Soorte resepte:

Vier samesyn en feestyd met borrels

(Foto verskaf)

Jared M Brown het geglo: “There is nothing more beautiful than a sunset, viewed over a glass of chilled champagne”. Met die feestyd wat voorlê, sal daar regoor die wêreld miljoene kurke klap om samesyn, vriendskap en Kersfees te vier, skryf Maryke Roberts.

Suid-Afrika se vonkelwynbedryf het ook groot rede om fees te vier. Dis nie net een van die land se gewildste premium wyn-kategorieë nie, maar die Cap Classique-vereniging vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en die Amorim Cap Classique-uitdaging sy mondigwording. Die Cap Classique-vereniging het ook verlede jaar begin wegdoen met MCC as benaming (Methode Cap Classique) en wil dit eerder as Cap Classique vestig.

Tans is die vereniging se voorsitter die charismatiese wynmaker, Pieter (Bubbles) Ferreira, wat vir jare keldermeester by Graham Beck buite Worcester was.

Tans is die vereniging se voorsitter die charismatiese wynmaker, Pieter (Bubbles) Ferreira, wat vir jare keldermeester by Graham Beck buite Worcester was. (Foto verskaf)

Frans Malan het in 1971 Suid-Afrika se eerste vonkelwyn, Simonsig Kaapse Vonkel, gemaak en was ook ʼn stigterslid van die Stellenbosch-wynroete, wat verlede jaar sy 50ste verjaardag gevier het.

Vandag het Simonsig ses verskillende Cap Classique-wyne in verskillende style en dit palm gereeld pryse daarvoor in.

Maar voor jy jou gunsteling-vonkelwyn skink, is dit dalk lekker om te weet wat die verskil tussen Cap Classique, sjampanje en vonkelwyn is en hoekom Cap Classique soveel duurder as vonkelwyn is.

Suid-Afrikaanse produsente mag nie die woord “Champenoise” of “sjampanje” gebruik nie: net sjampanje wat in die Champagne-streek in Frankryk gemaak word, mag daardie naam gebruik. Die naam Cap Classique bring hulde aan die feit dat die klassieke wynmaakkuns aan die Kaap bekendgestel is deur die Frans Hugenote en die eerste bottel-gefermenteerde vonkelwyn in die Kaap, Kaapse Vonkel was. Dit wys ook dat dit op die tradisionele manier, soos sjampanje met ʼn tweede fermentasie in die bottel – Méthode Champenoise – gemaak word.

In Suid-Afrika gebruik ons die term Cap Classique sedert 1992. Cap Classique ondergaan ʼn natuurlike tweede gistingsproses in die bottel, waar die borrels dan natuurlik ontwikkel. Suiker en gis word by die basiswyn gevoeg sodat bottelgisting kan plaasvind. Na die giskontak-tyd, word die gis na die nek van die bottel gedraai (remuage), waarna dit verwyder word en die finale kurk en draadjie opgesit word (disgorgement).”

Vonkelwyn is ʼn kunsmatige produk, waar stilwyn in ʼn druktenk geplaas word en koolsuurgas (CO2) ingepomp word. Die wyn word dan uit die druktenk – onder dieselfde druk – gebottel.

Megan Mullis is aangewys as die Domaine des Dieux: Beste Brut and Beste algehele produsent by die Amorim Cap Classique-uitdaging. (Foto verskaf)

Dis dan ook die rede hoekom Cap Classique duurder is as vonkelwyn, omdat die proses langer én die bottel duurder is, want dit moet die druk weerstaan en verpakkingskostes is hoër.

Frans Malan se Kaapse Vonkel was van chenin-druiwe, maar vandag is chardonnay, pinot noir en pinot meunier die gewildste keuses. Produsente het ook al merlot, shiraz en ander kultivars gebruik. Daar is tans geen beperkings op toegelate kultivars in Suid-Afrika nie, hoewel sekere kultivars meer geskik is.

Cap Classique kan in verskillende kategorieë gemaak word soos versnit, naamlik rosé, blanc de blanc of nektar. Versnitte is gewoonlik twee of meer kultivars; blanc de blancs is net ʼn versnit van wit druiwe (dit kan ook versny wees van een kultivar) en rosé – gewoontlik van rooi druifkultivars, maar kan ook ʼn bietjie wit druiwe inhê. Nektar is soeter.

