Heroes-handelsmerk gebottel word.

Hy sê die oggendmis wat later in die dag deur die herfsson verdryf is, het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van edelvrot, ʼn belangrike eienskap van sekere van Nederburg se befaamde dessertwyne.

“Die wingerde het oor die algemeen egalig gebot terwyl die druiwe oor ʼn lang tyd egalig ryp geword het – presies wat ʼn mens graag wil hê. Die reën het gekom toe ons dit wou hê terwyl die wind, hoewel by tye redelik hewig, siektes weggehou en die wingerde help afkoel het.”

Die 2020-oes was einde Maart afgehandel. Die gemiddelde opbrengs was 9 ton per hektaar, wat ʼn verbetering op 2019 is.

“Die trosse was dalk ʼn bietjie groter en die grootte van die korrels was na aan ideaal, met ʼn goeie dop-tot-vrug-verhouding. Na verskeie moeilike jare van droogte en die eise wat dit gestel het om die impak daarvan selfs na die eerste reën te bestuur, was hierdie jongste oesjaar ons veel beter gesind. Daarom glo ek ons kan uitsien na talle heerlike wyne in die 2020-oesjaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.