Soorte resepte:

Resep: Forel Benedict

Foto ter illustrasie. (Foto: Alice Pasqual/Unsplash)

Die tradisionele ‘Eggs Benedict’ verwys na geposjeerde eiers wat op ʼn Engelse muffin bedien word met ʼn skyfie ham en bedek met hollandaise-sous. In hierdie resep word die skyfie ham met pangeroosterde forel vervang.

Bestanddele

Geposjeerde eiers

  • ʼn skeutjie suurlemoensap
  • eiers

Pangebraaide forelfilette

  • 4 forelfilette van 150-200 g elk
  • sout en peper na smaak

Hollandaise-sous

  • 2 eiergele
  • 20 ml water
  • ’n knippie sout
  • 20 ml appelasyn of suurlemoensap
  • 100 g gesmelte botter
  • sout en varsgemaalde peper na smaak

Metode

Geposjeerde eiers

  1. Verhit ʼn kastrol water net-net tot by kookpunt. Laat dit liggies kook.
  2. Voeg ʼn skeutjie suurlemoensap by die water.
  3. Breek ʼn vars eier in ʼn koppie en glip dit vinnig in die water wat net-net prut. Kook die eiers sowat 3 minute lank om ʼn sagte maar romerige eiergeel te verkry.
  4. Verwyder die geposjeerde eier met ʼn gaatjieslepel uit die kastrol en verfris dit in koue water.
  5. Laat sak die eier net voor opdiening weer met ʼn gaatjieslepel in die pruttende water om deurwarm te maak.

Pangebraaide forelfilette

  1. Gebruik ʼn deegkwas om die filette liggies met gesmelte botter of olyfolie te smeer. Geur met sout en peper.
  2. Berei ʼn roosterpan voor en maak dit deurwarm. Braai die filette tot net-net gaar.

Hollandaise-sous

  1. Plaas die eiergele, water en sout in ʼn bak van vlekvrye staal en klits goed. Voeg ʼn paar druppels appelasyn of suurlemoensap by.
  2. Hou die bak oor ʼn warmwaterbad en gaan voort om die eiermengsel te klits totdat die eiers liggies gaar, verdik en romerig is.
  3. Verwyder die bak van die hitte en klop die botter geleidelik by. As die sous te dik raak, voeg ʼn paar druppels suurlemoensap by en hou aan om die botter by te voeg.
  4. As al die botter ingewerk is, geur met meer suurlemoensap, sout en peper.

Bron: Die Suid-Afrikaanse vis-en-seekoskookboek
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.