Van die nuutste Cap Classiques op die mark, wat net so voor die feestyd vrygestel is, is die Eikendal Méthode Cap Classique 2020, wat in baie klein hoeveelhede van chardonnay gemaak word. Dis vir twee jaar op die gismoer verouder en deur wynmaker Yvonne Lester gemaak.

Ilse Schutte, wynmaker van die Garagiste-keldertjie op McGregor se Bemind Cap Classique is 100% chenin blanc en sy maak net 1 500 bottels elke seisoen. Dis vir 12 maande in die bottel vir die tweede fermentasie.

Verskeie wynplase het die afgelope paar jaar begin om te eksperimenteer om die wyn vir langer op die gismoer te los, waaronder Waterford, Lourensford en Boschendal, wat maar enkeles is.

Hannes Nel, keldermeester by Lourensford, sê trots as hy die Lourensford Cuvée Brut Zero 101 2010 waarvan net ʼn beperkte hoeveelheid gemaak is, skink, is dit baie duidelik. “Die Cuvee 101 is beslis een van die langstes op die gismoer. Dis 88% chardonnay en 12% pinot noir en vir 101 maande op die gismoer verouder, vandaar die naam (foto’s). Na die 101 bring ons die Cuvee 124 uit, wat beslis dan een van die langste verouderde Cap Classiques sal wees. Dit sal ʼn totaal van 10 jaar en 4 maande verouder wees.”

Die Lourensford Cuvée Brut Zero 101 2010 was verlede jaar die Amorim-uitdaging se museumklas-wenner vir wyne agt jaar en ouer.

Hannes verduidelik: “Langer veroudering maak dat die Cap Classique baie meer komplekse en geïntegreerde geure vorm, weens die ekstra verouderingstyd op die gismoer. Dit gee dit ʼn natuurlike volheid en rondheid wat maak dat dit nie nodig is om enige verdere suiker by te voeg nie. Dit maak ook die borreltjies baie meer kompak en kleiner weens die langer tyd onder druk (ongeveer 6kPa). Die langer veroudering sorg vir ʼn baie elegante en gesofistikeerde Cap Classique. Vervolmaak deur tyd.”

Karusa in die Kangovallei buite Oudtshoorn se Jacques Conradie maak benewens ʼn wye reeks stilwyne, drie vonkelwyne, een van 100% chardonnay, een brut rosé en die Karoo Classique Zero Dosage Brut Nature Reserve 2014 – wat vyf jaar op die gismoer was. Karusa, die San-woord vir “land met min water” beskryf die semi-dorre Karoo goed en dis asof ʼn mens ekstra dors is as jy daar op die stoep sit. Die yskoue borrels brand jou keel in al sy beskuitjiegeur-heerlikheid.

Jacques het nie verniet saam met Suid-Afrika se vonkelwyn-koning, Pieter (Bubbles) Ferreira, by Graham Beck gewerk nie. Hy ken die magiese aantrekkingskrag van goeie borrels. Jacques het sy vonkelwyne as Karoo Classique geregistreer, terwyl die res van Suid-Afrika se vonkelwyne as Cap Classique bekend is.

Waterford-wynlandgoed buite Stellenbosch het in September vanjaar hul Waterford Cap Classique bekendgestel. Die 100% chardonnay is vir ses jaar op die gismoer verouder.

Waterford-wynlandgoed buite Stellenbosch het in September vanjaar hul Waterford Cap Classique bekendgestel. (Foto verskaf)

Die La Motte Cap Classique 2018 in Magnum of 750 ml is ʼn chardonnay (91%)- en pinot noir (9%)-versnit wat vir 45 maande op die moer verouder is. Die wynstyl is “Brut Natural”, so geen versoeting is bygevoeg nie en dit bied ʼn verfrissende droë vonkelwyn.

Die La Motte Cap Classique 2018. (Foto verskaf)

Minder kopkrap voor die winkelrak

As jy die feesseisoen of dalk voor Valentynsdag voor die winkelrak staan en nie seker is watter een om te koop vir jou Kersfeestafel of Nuwejaarsvieringe nie, behoort die wenners van die 2022 Amorim Cap Classique-uitdaging dalk ʼn bietjie leiding te gee.

