Soorte resepte:

Chenin eintlik behoorlik hier gevier

(Foto verskaf)

Dis Internasionale Chenin Blancdag op 17 Junie, maar dis eintlik hier in Suid-Afrika waar dié kultivar behoorlik gevier kan word, veral nadat Ken Forrester – wat ook gereken word as mnr. Chenin – se Old Vine Reserve Chenin Blanc 2021 enkele dae gelede aangewys is as die wêreld se beste chenin blanc, skryf Maryke Roberts.

Die “Best in Show” by die 2022 Decanter World Wine Awards 2022 deur een van die wêreld se gesaghebbendste wynpublikasies wat in Brittanje gesetel is, is ʼn reuse pluimpie vir Suid-Afrika.

Die Decanter-proenota oor Ken se chenin lui: “Ons het al chenin blanc-gebaseerde wyne van die Loire in ons “Best In Show”-seleksie gehad, maar nog nooit ʼn chenin van die land wat meer van hierdie variëteit geplant het as enige mededingende nasie nie: Suid-Afrika. Dit het vanjaar verander met hierdie stylvolle chenin van Stellenbosch. Die soms té vlesige, oorgemaakte styl wat in die verlede met ambisieuse Kaapse chenins geassosieer is… ʼn uitstaande chenin, ʼn perfekte voorbeeld van die variëteit en as ʼn Stellenbosch-klassieke wyn.”

Irina von Holdt, Kaapse wynmeester en eienaar van Old Vines Wine Cellars. Hier is sy in Vouvray waar sy ingelyf is saam met ander Chenin-produsente in Julie 2019. (Foto verskaf)

Ken het sedert hy sy wynkelder in 1994 buite Somerset-Wes begin het, hom beywer vir kwaliteit chenin van wêreldgehalte.

Die druif-variëteit het ook vanjaar sy eie kongres wat in November in Suid-Afrika gehou word.

Waar kom chenin vandaan, hoekom pryk dit nou in die wingerde van 23 lande en het dit die wêreld se 26ste mees aangeplante variëteit geword, wat iewers tussen 33 000 ha en 36 000 ha beslaan?

Die verduideliking van Ken – nie net wêreldkampioen-wynmaker nie, maar ook voorsitter van die Chenin blanc-vereniging – werp dalk lig: “

Chenin blanc het soveel nuanses – afhangend van presies waar dit verbou word en só besef ons dat chenin blanc dalk die heel beste ‘vertaler van terroir’ is. Die feit dat dié ‘vertaling’ so subtiel kan wees, soos ʼn pragtige stuk musiek vir klavier geskryf en sensitief vir viool getransponeer is, is presies die manier waarop chenin blanc die nuanses van unieke geure aanneem en ons vertel waar dit geplant is.

“Proe die staalagtige mineraliteit van Savennières; of die ryk amper-heuning- en appelkarakter van Vouvray; die fyngemaakte en gebakte appel van Stellenbosch; en die amper wasagtige mineraalsuiwerheid van Swartland, en honderde variante in verskillende gronde en klimaat en hoogte wat tussenin voorkom!

Dit is die ware kompleksiteit van chenin wat dit so spesiaal, so uniek maak, sowel as die ongelooflike potensiaal vir veroudering,” vertel hy liries.

Dit is miskien hierdie verkleurmannetjie-karakter van die kultivar én sy geskiktheid vir Suid-Afrikaanse toestande, wat dit toegelaat het om te floreer sedert hy die eerste keer aan ons kus geland het.

Decanter het chenin in vorige skrywes só beskryf: “Chenin blanc in sy mees klassieke vorm in die Loire-vallei is vol blom- en heuninggeure en kweper- en appelagtige geure met goeie suur. Wanneer dit koel gegis word, soos in soveel gevalle in Suid-Afrika, kan dit taamlik peeragtig wees en meer perskeagtig word in voller droë wittes.”

Rosa Kruger, Old Vine Project-stigter, saam met André Morgenthal (OVP-bestuurder). (Foto verskaf)

Ek lees op Chenin Blanc se webwerf – die bedryfsliggaam wat dié kultivar bevorder: Chenin blanc het ʼn lang geskiedenis. Daar word vermoed dat dit so lank gelede as die negende eeu in die Anjou-streek van Frankryk gevestig is en was waarskynlik toe bekend as Chenere. Die variëteit is in die 15de eeu herdoop na chenin blanc, na Mont Chenin, kort nadat dit na die Touraine-streek in die Loire-vallei uitgevoer is.

Carolyn Martin, mede-eienaar van Creation Wines in die Hemel-en-Aarde, wat ook baie bekend is vir hul chenins. (Foto verskaf)

Ina Smith, Chenin Blanc-vereniging se bestuurder, vertel navorsing van prof. JC Orffer, wingerdboukundige-hoof aan die Universiteit Stellenbosch in die sestigs, bewys dat chenin blanc ook plaaslik ʼn lang en interessante geskiedenis het – al was dit vir drie eeue ietwat onbekend.

