Maak ruimte in boerderybegroting vir innovering, volhoubaarheid

(Argieffoto: Verskaf)

Heelwat uitdagings staar hedendaagse boere in die gesig: sommige is histories, sommige eietyds en sommige kan eenvoudig nie vermy word nie – maar almal gooi “die spreekwoordelike klip in die ploeg” wanneer dit by begrotings kom, sê Chris van der Schyf, verkoopsbestuurder by Bontera SA.

Boere het min of geen beheer oor die prys van hul produkte of die koste van saad, kunsmis, chemikalieë en brandstof nie. “Die enigste ding wat die boer kan doen, is om sy opbrengs te probeer maksimaliseer, maar in die meeste gevalle probeer boere eerder koste sny,” sê Van der Schyf.

Dikwels kies die boer dan eerder goedkoop insette wat nie bydra tot optimale opbrengste nie en uiteindelik die balansstaat nog slegter laat lyk.

Neem dié faktore in ag

Boere het min beheer oor die verkooppryse van hul produkte. Hierdie pryse wissel gedurende die seisoen en dit is moeilik om te weet wanneer om te verkoop of om ʼn sekere prys op kontrak vas te maak, sê Van der Schyf. Met baie faktore wat die prys van insette, soos kunsmis en chemikalieë, beïnvloed en die markte wat uiters wisselvallig geword het, is die besluit oor wanneer om watter inset aan te koop ook ʼn moeilike een.

“Daar is soveel faktore wat boere in ag moet neem en niemand kan ʼn kenner wees op al hierdie gebiede nie. Dit is hoekom dit so belangrik is vir ʼn boer om ʼn span van kenners te hê wat hom of haar ondersteun, in velde soos gewasbeskerming, kultivarkeuse en produkbemarking.”

Van der Schyf sê biologiese en regeneratiewe oplossings is bewys om die opbrengs, gehalte en weerstand van gewasse te verhoog. Hierdie soort oplossings kan boere help om baie van die skommelinge van seisoen tot seisoen te verminder of uit te skakel. Dit sluit in kwessies soos die doeltreffendheid van chemikalieë, die doeltreffende gebruik van kunsmis en die plant se vermoë om stres te verdra. “Dit alles dra by tot die uiteindelike resultaat om hierdie seisoen se opbrengs meer met die verwagte opbrengs te laat strook – wat dit weer makliker maak om vir die volgende seisoen te begroot.”

Nuwe oplossings

Chris van der Schyf, verkoopsbestuurder by Bontera SA. (Foto: Verskaf)

Die inwerkingstelling van ʼn nuwe oplossing kan egter ʼn uitdagende taak wees, sê Van der Schyf.

“Geen twee boere is dieselfde nie. Grond, omgewingsfaktore, praktyke, gewasse, toerusting – dít is slegs ʼn paar van die dinge wat oorweeg moet word wanneer ʼn nuwe oplossing ingestel word,” sê Van der Schyf.

ʼn Deeglike ondersoek moet deur ʼn boer en sy span kenners gedoen word om te verseker dat alle faktore in die besluitnemingsproses gepak word.

“Ek glo vas dat ʼn boer enige nuwe oplossing behoorlik moet toets wanneer hy dit vergelyk met sy huidige standaard,” sê Van der Schyf.

“Die probleem met kleinskaalse proewe is dat daar te veel veranderlikes is en dit weerspieël nie die werklike waarde wat ʼn nuwe oplossing kan bring nie. Grootskaalse proewe lewer akkurater data en as daardie data nie is wat verwag is nie, is dit makliker om ondersoek in te stel en vas te stel hoekom dit die geval is.”

Hierdie ondersoek moet bepaal of die nuwe oplossing prakties in die huidige stelsel gaan inpas en of die stelsel verander of verbeter kan word. Dit moet ook identifiseer wat die hoofprobleme is wat uitgestryk moet word en kyk of iets anders dalk eers gepak moet word om die nuwe oplossing tot sy volle potensiaal te laat bydra.

Van der Schyf meen die beste tyd om besluite te neem is sodra die vorige seisoen afsluit, terwyl die probleme wat tydens die seisoen ondervind is, nog vars in die geheue is. Dit laat ook genoeg tyd vir boere om indiepte-besprekings met hul span te hê en ʼn aksieplan te formuleer met genoeg tyd om die voorgestelde oplossings in werking te stel.

“Innovering is noodsaaklik en konsekwentheid is deurslaggewend,” sê Van der Schyf.

“Elke boer se begroting moet ruimte maak vir innovering en die toepassing van nuwe, meer volhoubare oplossings. Biologiese produkte wat meer konsekwentheid bied, behoort ʼn vasgestelde plek in enige boer se begroting te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.