Soorte resepte:

Resep: Lasagne met kaassous

Lasagne met kaassous. (Foto: Lapa Uitgewers)

Dié pastagereg is perfek vir jou gesinstafel.

Lewer 8 porsies.

Bestanddele

  • 500 g (2 bokse) lasagnevelle

Maalvleislaag

  • genoeg Clover Farmstyle-botter
  • 2 uie, gekap
  • 3 selderystingels, gekap
  • 30 ml (2 e) vars pietersielie, gekap
  • 700 g beesmaalvleis
  • 2 wortels, grof gerasper
  • 820 g (2 x 410 g-blikke) gekapte tamaties
  • 125 ml (½ k) rooiwyn
  • 100 g (2 x 50 g-blikkies) tamatiepasta
  • 10 ml (2 t) worcestersous
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 1 ml swartpeper
  • 30 ml (2 e) suiker
  • ekstra Clover Farmstyle-botter

Kaassous

  • 80 g Clover Farmstyle-botter
  • 80 ml (⅓ k) koekmeel
  • 750 ml (3 k) warm Clover-volroommelk
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • knippie rooipeper
  • 375 ml (1½ k) Clover-cheddarkaas, gerasper

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Smelt genoeg botter en braai die uie, seldery en pietersielie totdat die uie sag is.
  3. Voeg die maalvleis by en braai tot die maalvleis gaar en los van mekaar is.
  4. Voeg die wortels, tamaties, rooiwyn, tamatiepasta, worcestersous, sout, peper en suiker by.
  5. Laat prut oor medium hitte vir 20 minute sonder ’n deksel sodat van die vloeistof kan verdamp.
  6. Smeer ‘n diep oondbak van ongeveer 32 cm x 22 cm goed met botter.

Kaassous

  1. Smelt die botter en koekmeel saam in ʼn kastrol.
  2. Giet die warm melk bietjie-vir-bietjie by terwyl die witsous met ʼn ballonklitser geroer word. Hou aan roer tot al die melk bygevoeg is.
  3. Laat kook vir 2 tot 3 minute tot die witsous verdik is. Haal van die stoofplaat af. Roer die sout, rooipeper en 250 ml (1 k) van gerasperde kaas by.
  4. Skep ʼn bietjie van die witsous op die bodem van die gesmeerde oondbak.
  5. Pak lasagnevelle op die bodem van die hele bak.
  6. Skep ʼn derde van maalvleismengsel bo-op, gevolg deur ʼn lagie lasagnevelle en witsous. Herhaal hierdie lae nog twee keer sodat lasagne drie maalvleis-lae het.
  7. Sprinkel die oorblywende cheddarkaas bo-oor en bak vir 40 minute of tot die toetspen deur die lasagnevelle kan steek.
  8. Sit warm voor saam met ʼn slaai.

Bron: Onthoukos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.