EU-stortings bedreig aartappelbedryf

Foto ter illustrasie (Foto: McCain Foods)

Met die onlangse beëindiging van die regulasies om beskerming teen storting te bied, het daar ʼn beduidende risiko ontstaan dat die toenemende hoeveelheid bevrore slaptjips wat onder kosprys uit Nederland en België in Suid-Afrika beland, Suid-Afrikaanse boere en verwerkers kan lamlê.

Die stryd tussen die plaaslike aartappelbedryf en wêreldwye invoerders het ʼn jarelange geskiedenis, en Suid-Afrika word beskou as ʼn uitstekende bestemming vir die storting van bevrore, verwerkte aartappelprodukte.

Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels Suid-Afrika (PSA), het sy kommer uitgespreek oor die risiko waardeur die plaaslike aartappelbedryf in die gesig gestaar word en gepleit vir plaaslike ondersteuning.

Die hoofdoel van PSA is om die aartappelbedryf in Suid-Afrika te beskerm terwyl dit ook vars produkte deur die jaar aan Suid-Afrika en ander uitvoerlande bied.

Hy sê Suid-Afrikaanse boere ondervind baie uitdagings wat deur Covid-19 veroorsaak is, asook die kosteknyptang en die mees onlangse onluste in dele van die land. “Boonop baat ons boere nie by die finansiële ondersteuning wat die EU-lande se regerings aan hulle boere gee nie. Ons boere kan eenvoudig nie meeding met produkte wat laer as kosprys in ons land gestort word nie.

“ʼn Laer aanvraag na plaaslike produkte sal ʼn rimpeleffek op boerderye en werksekerheid tot gevolg hê, om nie eers te praat van die uitwerking op die ekonomie nie.”

Die Suid-Afrikaanse aartappelbedryf verskaf werk aan ongeveer 45 000 permanente en seisoenale werkers en is ongeveer R7,5 miljard op primêre vlak en R26 miljard op sekondêre vlak sterk.

Ongeveer 50 000 ha aartappels word per jaar aangeplant, en 45% van die totale groente wat in die land geproduseer word, is aartappels. Dit kom neer op ʼn bydrae van ongeveer R8,5 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie.

McCain Foods Suid-Afrika is een voorbeeld van ʼn speler in die sekondêre aartappelbedryf wat meer as 6 800 voltydse werksgeleenthede bied en aartappels by meer as 100 plaaslike boere koop, wat elke jaar ​​meer as 4 500 ha aartappels aanplant.

Die besturende direkteur van die onderneming, Unathi Mhlatyana, sê die Suid-Afrikaanse landbousektor, en meer spesifiek die plaaslike aartappelbedryf, is afhanklik van die gesamentlike pogings van verbruikers, ondernemings en die regering om plaaslike boere en die bedryf te ondersteun.

Hy bevestig ook Jacobs se gevoelens: “Die negatiewe finansiële impak van die Covid-19-pandemie en ander heersende sosio-ekonomiese en marktoestande op plaaslike boere was katastrofies.

“Verdere bedreigings, wat die aanvraag sowel as markkoste kan beïnvloed, kan plaaslike boere en verwerkers uit die bedryf verjaag.

“Die ondersteuning van die plaaslike landbousektor is die kragtigste en beste metode om die gevolge van landboustorting, ​​wat ons ekonomie en bestaan ​​regstreeks bedreig, te bekamp.”

Volgens PSA is die omgewingsvoordele om plaaslike produkte te koop, duidelik. Die plaaslike verspreiding van die produk laat ʼn kleiner koolstofvoetspoor en plaaslik vervaardigde produkte word ook tipies geassosieer met meer omgewingsvriendelike praktyke.

Hulle voer ook aan dat deur plaaslik te koop en verkoop, sal daar verseker word dat die geld in Suid-Afrika bly, sodat dit die plaaslike ekonomie kan dryf en onderhou, werk kan beveilig en bevorder en uiteindelik die ​​land herbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie Smartie ·

Bring daai ertappel, dis baie duur hier, bring maar dat die plaaslike bedryf mededingend kan raak

koos10 ·

Ek het begrip vir die posisie van die boere. Jy kan nie ‘n produk verkoop teen minder as wat dit kos nie, dis logika. Maar ons boere moet ook begin slim te werk gaan. Teen R100.00 per 10kg op die rak, gaan mense alternatiewe soek wat goedkoper is, en dan word die boere verder gewurg.
Wat van ‘n samewerking ooreenkoms opsoek oorsee? As ons baie het stuur ons aan hulle en anders om? Ek weet ek redeneer soos ‘n leek, maar die regering gaan geen blanke boer bystaan nie. Hulle soek jou grond en sal dit teen watter koste probeer kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.