MotoGP: Brad eindig sesde, skuif af na sewende

Suid-Afrika se Brad Binder en Spanje se Marc Marquez tydens Saterdag se blitswedren. (Foto: Gigi Soldano / AFP)

Die Spaanse MotoGP was weer nie ʼn naweek wat Suid-Afrika se MotoGP-held Brad Binder (Red Bull KTM) lank sal onthou nie.

Binder se probleme het Vrydag in die vroeë kwalifisering op die renbaan buite Jerez begin. Hy het weliswaar Saterdagoggend daarop verbeter en die vierde vinnigste tyd vir die blitsren en Sondag se MotoGP opgestel.

Die afwagting was groot, maar Binder was Saterdag in die chaotiese blitsren in een van 14 ongelukke betrokke. Hy het geval, kon nie verder jaag nie en het geen punte verdien nie.

Boonop is hy daarvan beskuldig dat hy een van die ongelukke veroorsaak het, maar tereg is daar geen stappe deur die beamptes teen hom gedoen nie.

In Sondag se MotoGP het hy van vierde af kort na die begin na sesde afgeskuif, maar het hy tot vyfde opgeskuif.

Hy is in die laaste ronde deur Enea Bastianini verbygesteek om die naweek op ʼn teleurstellende noot af te sluit.

Die huidige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo), was Sondag eerste. Dit was sy derde agtereenvolgende sege in die Spaanse MotoGP.

Marc Marquez (Gresini Ducati) was tweede, Marco Bezzecchi (AVR46 Ducati) derde, Alex Marquez (Gresini Ducati) vierde, Enea Bastianini (Ducati Lenovo) vyfde en Binder sesde.

Bagnaia, wat ook nie Saterdag se blitsren kon voltooi nie, het met sy oorwinning tot tweede ná Jorge Martin (Pramac Ducati) op die puntelys opgeskuif. Hy is nou net 17 punte agter Martin.

Martin wat Sondag tot in die 12de ronde voor was, het geval en sy drome was daarmee heen nadat hy Saterdag se blitsren gewen het.

Hy het nou 92 punte, gevolg deur Bagnaia (75), Bastianini (70), Pedro Acosta (69), Maverick Viñales (63), Marc Marquez (6) en Binder (59) wat nou na sewende afgeskuif het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Brad was sovêr ek kan onthou nog net een keers eerste en dit bevestig my stelling dat hy nie goed genoeg is om saam mat die heel bestes saam te praat nie.

Kuver ·

Hy het al 2 keer gewen, en is nog die voorste jaer by KTM, gee hom n beter bike en kyk wat gebeur

Uitmykoker ·

Stem saam met jou Kuver, Brad se prestasies moet vergelyk word met die van sy KTM spanmaats. Kyk net wat doen Marquez op n Ducati vergeleke met sy gesukkel op n onmededingende Honda. Ek vermoed egter dat selfs Brad sal moet terugstaan vir Pedro Acosta sodra die jongeling meer ervaring op die KTM opgedoen het – die 2024 MotoGP seisoen beloof om een van die bestes ooit te wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.