Dit was glo een van die eerste wingerdsteggies wat in 1655 in die tyd van goewerneur Jan van Riebeeck hier aangekom het. Hy wou druiwe aan die Kaap plant, om die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) geld te spaar om nie Spaanse wyn aan te koop en te vervoer nie. Aangesien Nederland glad nie wingerde gehad het nie, het hulle hul na hulle bure gewend vir steggies.

“Vroeë dokumente verwys na groendruif (semillon), hanepoot, muskadel, riesling, pontac, fransdruif en steen (vandag chenin). Dit blyk dat die oorsprong van die name fransdruif en steen vervleg is en fransdruif vernoem is na die land waarvandaan dit gekom het. Daar is ʼn teorie dat die naam ‘steen’ ontwikkel het toe die Nederlanders aan die Kaap, ‘listan’ verbuig het na ‘la stan’, toe na ‘de steen’ en uiteindelik ‘steen’,” verduidelik prof. Orffer se skrywes.

Carolyn Martin, mede-eienaar van Creation Wines in die Hemel-en-Aarde, wat ook baie bekend is vir hul chenins, skryf in haar wynblogs met die bekendstelling van die plaas- en streek – se eerste koel-klimaat chenin: “Dit was eers in die vroeë 1960’s dat prof. Orffer dit uiteindelik as chenin blanc en niks anders as chenin blanc verklaar het nie!”

Prof. Orffer het die wingerdblare van steen en chenin vergelyk en bevind dis nog heeltyd dieselfde kultivar.

Sy skryf voorts: “Daar is geen twyfel nie, chenin het sjiek geword! Ja, daardie ou staatmaker wat al bestaan ​​sedert die eerste wingerde in Suid-Afrika geplant is, het uiteindelik sy regmatige plek as edel kultivar bereik en is vandag onder die top-presteerders. Al hoe meer toegewyde wynmakers maak voorsiening vir ʼn toenemende aantal wynliefhebbers wat ʼn goedgemaakte chenin kies.

“Tog het chenin in Suid-Afrika deur die grootste deel van die 20ste eeu ʼn werkesel gebly. Dis wyd aangeplant; dikwels oorgeproduseer; en in baie gevalle tot ‘stookwyn’ vir die produksie van brandewyn afgewentel. Sy bloeitydperk moes nog kom.

“Hier kom die Chenin Blanc-vereniging, wat in 2000 gestig is, in die prentjie en begin die wonderlike potensiaal van die kultivar te bewys en om te verseker dat Suid-Afrikaanse Chenin Blanc sy regmatige plek met die ander groot witwyne van die wêreld inneem. Verbeterings in die wingerde en die kelder was aan die orde van die dag, met al hoe meer produsente wat chenin as hul vlagskipwyn gekies het.”

Dis egter vandag steeds die gewildste druifkultivar vir brandewyn-stokers.

Ken Forrester Old Vine Reserve Chenin Blanc 2021 wat as die wêreld se beste aangewys is. (Foto verskaf)

Irina von Holdt, Kaapse wynmeester en eienaar van Old Vines Wine Cellars, skryf in ʼn opsomming oor chenin se plaaslike geskiedenis in ʼn praatjie wat sy in 2019 by die eerste Chenin-konferensie in Angers, Frankyk, aangebied het: “Uiteindelik, op 2 Februarie 1659, is die eerste druiwe van drie jong wingerde gepars, wat na bewering twee jaar oue wingerde is wat dus in 1657 geplant moes gewees het, waarskynlik dié van die skepe, Dordrecht en Parel. ʼn Baie beskeie totaal van 12 mengele is behaal – sowat veertien en ʼn half liter!

(Foto verskaf)

“Die druifsoorte is steendruif genoem, nou bekend as chenin blanc, en hanepoot, of Muscat d’Alexandrie wat toe Spaanse druiwe genoem is, alhoewel daar geen rekord was van wingerde wat uit Spanje ingevoer is nie.

“Laasgenoemde is opgemerk as taamlik groen en onryp, wat verwag kan word aangesien dit ʼn laat ryp variëteit is terwyl vroeg in Februarie korrek vir chenin sou wees. Vermelding van die naam ‘steendruif’ sou aanleiding gee tot ʼn rampspoedige verwarring wat vir 300 jaar geduur het voordat dit finaal in 1963 opgelos is.

“Teen 1660 het Van Riebeeck genoeg vertroue in sy wingerdstokke gehad, om instruksies te gee vir drie wingerde om op Robbeneiland geplant te word – bloot vir die versiering van huise en mure en daar was ook eksperimentele aanplantings van druifpitte wat matige sukses behaal het.

“Teen die tyd dat Van Riebeeck die Kaap in 1662 verlaat het, het hy etlike honderde wingerdstokke by Bosheuwel goed gevestig gehad – in stryd met opdragte van die Here XVII dat amptenare nooit met die boere op die ope mark mag meeding nie.

