Soorte resepte:

Wen! Deel jou familieresep met Maroela Media

Foto ter illustrasie. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Ons almal weet hoe lekker ons Afrikaanssprekendes kan kuier om kos. Kos is so ’n ryk deel van ons kultuur en geskiedenis. Ons het besluit dat dit tyd is vir ’n regte, egte Maroela Media-glansresepteboek in volkleur.”

Só sê Susan Lombaard, die uitvoerende hoof van Maroela Media, oor die plan om ’n unieke, kosbare resepteboek saam te stel. Ons het jou hulp beslis nodig.

Of dit nou jou ouma se melktertresep, jou tannie se bobaas-pannekoek of jou oupa se Karoo-staanrib is, ons wil graag van jou hoor. Blaai hierdie feestyd deur jou familie-resepteboeke en deel met ons die resepte wat jou na aan die hart lê.

Skryf in en staan die kans om dié handsak los te slaan. (Foto: verskaf)

Dié resepte sal deur die loop van 2023 in Maroela Media se kombuis gemaak word, gekeur word deur ’n paneel beoordelaars en in ’n spesiale resepteboek saamgevat word.

Jy staan nie net die kans om deel te vorm van Maroela Media se eie resepteboek nie, ’n leser staan die kans om ’n duursame leerhandsak ter waarde van R1 900 te wen.

Vul die vorm onderaan die teks in om jou resep en familieverhaal met Maroela Media te deel. Gebruik die “Wenke vir die skryf van resepte” (onderaan) as riglyn vir jou inskrywing.

  • Luister boaan na die volledige onderhoud met Susan Lombaard, Maroela Media se uitvoerende hoof, oor ons splinternuwe resepteboek.

Wenke vir die skryf van resepte

  • Lys die bestanddele in dieselfde volgorde waarin dit in die metode gebruik word.
  • Maak seker dat al die bestanddele wat in die metode gebruik word, gelys word.
  • Meld die mates van die blikkies, pakkies of houers van die bestanddele, byvoorbeeld: 2 (410 gram) blikkies tamatiesmoor, 1 (250 ml) bottel vars lemoensap, ens.
  • Gebruik afkortings vir die mates in die bestanddelelys, maar skryf dit in die metode volledig uit.
  • Wees konsekwent in die gebruik van name en terminologie vir bestanddele, mates en aanwysings.
  • Gebruik die bestanddele se name in die metode, byvoorbeeld “room suiker en botter saam” in plaas van “room eerste twee bestanddele saam”.
  • Sluit die temperatuur en tydsduur in vir alle aksies soos bak, prut, kook, verkoel, vries, en so meer in.
  • Maak seker dat die metode duidelik, deeglik, korrek en stapsgewys gestel word.
  • Sluit alle komponente van die dis in as deel van die resep. Moenie aanneem dat ander lesers sal weet hoe om ʼn sekere komponent soos byvoorbeeld ʼn béchamelsous te maak nie. Gee alles volledig weer.
  • Skryf die metode in ʼn logiese styl en as genommerde lys.

Afkortings

  • k – koppie
  • t – teelepel
  • e – eetlepel
  • kg – kilogram
  • g – gram
  • ml – milliliter
  • L– liter

Mates

  • ½ teelepel = 2,5 ml
  • 1 teelepel = 5 ml
  • 1 eetlepel = 15 ml
  • ¼ koppie = 60 ml
  • ½ koppie = 125 ml
  • ¾ koppie = 190 ml
  • 1 koppie = 250 ml
  • Jou resep

  • Vertel bietjie waar die resep vandaan kom.
  • Lys die bestanddele en beskryf dan die metode.
  • Laat weet ook hoeveel porsies mens met jou resep se afmetings kan verwag.
  • Indien die resep van ʼn ander bron verkry is, byvoorbeeld uit ʼn ander kookboek of van ʼn bekende sjef.
  • Laai een foto op van die gereg, drankie of die familielid wie die resep bemeester het. Verskaf dit asseblief in JPG-formaat en kleiner as 2MG.
    Lêertipes toegelaat: jpg, Maks. lêergrootte: 2 MB.
  • Enige spesiale notas soos wenke, variasies of plaasvervangerbestanddele.
  • Jou besonderhede

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Bepalings en voorwaardes

  1. Jy mag nie die resep uit ʼn gepubliseerde resepteboek of van ʼn webwerf afskryf nie. Resepte wat in boeke of op koswebwerwe gepubliseer word, is onderhewig aan kopiereg. As dit nie jou eie of jul familieresep is nie, het jy ongelukkig nie kopiereg daarvoor nie en mag ons dit ook nie publiseer sonder goedkeuring of toestemming nie.
  2. Die kompetisie sluit Maandag 9 Januarie om 23:55.
  3. Maroela Media sal na die beste van ons vermoë ondersoek instel om te bevestig dat die ingestuurde resepte nie onderhewig aan kopiereg is nie. Indien ʼn resep onderhewig aan kopiereg per abuis gepubliseer word, sal die resep verwyder word nadat dit as sulks gemeld word. Stuur navrae oor die resepte se kopiereg aan [email protected].
  4. Wanneer jy jou resep instuur, gee jy toestemming dat Maroela Media die teks en foto’s onbepaald op Maroela Media se Koolstoof-blad en enige ander platforms of publikasies mag publiseer en dat dit op Maroela Media se sosialemediakanale bemark mag word sonder enige finansiële of ander vergoeding vir jou of die persoon wat oorspronklik die resep saamgestel het of enigiemand anders.
  5. Maroela Media aanvaar geen verantwoordelikheid vir slegte geregte, ongestelde mae, voedselvergiftiging, leed of skade berokken na aanleiding van die resepte nie; lesers berei dit op eie risiko voor.
  6. Maroela Media se redaksie sal besluit of ʼn resep gepubliseer gaan word; die instuur waarborg nie dat dit gepubliseer gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.