Domaine des Dieux, die boetiek Cap Classique-spesialis van die Hemel-en-Aarde-streek buite Hermanus, het vanjaar vir die derde keer in agt jaar met die louere as beste produsent weggestap. Die Domaine des Dieux Claudia Brut Cap Classique 2016 is aangewys as beste wyn uit die 126 inskrywings wat vanjaar ontvang is. Domaine des Dieux het ook in 2014 en 2018 dié kompetisie as beste produsent gewen.

Die Amorim-uitdaging bestaan uitsluitlik om die land se voorste Cap Classique-wyne te vereer en word sedert 2002 onder leiding van die Cap Classique-produsentevereniging aangebied en word deur die internasionale kurk-groep Amorim geborg.

Domaine des Dieux se algehele wenner – die 2016-oesjaar – was ook die wenner van die kategorie vir Brut-wyne. Die trofee vir die beste blanc de blanc het gegaan aan Constantia Uitsig se MCC 2018, terwyl die Plettenbergbaaise staatmaker Newstead die topprys in die verlengde veroudering-klas vir sy blanc de blanc 2015 gewen het. Simonsig Landgoed van Stellenbosch het twee klasse gewen – vir die beste rosé met die Kaapse Vonkel Brut Rosé 2020, sowel as die klas vir beste nektar, waar die  Vonkel Satin Nectar Rosé 2020 bobaas was.

Joaquim Sá, die besturende direkteur van Amorim Kurk Suid-Afrika en stigter van die Cap Classique-uitdaging, sê Cap Classique is een van die gewildste premium wyn-kategorieë in Suid-Afrika, met jaarlikse verkope wat grens aan 11 miljoen bottels per jaar.

“Die gewildheid van Cap Classique kan toegeskryf word aan die produk-uitnemendheid, diversiteit van aanbiedings, sowel as die innoverende bemarking van die produsente wat hul wyne uitbeeld as ʼn integrale deel van ʼn modieuse leefstyl. Hierdie kombinasie van gehalte en aanskoulikheid, asook kraakvars bemarking, maak Cap Classique die opwindende en toonaangewende kategorie wat dit is.”

Dubbelgoue-medaljes vir blanc de blanc is toegeken aan Constantia Uitsig MCC 2018, JC le Roux Scintilla 2015 en Louisvale MCC Brut NV. Goud vir Laborie Blanc de Blanc 2016, Darling Cellars Blanc de Blanc Brut 2019, De Wetshof Blanc de Blanc 2020 en Pongrácz Blanc de Blanc NV.

Dubbelgoud vir brut-versnit aan Domaine des Dieux Claudia Brut Cap Classique 2016 en goud aan Domaine des Dieux Claudia Brut Cap Classique 2015, Babylonstoren Sprankel 2017, Il Geco CC 2017, De Grendel Brut 2018 en Benguela Cove Joie de Vivre Brut Cap Classique 2018.

Goud vir rosé vir Simonsig Kaapse Vonkel Brut Rosé 2020, Graham Beck Pinot Rosé (Magnum) 2017, Graham Beck NV Brut Rosé en Anthonij Rupert Wyne NV L’Ormarins Brut Classique Rosé.

Goud vir nektar vir Simonsig Kaapse Vonkel Satin Nectar Rosé 2020. Dubbelgoud vir verlengde veroudering vir Newstead Blanc de Blanc 2015 en goud vir Domaine des Dieux Claudia Brut Cap Classique 2009, Tweejongegezellen Krone 2012 en Anthonij Rupert Wyne L’Ormarins Private Cuvee 2014 (foto).

Beste glas vir jou vonkelwyn

Navorsing het getoon dat die korrekte glas vir elke druifkultivar die beste manier is om jou wyn te geniet. Cap Classique en vonkelwyn is natuurlik geen uitsondering nie. Die breedte van die glas se rant, die lengte van die glas en die dikte van die glas, dra alles by om die geure, aromas en borrels optimaal te laat vertoon.

Riedel Crystal maak al sedert 1756 kristalglase en was eerste in die geskiedenis om te erken dat die smaak en aroma van ʼn drankie beïnvloed word deur die vorm van die houer waaruit dit gedrink word. Hulle word wêreldwyd gereken vir hul revolusionêre ontwerpe, wat alkoholiese drankies en ander drankies komplementeer.

Die ontwerp van die glas verseker dat die korrekte smaakkliere wat bitter, soet, sout, suur en umami identifiseer, op die regte oomblik geaktiveer word.

