Groot pryse vir AWK se jongboer

Ian Cunningham het verlede jaar se jongboerkompetisie gewen. By hom staan sy vrou, Inge. (Foto: Verskaf)

Agri Wes-Kaap (AWK) en Santam is op soek na sy beste jongboer vir 2023. Die inskrywings is nou oop en daar is groot pryse op die spel.

Die Wes-Kaapse Jongboer van 2022, Ian Cunningham, wil produsente onder die ouderdom van 40 jaar aanmoedig om deel te neem.

“Die kompetisie dien as ʼn goeie maatstaf om jou werk en boerdery te meet. Om jou daaglikse insette op skrif te sien, bied goeie perspektief van die werk wat al gedoen is. Die plaaswerkers het die kompetisie ook vreeslik geniet en dit het baie vir ons gemeenskap beteken,” sê hy.

Volgens PF Theron, voorsitter van AWK se jongboerkomitee, is die kompetisie ʼn uitstekende leerskool, aangesien ʼn paneel van kenners waardevolle terugvoering gee, wat produsente dan weer op hul plase kan implementeer. Hy meen dit is ook ʼn geleentheid vir produsente om hul plase en besighede te bemark.

Vanjaar se prys sluit die volgende in:

  • R20 000 kontant
  • Twee vliegtuigkaartjies met Lift Airlines.
  • ʼn Wegbreeknaweek vir twee by Gondwana-privaatwildreservaat.
  • ʼn Bemarkingsvideo deur Lucentlands.
  • La Motte-wyn.

Om deel te neem moet ʼn kandidaat 40 jaar of jonger wees op die dag wanneer inskrywings vir die kompetisie sluit. Die sluitingsdatum is 28 April vanjaar.

 

Beoordelaars besoek Ian Cunningham se plaas tydens verlede jaar se kompetisie. (Foto: Verskaf)

 

Die kandidaat moet ook op die sluitingsdatum vir minstens een jaar lank reeds ’n opbetaalde lid van ʼn landbouvereniging wees. Die belangrikste maatstawwe vir beoordeling hou verband met die bestuursfilosofie van die boer, sowel as die tegniese vaardigheid waarmee daardie filosofie in die praktyk toegepas word.

Hoewel die vertakkingsamestelling en omvang van die kandidaat se boerdery-aktiwiteite in ag geneem word, is die mate waarin die boer se bestuursfilosofie op uitnemende wyse in die praktyk toegepas word, meer bepalend. ’n Kandidaat met ’n enkele vertakking wat besonder goed presteer, staan dus ook ’n baie goeie kans om die kompetisie te wen.

Die wenner sal die Wes-Kaap verteenwoordig wanneer die nasionale wenner van die Toyota SA/Agri SA Jongboer van die jaar-kompetisie aangewys word.

Inskrywingsvorms tesame met die beoordelingskriteria is op AWK se webtuiste en by plaaslike landbouverenigings beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.