Soorte resepte:

Resep: ‘Wortelkoek’-fudge

“Wortelkoek”-fudge (Foto: Lapa Uitgewers)

“Die wat my ken, weet hoe mal ek oor speserye is … Die Europese winterspeserye – die Duitse koekies, die pampoenspeserye, die wortelkoekspeserye! Ja, gemmer, naeltjies, neut en kaneel. Dit is waarvan drome gemaak word. En dis waarvan hierdie fudge gemaak word,” skryf Armand Aucamp in sy resepteboek, Armand kook kaal 2.

Lewer 12 blokkies

Bestanddele

  • 250 g botter
  • 100 g donkersjokolade (85%- of 90%-kakao)
  • ½ k xilitol
  • 250 g volvet-roomkaas, by kamertemperatuur
  • 1 t vanieljegeursel
  • 2 t kaneel
  • 1 t fyn gemmer
  • ¼ t neutmuskaat
  • ʼn klein knippie fyn naeltjies (punt van ʼn mes)
  • 50 g pekanneute, gekap
  • 2 e kakao
  • 2 e botter

Roomkaasversiersel (opsioneel)

  • 2 e xilitol
  • 3 e mediumvet-roomkaas, by kamertemperatuur
  • sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen

Metode

  1. Smelt die botter en sjokolade saam in ʼn pot oor matige hitte.
  2. Voeg die xilitol by en roer saam tot die xilitol heeltemal opgelos het. Plaas eenkant en laat vir 20 minute afkoel.
  3. Plaas die roomkaas in ʼn aparte mengbak. Voeg die afgekoelde sjokolademengsel daarby en gebruik ʼn handklitser om alles baie goed saam te meng.
  4. Voeg die vanieljegeursel, kaneel, gemmer, neutmuskaat, naeltjies en gekapte neute by en roer goed om te meng.
  5. Sif die kakao by en meng weer goed tot enige klontjies ingemeng is.
  6. Bedek ʼn klein bakplaat of bak met bakpapier. Kies ʼn bak wat groot genoeg is sodat die fudge ongeveer 2 tot 3 cm dik sal wees.
  7. Gooi die mengsel in die bak en smeer dit gelyk. Plaas in die vrieskas vir 30 minute.
  8. Berei nou die roomkaasversiersel voor, as jy dit gebruik. Plaas die xilitol in ʼn voedselverwerker en pols tot ʼn poeier vorm.
  9. Plaas die roomkaas in ʼn mengbakkie. Voeg die xilitol asook die suurlemoensap en -skil by en meng deeglik saam. Plaas in die yskas om te verkoel.
  10. Sny die fudge in blokkies, versier met die roomkaasversiersel en sit voor saam met goeie koffie of rooibostee en dink aan sneeu op die Alpe.

Bron: Armand kook kaal Volume 2 deur Armand Aucamp
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.