Soorte resepte:

Resep-video: Bak brood in jou lugbraaier

Bak brood in jou lugbraaier. (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

Hierdie heerlike broodgereg sal jou beslis dié Vadersdag beïndruk.

Ja, jou lugbraaier kan brood bak! Vir hierdie brood benodig jy slegs vier eenvoudige bestanddele en dit is boonop nie eers nodig om die brood te knie nie. Dit is perfek vir toebroodjies om vir die week werk en skool toe in te pak.

Bestanddele

  • 1½ koppie meel, en ekstra om blad mee te besprinkel
  • 1 teelepel sout
  • 1 teelepel kitsgis
  • ¾ koppie water (kamertemperatuur)

Metode

  1. Meng die meel, sout, kitsgis en water goed met ʼn houtlepel in ʼn mengbak – die deeg sal taai en dig wees.
  2. Bedek die mengbak met ʼn vadoek en laat dit reis vir 2-3 ure totdat die deeg verdubbel in grootte.
  3. Plaas ʼn pan in die lugbraaier en voorverhit die lugbraaier tot 200 °C.
  4. Terwyl die lugbraaier warm word, bedek jou hande met meel en besprinkel jou werksoppervlak met ʼn bietjie meel.
  5. Verwyder die deeg liggies uit die bak en vorm dit rofweg in ʼn bal.
  6. Plaas die bal deeg bo-op ʼn stuk bakpapier en bedek met ʼn vadoek tot die lugbraaier warm genoeg is.
  7. Haal die pan versigtig uit die lugbraaier en plaas die deegbal met die bakpapier en al binne in die pan.
  8. Bedek die pan met foelie en sit dit terug in die lugbraaier om te bak.
  9. Bak die brood vir sowat 20 minute teen 200 °C.
  10. Verwyder die foelie ná die eerste 20 minute en bak dit dan verder vir sowat 10 minute of tot goudbruin. Die brood is gaar as dit hol klink wanneer jy daarop klop.

Al die Maroela-produkte wat jy in dié video sien, is in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie, beskikbaar. Klik hier om dié mooi produkte te koop en jou kombuis in ʼn plaaskombuis te omskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.