Soorte resepte:

Resep: Lamskerrie vir die fynproewer

Lamskerrie vir die fynproewer. (Foto: Lapa Uitgewers)

Jou gesin sal gaande oor dié kerriegereg wees.

Lewer 6–8 porsies.

Bestanddele

  • 2 kg stowelamsvleis of 1 kg ontbeende lamsvleis, van die boud of blad gesny
  • 15 ml sonneblomolie
  • 2 uie, grof gekap
  • 1-2 knoffelhuisies, gepars
  • 20 ml matige kerriepoeier
  • 2,5 ml sterk kerriepoeier (opsioneel)
  • 5 ml borrie
  • 1 ml fyn koljander
  • ruim knippie fyn kaneel
  • ruim knippie fyn komyn
  • ruim knippie fyn gemmer
  • 1 lourierblaar
  • 30 ml koekmeelblom
  • 100 ml tamatiepuree of 1 groot, ryp tamatie,
  • geskil en gekap
  • 50 ml appelkooskonfyt
  • 25 ml blatjang
  • 15 ml gemengde witasyn
  • 500 ml water of lamsaftreksel met water aangevul
  • 5 ml beesvleisaftrekselpoeier
  • 5 ml sout
  • 3 middelslag wortels, in repe gesny
  • 4-6 middelslag aartappels, geskil en in kwarte gesny
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • gekapte pietersielie

Gemengde witasyn

  • 750 ml (1 bottel) druiwe-asyn
  • 750 ml (1 bottel) wynasyn (spirit vinegar)
  • 250 ml water

Metode

  1. As stowevleis gebruik word, plaas die vleis en 250 ml water in ‘n kastrol en laat prut 45-60 minute tot die water drooggekook het. Giet die vet af en voeg nog 250 ml water by. Prut ‘n verdere 5 minute. Giet die vleisaftreksel in ‘n bakkie en verkoel of bevries om die vet te laat stol. Verwyder die vet en vul die sous met water aan tot 250 ml. Verwyder die losgekookte bene en enige oortollige vet en plaas die vleis eenkant tot benodig. As ontbeende lamsvleis gebruik word, sny die vleis in 2 cm blokkies en plaas eenkant.
  2. Plaas die olie en ui in ‘n swaar oondbraaipot en braai liggies tot sag. Voeg die vleis, knoffel, kerriepoeier, borrie, koljander, kaneel, komynsaad, gemmer en lourierblaar by. Braai stadig en roer vir 5-6 minute om die vleis liggies te verbruin.
  3. Roer die meelblom in en voeg die tamatie, appelkooskonfyt (en blatjang), water of vleisaftreksel, beesvleisaftrekselpoeier en sout by en laat opkook. Voeg die groente by, roer deurmekaar, bedek en prut bo-op die stoof of oondstowe omtrent ‘n uur lank by 160 °C of tot die vleis sag is en groente sag en die sous verdik is.
  4. Pas die geurmiddels aan en skep in ‘n geskikte opdienskottel. Bestrooi met pietersielie en sit stomend warm met gaar rys voor.

Gemengde witasyn

  1. Meng die bestanddele en bottel dit vir algemene gebruik.

Bron: Kerries
Uitgewer: Lapa

Deel van: Kos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.