Soorte resepte:

Resep-video: Sakpas-roosterkoekburgers

Sakpas-roosterkoekburgers. (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

Roosterkoek is so veelsydig en kan byna vir enigiets gebruik word. Daarom hou ons daarvan om ʼn paar roosterkoeke van ʼn sak winkeldeeg te maak, heerlike tuisgemaakte burger-patties op die vuur te braai en in ʼn japtrap ʼn sakpasmaaltyd vir 10 mense te kan bedien.

Dié roosterkoekburgers is maklik en goedkoop en sal jou sleg R200 kos as jy die bestanddele by SPAR aankoop. Dié prys* is uitgewerk vir al die bestanddele, behalwe die stapelitems wat reeds in jou kombuiskaste behoort te wees.

*Die prys is uitgewerk op spesifieke SPAR-handelaars se pryse en kan verskil.

Bestanddele

Vir die Roosterkoek

  • 1 sak winkeldeeg
  • meel vir strooi

Vir die patties

  • 1 kg beesmaalvleis
  • 12 ml sout
  • 5 ml swartpeper
  • 15 ml koljander
  • 3 snye bruinbrood, in klein stukkies geskeur
  • 125 ml melk
  • 1 eier
  • 30 ml worcestersous
  • 1 k vars pietersielie
  • 2 t knoffel
  • 1 ui, baie fyngekap

Vir die burgers

  • blaarslaai
  • tamaties
  • tamatiesous
  • mosterd
  • kaas

Metode

  1. Strooi meel op ʼn gladde werksoppervlak.
  2. Breek balletjies van die brooddeeg af en rol dit in die meel.
  3. Pak dit in ʼn bak om te rys terwyl jy voortgaan met die patties.
  4. Week die stukkies bruinbrood en melk in ʼn afsonderlike bak en laat dit eenkant staan tot die melk by die brood ingetrek het.
  5. Meng die maalvleis, koljander, sout en peper.
  6. Gooi die eier, worcestersous, pietersielie, knoffel en ui by die maalvleis en meng goed.
  7. Gooi die broodmengsel by die maalvleis en meng alles weer goed.
  8. Rol dit in balletjies met jou hande en plaas dit in ʼn bak. Druk dit ʼn bietjie plat sodat dit ʼn pattie vorm.
  9. Braai dit oor matige kole tot gaar. (Draai dit versigtig sodat dit nie uitmekaar val nie).
  10. Braai die roosterkoeke oor matige kole vir sowat 8-10 minute per kant, of tot goudbruin en gaar.
  11. Verwyder van die kole en laat dit afkoel voordat jy dit met ʼn broodmes oopsny.
  12. Plaas jou pattie in die roosterkoek, met blaarslaai, kaas en tamatie en sous na smaak.

Al die Maroela-produkte wat jy in dié video sien, is in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie, beskikbaar. Klik hier om dié mooi produkte te koop en jou kombuis in ʼn plaaskombuis te omskep.

Dankie aan SPAR wat dié video geborg het. Ons het van SPAR se handelsmerkprodukte vir die bestanddele gebruik, asook produkte uit SPAR se jongste Masterchef-reeks. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.