Impak van voëlgriep nog maande gevoel

(Argieffoto: Nulaid)

Quantum Foods, die land se grootste eierprodusent wat eiers onder die handelsmerk Nulaid lewer, waarsku dat eierproduksie in die land vir die volgende ses tot agt maande gedemp gaan bly.

Die maatskappy sê in sy jongste handelsverklaring (vir die tydperk Oktober 2023 tot Januarie 2024) ook dat laer koste verbonde aan rou materiaal vir voer, asook ʼn vermindering in die aantal beurtkrag-ure, tot ʼn daling in bedryfskoste gelei het. Dit het weer bygedra tot ʼn verbetering in sy marges.

Uitwerking van voëlgriep

Die uitbreking van hoogs aansteeklike voëlgriep verlede jaar het die bedryf onder geweldige druk geplaas. Quantum Foods sê egter hy het die afgelope paar maande groot vordering gemaak om sy kudde weer op te bou.

Teel‑ en lêhoenders is by nuut gekontrakteerde fasiliteite geplaas, asook by die maatskappy se eie alternatiewe aanlegte om die risiko vir siektes, wat ʼn verdere uitwerking op toekomstige broei-eiervoorraad kon hê, te verminder.

Die maatskappy sê in sy jongste handelsverklaring (vir die tydperk Oktober 2023 tot Januarie 2024) teellê-eiers is ook ingevoer om die uiters beperkte beskikbare voorraad aan te vul, terwyl nuwe teelhoenders hoofsaaklik vir toekomstige broei-eierproduksie grootgemaak is.

Benewens dié planne om die gevaar van voëlgriep op kommersiële hoenderplase te verminder, het Quantum Foods ook onafhanklike produksieboere in geografiese gebiede waar die gevaar van voëlgriep as laer beskou is, gekontrakteer.

Die maatskappy se eiervoorraad was sowat 60% minder in die huidige tydperk en eierpryse het terselfdertyd ook met meer as 60% gestyg.

“Die maatskappy verwag dat algehele eierproduksie in Suid-Afrika oor die volgende ses tot agt maande gedemp gaan bly, waarna dit behoort te verhoog namate die nasionale kudde herstel.”

Braaikuikens

(Argieffoto: Quantum Foods)

Die bedryf- en finansiële prestasie van die braaikuiken-teelafdeling en kommersiële braaikuikenboerdery in die Wes-Kaap het aansienklik verbeter.

Quantum Foods se teellêhen-bedrywighede by Hartbeespoort in Noordwes is skerp geraak deur die uitbreking van voëlgriep in die tydperk onder oorsig en die plaas was maande lank dormant. Dit het gelei tot ʼn verlies aan lêhenbroei-eiers wat weer tot laer voorraad vir die maatskappy, en gevolglik verhoogde koste om dagoudkuikens aan die bedryf te lewer, aanleiding gegee het.

Die maatskappy het sy plaaslike voorraad met ingevoerde broei-eiers aangevul om die uitwerking op sy klante te verminder.

In vergelyking met die vorige tydperk, het dagoudkuikenproduksie net-net (1%) gedaal. Lewende braaikuikenvolumes het in die huidige tydperk met sowat 6% vermeerder danksy minder vrektes en verbeterde gewig.

Voerafdeling

Die voerafdeling het ʼn “bevredigende” bedryf- en finansiële prestasie agter die rug, ondanks ʼn noemenswaardige daling in pluimvee-voervolumes van die maatskappy se voermeul in Pretoria aan die eksterne mark en die maatskappy se eie boerderybedrywighede. Die daling is ook toegeskryf aan die uitbreking van voëlgriep verlede jaar. Die algehele afname in voervolumes staan op 14%.

Nuwe uitvoerende hoof

Quantum Foods het ook aangekondig dat Hennie Lourens, uitvoerende hoof, ná 28 jaar die tuig in Maart neerlê. Om ʼn naatlose oorgang te verseker, sal Lourens tot einde Mei as uitvoerende direkteur aanbly.

Lourens het die pos as uitvoerende hoof sowat ʼn dekade lank beklee.

“Die raad wil mnr. Lourens opreg bedank vir sy voorbeeldige leierskap en waardevolle bydrae tot die maatskappy oor etlike jare en wens hom alle sterkte vir die toekoms toe.”

Adel van der Merwe is as nuwe hoof aangewys. Sy het ʼn BCom-graad in bestuursrekeningkunde van die Universiteit Stellenbosch en het haar loopbaan by Pioneer Foods begin en daarna na Nova Feeds, ʼn filiaal van Pioneer Foods, verskuif. Sy was die afgelope jare onder meer betrokke by die verkryging van rou materiaal en kommoditeite en het in 2018 in die eierbedryf begin werk.

“Sy het meer as 13 jaar ondervinding in die dierevoer- en voedselbedryf, en bring insig van onskatbare waarde na die nuwe rol,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.