MSD stig akademie vir dieregesondheid

Aan die stuur van sake by die MSD- Dieregesondheidsakademie is dr Alan Kloeck, algemene bestuurder van MSD; Johann Stassen, besturende direkteur van i3A en Jacques van Rensburg, nasionale opleidingsbestuurder vir MSD. (Foto: Du Preez de Villiers)

Enige persoon wat ʼn diploma in dieregesondheid wil verwerf kan nou by MSD, ʼn internasionale farmaseutiese maatskappy wat ook sterk in Suid-Afrika verteenwoordig is, gaan aanklop. Buiten sy bestaande opleidingsfasiliteit vir sy agente en koöperasies-verkoopsmense, skakel MSD Dieregesondheid nou oor na ʼn hoër rat om die publiek met kennis op hierdie gebied te bedien.

Die MSD Malelane interne-opleidingsakademie is ʼn klompie jare gelede in die Laeveld gestig, ʼn gebied wat bekend is as ʼn broeines vir veesiektes. “Dr Tom Strydom, ʼn pionier op die gebied van dieregesondheid, het ongeveer 16 jaar gelede ʼn sleutelrol gespeel met die stigting van die Malelane Akademie om sodoende  ʼn groot behoefte op hierdie gebied die hoof te bied,” sê Jacques van Rensburg, nasionale opleidingsbestuurder vir MSD. “Koöperasie-personeel wat veemedisyne verkoop, moes van tegniese kennis voorsien word en die Malelane Akademie het hierdie rol uitstekend vervul” sê hy.

Volgens Van Rensburg sal die nuutgestigte MSD Dieregesondheidsakademie  ʼn heel nuwe aanslag hê en is die eerste van sy soort in die Suid-Afrikaanse bedryf. “In samewerking met die International Agricultural Academy for Africa (i3A) en bykans 20 maande se harde werk, is ons nou in staat om ons eie MSD Akademie bekend te stel. Dit het ʼn enorme spanpoging geverg om die 22 modules te ontwikkel, na te gaan en waar nodig aan te pas, om hierdie unieke produk aan voornemende studente aan te bied”, sê hy.

 

Johann Stassen, besturende direkteur van i3A oorhandig die MSD-Dieregesondheidsakademie simbolies aan Jacques van Rensburg, nasionale opleidingsbestuurder vir MSD oor. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Met hierdie kwalifikasie sal studente bemagtig word om praktisyns in primêre veegesondheidsorg te word.

Die opleiding wat die MSD Akademie aanbied (sertifikaat of diploma in dieregesondheid) vind hoofsaaklik aanlyn plaas, maar word met verskeie kontaksessies aangevul. ʼn Praktiese kursus wat oor vyf dae sal duur word aan die einde van die student se studies ook deur MSD aangebied.

Van Rensburg verduidelik verder dat die MSD Akademie ʼn eerste vir Suid Afrika is, aangesien die inhoud van die kwalifikasie op insette vanuit die dieregesondheidsbedryf gebaseerd is en wat verder aangevul word deur praktiese opleiding tydens kontaksessies. Dit word deur veeartse, farmakoloë en produkspesialiste op plase regoor die land aangebied, sodat die nodige vaardighede en ondervinding aan die studente oorgedra kan word.

“Hierdie is ʼn eiesoortige model waar MSD met i3A, met sy 38 jaar opleidingsondervinding hande gevat het om hierdie geleentheid aan ons toekomstige studente en boere te bied.”

 

Johann Stassen, besturende direkteur van i3A oorhandig die MSD Dieregesondheidsakademie simbolies oor aan Dr. Alan Kloeck, algemene bestuurder van MSD tydens die bekendstellingsgeleentheid. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Johann Stassen, besturende direkteur van i3A het Van Rensburg en sy span geluk gewens met die totstandkoming van die MSD Akademie en gemeld dat i3A opgewonde is oor die uitsonderlike samewerking op hierdie gebied, om net die heel beste bedryfsgedrewe opleiding aan almal op die vasteland van Afrika te verskaf.

Hierdie kwalifikasie is by die Suid-Afrikaanse kwalifikasiebeheerliggaam (SAQA) geakkrediteer. Die eerste jaar bestaan uit ʼn sertifikaatkursus (NKR – vlak 4) met 11 modules. In sy tweede jaar kan die student sy nasionale diploma (NKR- vlak 5), wat uit 12 modules bestaan, verwerf. Die volledige inhoud van beide kwalifikasies is op die MSD Akademie se webtuiste beskikbaar.

Dr Alan Kloeck, algemene bestuurder van MSD Suid-Afrika en Sub-Sahara Afrika het i3A bedank vir die harde werk wat ingesit is en vir die vennootskap om die Malelane Akademie na ʼn nuwe vlak te neem, “om iets beskikbaar te maak vir die algemene publiek en om iets te bied wat hulle reeds vir baie jare aan hul kliënte verskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.