Kleinveepes kruip nader

Kleinveepes in ‘n gevorderde stadium. (Foto: Dr. Sultani, Tanzanië)

Een van die mees gevreesde veesiektes wat aan die mens bekend was, runderpes, het tussen 1896 en 1903 ongeveer 2,5 miljoen beeste en ontelbare wildsbokke in Suid-Afrika laat vrek.

Dié siekte, wat die eerste keer in Egipte sy opwagting gemaak het en suidwaarts beweeg het, is gelukkig met ʼn entstof wat in Suid-Afrika vervaardig is heeltemal uitgewis.

Die runderpesvirus het egter ʼn familielid wat ʼn ander dodelike siekte, peste des petits ruminants (PPR) oftewel kleinveepes, veroorsaak. Dit is nou ook besig om stadig maar seker uit die noorde van Afrika suidwaarts te beweeg.

Kleinveepes is tans een van die belangrikste herkouersiektes onder skape en bokke wêreldwyd en alhoewel dit nie ‘n zoönotiese siekte is wat oorgedra word na mense nie, het dit ʼn enorme negatiewe impak op die ekonomiese oorlewing en bestaan ​​van mense.

Wêreldwyd het die dieregesondheids- en veegemeenskap verklaar dat kleinveepes die volgende siekte is wat uitgeroei moet word.

Simptome is soortgelyk aan dié van runderpes by beeste, en behels orale nekrose, nasale en okulêre afskeidings, hoes, longontsteking en diarree.

Volgens dr. Baty Dungu van Afrivet, wat ʼn indieptestudie van kleinveepes in verskeie lande gedoen het, is die virus in staat om tot 90% van ʼn kudde te besmet en kan 30% tot 70% van die besmette diere laat vrek.

“Dit is reeds in meer as 70 lande in Afrika, die Midde-Ooste en Asië aangemeld en in dié streek is daar ongeveer 1,7 miljard vee-eenhede wat 80% van die wêreld se skape en bokke uitmaak.”

Marokko is een van die min lande wat daarin geslaag het om die siekte uit te wis, maar ongelukkig het dit ʼn paar jaar later weer uitgebreek.

Selfs groot lande met uitgebreide hulpbronne soos Indië en China sukkel met die siekte. In Indië is getoon dat die kleinveepes-verwante verliese jaarliks tussen $653 miljoen en $669 miljoen (meer as R10 miljard) wissel.

Nader aan Suid-Afrika het ʼn massiewe uitbreking in 2012 in die weste van die Demokratiese Republiek van die Kongo daartoe gelei dat 744 527 bokke gevrek het, wat ʼn waarde van $37 miljoen (meer as R565 miljoen) beteken. “Dit is onderskatte syfers siende dat die siekte sedertdien endemies geword het, wat selfs verdere ekonomiese skade aanrig,” sê Dungu.

Oor die afgelope paar jaar het die siekte so ver suid as tot in Angola gevorder en homself daar gevestig.

Zambië is ook al binnegedring, maar verspreiding daarvan is betyds gestop voor dit enige noemenswaardige skade kon aanrig.

“Wanneer kleinveepes reeds in ʼn land gevestig is, is dit moeilik om uit te roei indien daar nie volgehoue gekoördineerde pogings is nie.”

Gelukkig bestaan daar entstowwe teen kleinveepes en die gewildste een is uit ʼn lewende, verswakte virus ontwikkel wat in Nigerië geïsoleer is. Dit word die Nigerië 75/1-entstof genoem en word baie suksesvol aangewend, selfs in China.

“Hoewel kleinveepes nog nie in Suid-Afrika aangemeld is nie, hou dit ʼn ernstige bedreiging in, gegewe dat dit suidwaarts oor die Afrika-vasteland versprei,” sê Dungu.

“Dit het die potensiaal om die land se winsgewende wolbedryf, voedselsekerheid en die tienduisende werksgeleenthede in die sektor in gedrang te bring.

Desperate kleinskaalboere in Tanzanië probeer om hul diere te red. (Foto: Dr. Roggers Mosha)

“Ons kan nie bekostig dat dit in Suid-Afrika uitbreek nie en ʼn paraatheidsprogram moet dus ʼn prioriteit wees.”

Hy sê daar is tans twee maniere hoe die siekte bekamp kan word in die geval van ‘n uitbreking. “Diere kan voor die voet van kant gemaak word, of slegs besmette of blootgestelde diere kan uitgeslag word.”

Maroela Media het by Marzanne Polydorou, bestuurder van die Nasionale Veegesondheidsforum (NAHF), gaan vasstel wat hulle doen om te verhoed dat die siekte Suid-Afrika binneval.

“Die belangrikste is monitering en ons is tans saam met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling besig om ʼn gebeurlikheidsplan op te stel wat toesigstappe en die inwerkingstelling van vinnige opsporingstelsels behels.”

Sy sê die departement se veeartse op die grensposte is opgelei om vir kleinveepes uit te kyk en sal begin om monsters te neem en toetse te doen sodra die siekte naderkom en in die buurlande is.

Gelukkig is daar al entstowwe beskikbaar, maar Dungu is egter skepties oor die kans dat Suid-Afrika ʼn entstof sal ontwikkel. “Uit onlangse ervaring met die staat se verswakte enstofbedryf, het ons dalk nie die tyd en kapasiteit om met die ontwikkeling en produksie van ʼn geskikte PPR-entstof te begin nie.”

Hy sê die Suid-Afrikaanse wolbedryf, en meer spesifiek Capewools, het aan ʼn entstofbeskikbaarheidsplan begin werk, maar vereis ondersteuning en mobilisering van die hele veebedryf.

“Dit sal wyser wees om vir die registrasie van een van die twee PPR-entstowwe aansoek te doen of om die tegnologieë te lisensieer. Sodoende kan entstofbanke geskep word en moontlike noodaankope gedoen word sodra die behoefte ontstaan.

“Die potensiële rampspoedige uitwerking van PPR behoort ons te laat wakker skrik om onaangename verrassings te vermy en te verhoed dat die siekte homself in Suid-Afrika vestig. Dít sal tot blywende gevolge lei wat moeilik uit die weg geruim kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Suzette ·

Met die huidige regering kan ek nie sien hoe die pes uit ons land gehou gaan word nie…….. soos hulle rekord tans is kan hulle eens ‘n winkeltrollie bestuur nie….

Grond ·

Met die swak bestuur van die Landbounavorsingsraad en die fasiliteit by Onderstepoort wat entstof vervaardig en ontwikkel is die besikbaarheid van entstowwe vir diere in SA alhoemeer riskant. As ons sekere entstowwe selfs van Botswana moet invoer sê dit nogal iets.

Anoniem ·

Ek kan getuig van Botswana se goeie beheer, veral in Bek en Klouseer gebiede. Moes in 2018 ‘n hele aantal T-bones wat ek in Kasane gekoop het afstaan by ‘n beheerpunt oppad Caprivi toe. Hulle het darem hopelik lekker daaraan gesmul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.