Agri SA: Landbousektor groei te midde van uitdagings

Die graanbedryf het baie goeie groei oor die afgelope jaar getoon.

Die Suid-Afrikaanse landbousektor was een van die min sektore wat tydens die 2019-’20-boekjaar gegroei het en teen 13,1% was dit een van die sektore wat die meeste gegroei het. Volgens die landbouorganisasie AgriSA kan hierdie groei aan ’n verskeidenheid van faktore soos goeie reënval toegeskryf word.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het pas die BBP-syfers vir die laaste kwartaal van 2020 vrygestel – ’n sober oorsig van die jaar.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het met ’n indrukwekkende 6,3% in die laaste kwartaal van 2020 gegroei, ondanks die tweede Covid-19-golf. Vir die jaar in geheel het die plaaslike ekonomie egter met -7% gekrimp, het Maroela Media Woensdag berig. Die meeste sektore het positiewe groei in die finale kwartaal van 2020 aangeteken, met uitsondering van onderskeidelik mynbou en die finansiële sektor.

Volgens StatsSA het die landbousektor ’n groeikoers van 5,9% in die vierde kwartaal getoon, danksy ’n toename in die produksie van diereprodukte. Dié sektor se prestasie vir die jaar was, soos verwag, uiters belowend en het te staan gekom op 13,1% in 2020.

Hierdie indrukwekkende prestasie word toegeskryf aan ’n aantal faktore, soos die positiewe La Niña-verskynsel en tot groot mate die sektor se klassifikasie as ’n noodsaaklike diens sedert die aanvanklike inperkings. Landboubedrywighede kon dus ongestoord voortgaan, terwyl ’n groot deel van die ekonomie tot stilstand gekom het,” sê Kulani Siweya, Agri SA se landbou-ekonoom.

Hierbenewens was daar goeie prestasie oor subsektore heen, naamlik die naasgrootste graanoes, uitmuntende prestasie deur die vrugtebedryf wat deur sitrusboere gelei is, asook die herstel in die veebedryf. Daar was egter uitdagings in sekere subsektore, veral alkohol en tabak, wat gebuk gegaan het onder verwoestende beperkings op verkope en die verbruik van hul produkte tydens verskeie vlakke van die inperking.

“Weerstoestande is steeds gunstig en produksievooruitsigte bly belowend. As die menigte risiko’s in die stelsel dringende aandag geniet, en die regte beleidstellings spoedig toegepas word, sal dit inderdaad as ’n goeie fondament dien vir nog ’n positiewe jaar vir die sektor,” sê hy.

In vergelyking met ander opkomende markte (OM’e) is Suid-Afrika se nasionale begrotingstoekenning aan die landbou oor ’n aantal jare steeds heelwat laer as 2%, terwyl ander OM’e ongeveer 6% aan hierdie sektor bestee. Dit beteken dat daar in hierdie spesifieke OM’e ’n BBP-groei van 3,7% (gegrond op ’n tienjaargemiddeld) gerealiseer het, terwyl Suid-Afrika ’n meer beskeie groei van 1,7% in dieselfde tydperk getoon het.

“Terwyl die ekonomie die afgelope jaar in geheel steeds onder druk verkeer het, het ons nou betroubare data wat ’n aanduiding is dat die landbousektor steeds vele tekortkominge in die ekonomie kan aanraak. Dít ondanks die beperkte begroting wat aan die sektor in die nasionale begroting toegestaan is.

“Die president en sommige ministers het op verskeie platforms verwys na die belangrikheid van die landbousektor. Indien hulle egter ernstig is oor die dringendheid van ekonomiese herstel in die land en ’n afname in werkloosheid, moet hierdie mooi woorde nou in dade omgesit word,” sê Siweya.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.