Soorte resepte:

Resep: Tortillas met gemengde Meksikaanse slaai

Tortillas met gemengde Meksikaanse slaai. (Foto: Lapa Uitgewer)

Kikker ʼn gewone slaai op deur dit in ʼn toevoupakkie voor te sit.

Lewer 12 – 16 porsies.

Bestanddele

Tortilladeeg

  • 375 ml koekmeel
  • 50 ml mieliemeel
  • 125 ml mielieblom
  • 3 ml sout
  • 5 ml bakpoeier
  • 50 ml botter of margarien
  • ± 150 ml water

Gemengde Meksikaanse slaai

  • ± 250 ml fyngekerfde slaaiblare
  • ± 250 ml fyngekerfde kool
  • ± 250 ml grofgerasperde wortel
  • ± 125 ml radys, in dun skyfies of in klein blokkies gesny
  • ± 250 ml gemengde groen, rooi en geel soetrissie, in dun skyfies of klein blokkies gesny
  • ± 100 ml fyngekapte grasui
  • ± 250 ml komkommer, in klein blokkies gesny

Metode

  1. Tortilla: Plaas die droë bestanddele en smeer in die bak van ’n voedselverwerker toegerus met ’n metaallem, of in ’n mengbak. Verwerk met die polsaksie of vryf die botter of margarien met die hand in. Voeg genoeg water by om ‘n sagte deeg te vorm wat nie meer klewerig is nie en verwerk dit ongeveer 2 minute lank. Moenie die deeg te styf maak nie, want dit sal moeilik uitrol. Indien dit met die hand gedoen word, knie die deeg ongeveer 3 minute lank.
  2. Druk die deeg met meelbestrooide hande saam en plaas in ’n meelbestrooide bak. Bedek en laat ongeveer 30 minute lank staan om te rus en makliker te kan uitrol.
  3. Verdeel die deeg in 12-16 porsies vir klein tortillas en vorm balletjies. Rol die balletjies dun uit op ’n meelbestrooide oppervlak om sirkels te verkry. Bestrooi met meel en bedek met ’n doek of plaas dit in ’n lugdigte houer met meelbestrooide waspapier tussenin, indien dit nie dadelik gaargemaak gaan word nie.
  4. Verhit ’n groot, vlak swaarboomkastrol of elektriese braaipan tot matig warm. Maak een tortilla op ’n keer gaar. Druk daarop met ’n eierspaan totdat die deeg begin blasies vorm. Maak gaar net tot liggies verbruin. Pas die temperatuur aan soos nodig – indien die tortilla te vinnig verbruin, verlaag die temperatuur effens of indien dit aan die pan kleef, maak dit effens warmer.
  5. Draai die tortilla om en maak ook aan die ander kant gaar. Bedek met ’n doek nadat dit gaar is om die tortillas sag te hou, of bêre dit in ’n lugdigte houer tot benodig.
  6. Gemengde Meksikaanse slaai: Meng saam en hou in die yskas in ’n lugdigte houer tot benodig, of tot ’n dag of twee. Drup enige slaaisous liggies net voor bediening oor die slaai om te verhoed dat die slaai verlep.

Bron: Kosblikkos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.