Soorte resepte:

Resep: Spanakopita met sampioene

Spanakopita met sampioene. (Foto: verskaf)

Geniet die smaaklike spanakopita met sampioene saam met jou kuiermense tydens ʼn familiebyeenkoms of sommer net vir die lekkerte.

Bedien 8-10

Bestanddele

  • 200 g preie, in ringe gesny
  • 4 knoffelhuisies, dun gesny
  • 400 g spinasiebeet, grof gekap
  • ± 1 styfgepakte koppie gemengde kruie, grof gekap (origanum, vinkel, pietersielie, basiliekruid en kruisement werk goed)
  • 60 g parmesaankaas, gerasper
  • skil van 1 groot suurlemoen
  • 3 groot plaaseiers
  • 200 g fetakaas
  • 400 g portabellini-sampioene, in skywe gesny
  • 6 velle fillodeeg
  • 1 e gemengde sesamsaad
  • olyfolie
  • sout en peper na smaak
  • vars vinkeltakkies vir bediening
  • gietysterpan van ±26 cm in deursnee

Metode

  1. Verhit ’n redelike hoeveelheid olyfolie in ’n groot gietysterpan of buffetoondbak.
  2. Voeg die preie en knoffel by en soteer tot sag en geurig.
  3. Voeg die spinasiebeet in sarsies by en prut tot die blare sag geraak het. Geur met sout en peper.
  4. Skraap die mengsel in ’n sif in en druk enige oortollige vloeistof uit.
  5. Los dit in die sif terwyl jy vir die volgende stap voorberei.
  6. Sit die kruie, parmesaan, suurlemoenskil en eiers in ’n groot bak. Meng goed saam.
  7. Voeg die gedreineerde spinasiemengsel by en meng.
  8. Krummel die fetakaas in – los dit in redelike groot stukke. Meng versigtig.
  9. Verhit ’n bietjie olyfolie in dieselfde pan wat voorheen vir die spinasie gebruik is.
  10. Braai die gesnyde sampioene tot goudbruin en tot al die vloeistof weggekook het. Geur.
  11. Vou die sampioene in die spinasie-en-fetamengsel in.
  12. Voorverhit die oond tot by 180 °C.
  13. Vee die gietysterpan met ’n papierhanddoek uit en verf dit met vars olyfolie.
  14. Met een fillodeegvel op ’n slag, plaas dit in die pan en verf dit met ’n bietjie olyfolie – werk vinnig. Los die oorhang aan alle kante. Druk die fillodeeg versigtig in die pan plat om enige groot lugborrels uit te kry. Herhaal met die orige fillodeegvelle, roteer elke vel in ’n ander rigting en verf elke laag met olyfolie.
  15. Skep die vulsel in en versprei dit in ’n eweredige laag.
  16. Frommel die oorhang van die deeg om die vulsel op. Knip dit netjies indien nodig sodat jy ’n sirkel oop sampioenvulsel in die middel het, omring met ’n ring fillodeeg.
  17. Verf die bokant van die filo met olyfolie en besprinkel met sesamsade.
  18. Bak vir ±35 minute tot die fillodeeg diep goudbruin en baie bros is.
  19. Verwyder uit die oond uit en plaas die pan op ’n lae gasvlam.
  20. Maak vir 5 minute gaar op die stoof.
  21. Hierdie klein ekstra stap maak seker dat jy ’n bros basis het – dit is nie nodig nie, maar is die ekstra moeite werd.

Laat die pastei vir 10 minute rus voordat jy dit in groot skywe sny en met vars vinkel besprinkel voor jy dit opdien.

Bron: The South African Mushroom Farmers’ Association (SAMFA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.