Soorte resepte:

Nog ’n hoogtepunt in SA wyngeskiedenis herdenk

Bennie Howard, een van die eerste drie Kaapse wynmeesters en organiseerder van die Eerste 14-geleentheid en Jan Booysen, voorsitter van die Afbakeningsraad: Wyn- en Spiritusraad. (Foto: Clifford Roberts)

Deur Maryke Roberts

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf herdenk verskeie groot mylpale: die maak van die eerste wyn aan die Kaap op 2 Februarie 1659; die stigting van die Ko-operatieve Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika (KWV) in 1918; die stigting van die land se eerste wynroete, die Stellenbosch Wynroetes in 1971.

Die nuutste viering was op 1 Junie, die viering van 50 jaar sedert die ‘Eerste 14’ geregistreerde wynlandgoedere, wat pioniers van die land se wynbedryf verteenwoordig, bymekaargekom het sedert die bekendstelling van die Wyn van Oorsprong-skema (W.O.) in 1973. Die WO-skema word internasionaal gereken as een van die beste van sy soort en het die weg vir baie wynproduserende lande gebaan om soortgelyke skemas te stig.

Hierdie geskiedkundige skema het die wetlike beskerming van Suid-Afrikaanse wynproduserende streke én die regulering van wyne van ’n spesifieke kultivar of oesjaar, bewerkstellig.

Die viering is by die Groot Constantia Landgoed – Suid-Afrika se oudste wynplaas – gehou. Verteenwoordigers van al 14 eerste landgoedere: Alto, Backsberg, Groot Constantia, Middelvlei, Meerendal, Montpellier, Muratie, Neethlingshof, Overgaauw, Simonsig, Theuniskraal, Twee Jongengezzelen, Uiterwyk en Verdun (nou Asara) was teenwoordig.

Verteenwoordigers van die Eerste 14-landgoedere in Suid-Afrika, glimlag voor die historiese kelder op Groot Constantia, Suid-Afrika se oudste wynplaas. (Foto: Clifford Roberts)

’n Paneelbespreking met André Matthee (voorsitter van die Wyn- en Spiritusraad), Christine Rudman (Kaapse wynmeester en wynbemarker), Johan Malan, uitvoerende hoof van Simonsig (een van die eerste wynkelders wat wyne onder hul eie etiket in 1968 gebottel het en waar Suid-Afrika se eerste vonkelwyn in die tradisionele sjampanje-styl in 1971 gemaak is) en Jean Naude (uitvoerende hoof van Groot Constantia) het ’n historiese proe van die afgelope 50 jaar se wyne van dié landgoedere voorafgegaan.

Die paneel het onder meer die belangrikheid van die WO-skema en die wynlandgoed-konsep en die pad vorentoe vir dié konsep in Suid-Afrika ondersoek. André Matthee het gesê dat die totstandkoming van die WO-skema deurslaggewend was in die behoud van die identiteit van Suid-Afrikaanse wyne en die verbetering daarvan. “Sonder die eerste 14 wynlandgoedere, sou die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie vandag gewees het waar dit is nie.”

Die WO-skema gee nie net aan wynkopers gemoedsrus oor gehalte nie, maar is ook ’n gewaarborgde sertifiseringstelsel van naspeurbaarheid, met ander woorde, waar die druiwe vandaan kom. Suid-Afrikaanse wynprodusente was met hierdie skema, die internasionale neigings van volhoubaarheid en naspeurbaarheid, etlike dekades vooruit.

Toe die WO-skema gestig is, is verskeie belangrike aspekte in ag geneem. Hieronder was voldoening aan Europese Unie-regulasies verseker, gegewe die groot hoeveelheid uitvoere van Suid-Afrikaanse wyn na Europa. Daarbenewens het die stelsel beginsels ingesluit soos eerlikheid in sakepraktyke, aanpasbaarheid by ontwikkelende bedryfstandaarde en ander faktore.

Volgens die jongste syfers van die Suid-Afrikaanse Wynbedryf-Inligting en -Stelsels (Sawis) is sowat 368,8 miljoen liter wyn verlede jaar na 130 lande uitgevoer, met Engeland ons grootste uitvoermark. Dit verteenwoordig ’n bydrae van R9,9 miljard tot die bruto binnelandse produk (BBP). Dit verskaf ook werk aan meer as 350 000 mense.

’n Paneelbespreking met Johan Malan (uitvoerende hoof van Simonsig), Christine Rudman (Kaapse wynmeester en wynbemarker), Jean Naude (uitvoerende hoof van Groot Constantia) en André Matthee (voorsitter van die Wyn- en Spiritusraad) is gehou. (Foto: Clifford Roberts)

Volgens Naudé verteenwoordig Suid-Afrikaanse wyn-uitvoere byna 50% van alle wyn wat in die land geproduseer word, wat dit die tweede grootste uitgevoerde landbouproduk naas sitrus maak.

Dié prentjie het in die vroeë sewentigerjare heelwat anders gelyk en Suid-Afrikaanse wyne is hoofsaaklik deur koöperatiewe kelders in grootmaat na Europa uitgevoer. Tussen 1970 en 1973 is bykans geen wyn na Engeland uitgevoer nie, omdat die wyngehalte van onafhanklike kelders nog onbekend was.

Die WO-skema, wat sedert sy stigting deur die Wyn- en Spiritusraad geadministreer word, is in 1973 amptelik ingestel en gepromulgeer in ooreenstemming met die Wet op Wyn, Ander Gefermenteerde Dranke en Spiritus van 1957. Die eerste 14 wynlandgoedere het daarna op 1 September 1973 wynlandgoed-status ontvang, wat gespesifiseer het dat druiwe op die landgoed gepluk, gepars, verwerk, verouder en gebottel moet word, soos gedokumenteer in die Staatskoerant nr. 1388 op 10 Augustus 1973. Die wetgewing het die afgelope 50 jaar verskeie male verander, maar die landgoed-verwysing op wyn-etikette is vir baie internasionale kopers ’n stempel van kwaliteit en herkoms.

Daar was verskeie opinies oor hoe goed die wynlandgoed-konsep onder verbruikers vaar en of dit werklik soveel gesag dra as wat landgoedere wil glo. Weens veranderinge in die wetgewing wat die oorspronklike riglyne verslap het om groter produksie toe te laat, het dié konsep dalk waarde onder verbruikers verloor, reken die internasionaal-gerekende wynbeoordelaar, Michael Fridjon.

Die enkelwingerd-wyne waar wyne uit spesifieke blokke of wingerdrye gemaak word, blyk dalk ’n beter manier te wees om in die toekoms naspeurbaarheid te verteenwoordig en sodoende die waarborg van kwaliteit te wees.

Bennie Howard, een van die eerste drie Kaapse Wymeesters en voorsitter van die reëlingskomitee van die Eerste 14-geleentheid, het gesê dis belangrik om die geskiedenis van hierdie skemas in ag te neem, as jy vir die toekoms beplan. Bennie is ook Meerendal se bemarkingsbestuurder.

As deel van die herdenkings is ’n spesiaal-ontwerpte logo, goedgekeur deur die Wyn- en Spiritusraad, bekendgemaak vir gebruik op alle wyne wat as landgoedwyne aangewys is.

  • Wyne van die Eerste 14, so oud as 1973, kon by die middagete geproe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.