Tarryn Vincent van Riedel Glass Suid-Afrika, gee haar indrukke oor die beste glase vir jou borrels. Haar drie gunstelinge is die Veritas, Veloce en Performance uit hul Champagne-reeks, wat spesifiek vir die druifkultivars, waarvan Cap Classique ook gemaak word, ontwerp is.

Elunda Basson, Steenberg Wingerde se keldermeester en een van die land se bekendste Cap Classique-makers wat vir jare by JC le Roux gewerk het, sê dit mag dalk die oudste vorm van vonkelwynglas wees, en definitief die mees dramatiese, maar die oop Coupe-glas is nie die beste vorm om die geure en aromas van jou Cap Classique ideaal vry te stel nie.

“Ons mees gewilde vorm is die flute en ons verkies dit vir die mooi regop voorstelling van die borrels en die beskerming van die aromas.

“Maar as jy regtig jou vriende wil beïndruk, word deel van die nuwe beweging na die tulpvormige wynglas! Die glas se voller magie stel die vrugtige aromas vry en die elegansie van die glas maak enige feesviering ʼn gesofistikeerde geleentheid.”

Beste temperatuur vir jou borrels

As jy Cap Classique of vonkelwyn as welkomdrankie bedien, waar daar nie kos by is nie, is kouer beter, en die kenners meen dat 8 ˚C die beste is. As jy dit kouer as 8 ˚C maak, kry die wyn nie kans om sy geure en aromas te ontbloot nie. Skink die wyn ook so ʼn paar minute voor jy dit bedien, sodat die verskuilde geure kans kry om in die glas te ontwikkel.

Lourensford (Foto verskaf)

En onthou, borrels is veelsydig: dis heerlik met peuselgoed, ewe lekker saam met die hoofmaal, veral as dit ryk disse soos salm, of foie gras is, maar ook net so lekker met nagereg.

Dis met Winston Churchill se woorde wat ek volstaan: “A single glass of champagne imparts a feeling of exhilaration. The nerves are braced; the imagination is stirred; the wits become more nimble”.

  • Jy kan natuurlik by vele wynplase in die land gaan borrels proe, dit met enigiets van makrolletjie- en sjokolade- tot springmielie- en biltong-pasmaat, maar min plekke verduidelik dit so mooi soos die wyn-ervaring by Weltevrede buite Bonnievale. Lees meer hieroor op Maroela Media.

Volgens Switserse tradisie word hierdie lekkerny gebak met ʼn beeldjie in een van die stukke versteek – gewoonlik die figuurtjie van ʼn koning. Die een wat hierdie versteekte beeldjie vind, word die koning vir die dag!

Bestanddele:

  • 750 g wit meel
  • 75 g suiker
  • ½ teelepel sout
  • Suurlemoenskil
  • 150 g botter
  • 375 ml melk
  • 30 g gis
  • 5 eetlepel warm water
  • 2 eiers
  • 200 g sultanas

Metode:

  1. Meng meel, suiker, sout en suurlemoen in ʼn bak en smelt die botter en voeg die koue melk by. Los gis op in water en voeg twee teelepels suiker by. Roer die eiers en voeg die meelmengsel, hierbo, by. Knie tot ʼn sagte deeg.
  2. Voeg sultanas by en versprei dit eweredig in die deeg.
  3. Breek deeg en vorm ses of agt stukke so groot soos ʼn vuis. Jy kan een groter stuk vorm as die middelste stuk van die koek. Rangskik die stukke om die middelste stuk. Plaas die koek in ʼn goed gesmeerde vorm en laat rys op ʼn warm plek totdat die grootte verdubbel het. Laat afkoel vir ongeveer een uur. Voordat dit gebak word, smeer dit met eiergeel.
  4. Bak vir ongeveer 40 tot 50 minute in die onderste deel van die voorverhitte oond teen ongeveer 225 ˚C.

Trofeewenners van die Amorim Cap Classique-uitdaging is van links: Danie Keulder (Constantia Uitsig: Beste blanc de blanc), Anton Smal (Newstead: Beste in klas vir verlengde veroudering), Megan Mullis (Domaine des Dieux: Beste brut en beste algehele produsent), Charl Schoeman (Simonsig: Beste nektar en beste rosé) en Shane Mullis, ook van Domaine des Dieux.
(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.