“Miskien was die wingerde bedoel om in sy persoonlike behoeftes te voorsien? Kommandante Wagenaar en Quaelberg wat Van Riebeek opgevolg het, het gelukkig in sy voetspore gevolg met private wingerdstokke, hoewel Bosheuwel in 1665 aan ene Jan van Roosendaal verkoop is.”

Terug by die hede. Interessante statistieke is dat daar aan die einde van 2021 volgens Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en Stelsels (SAWIS)-statistieke 16 827 ha chenin blanc in Suid-Afrika was uit 92 005 ha in totaal.

Hiervan is die Breedekloof, Olifantsrivier en Paarl, met Swartland ʼn kortkop agter, die vier grootste chenin-produserende wynstreke. Ons uitvoere vir dieselfde periode was 53 078 606 liter, met Duitsland ons grootste uitvoermark en Engeland en Amerika onderskeidelik in tweede en derde plek.

ʼn Lang pad sedert daardie 1662-getalle.

Wat my oog egter die meeste trek van al die statistieke, is die ouderdomme van hierdie wingerde: 1 407 ha is ouer as 40 jaar; 3 827 ha ouer as 30 jaar en 3 644 ha ouer as 20 jaar. Dit bring jou by 8 878 ha, wat meer as die helfte van die totale aanplantings is.

Onder Suid-Afrika se unieke Old Vine Project wat poog om erfeniswingerde ouer as 35 jaar te bewaar, beslaan chenin blanc verreweg die meeste hektaar per kultivar in Suid-Afrika – in 2021 ʼn totaal van 2 074 ha, gevolg deur 429 ha sauvignon blanc.

Suid-Afrika se oudste chenin-blokke staan in Stellenboch, een van 1,37 ha wat in 1942 geplant is, en nog een van 1,55 ha wat in 1947 geplant is.

Die Old Vine Project, ʼn sertifiseringstelsel waarvolgens lede-wingerde ouer as 35 jaar ʼn spesiale seël op die bottelnek kan dra, het tans byna 130 lede.

Rosa Kruger wat die OVP-projek amptelik in 2016 geloods het, maar reeds van 2002 na die land se oudste wingerde begin soek het, sê “Ou wingerde is ʼn wonderlike bron van kennis vir wetenskaplike navorsing in ons begrip van plante en die verouderingsproses van wingerdstokke, veral in hierdie uitdagende tyd van klimaatsverandering.”

Ina voeg by: “Terwyl die meeste Suid-Afrikaanse chenin blanc-wyne steeds in ʼn vars en vrugtige styl gemaak word, is dit besig om te verander. Al hoe meer produsente fokus op volwasse bosstokke. Die mees intens gegeurde chenin blanc-wyne kom van ouer wingerde wat sorgvuldig bestuur is vir gebalanseerde opbrengste.

“Hulle snoei dit dramaties om opbrengste te verminder, die druiwe ryper te pluk en dikwels eikehoutgisting en -veroudering in te bring. Chenin blanc is ʼn baie responsiewe variëteit – dit sal in die bottel teruggee, wat die wynmaker in die wingerd en in die kelder gesit het.”

En dis presies wat Ken Old Vine Reserve Chenin Blanc 2021 aan die wêreld bewys het.

Klink saam ʼn glasie op hierdie bekroonde variëteit se sukses – 363 jaar nadat dit die eerste maal aan die Kaap gemaak is.

Die 2021 Standard Bank Chenin Blanc Top Tien Uitdaging se wenners.

Kitsfeite:

  • Chenin Blanc SA het pionierswerk gedoen om ʼn aromawiel vir die kultivar saam te stel. Lees die berig oor hoe die aromawiel in verskeie inheemse tale vertaal hier op Maroela Media.
  • Die Chenin Blanc Internasionale Kongres word van 1-3 November op Stellenbosch gehou. Meer inligting is by www.chenincongress.com te kry.
  • Chenin Blanc SA wys jaarliks die land se top 10 chenins aan. Vanjaar se aankonding word aan die einde van Augustus gemaak. Hierdie kompetisie, in samewerking met Standard Bank, vereer die opkomende en gevestigde chenin-kampioenwynmakers van die land.
  • Die 2021 Standard Bank Chenin Blanc Top Tien Uitdaging se wenners is in alfabetiese volgorde: Bellingham The Bernard Series Old Vine Chenin Blanc Limited Release 2020; DeMorgenzon Reserve Chenin Blanc 2020; DonkiesBaai Steen 2020; Ken Forrester Terre Noire Chenin Blanc 2020; Kleine Zalze Wines Vineyard Selection Chenin Blanc 2020; Kleine Zalze Wines Family Reserve Chenin Blanc 2020; Le Belle Rebelle Solitude Chenin Blanc 2020; Lievland Vineyards Old Vine Chenin Blanc 2020; Simonsig Wines Avec Chêne Wooded Chenin Blanc 2019 en Stellenrust Old Bushvine Chenin Blanc 2020.

 

Die chenin blanc-aromawiel. (Grafika verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.