Nuwe hoof vir Graan SA is ou hand in bedryf

Dr Pieter Taljaard is aangewys as die nuwe hoof van Graan SA. (Foto: Verskaf)

Graan SA het aangekondig dat dr. Pieter Taljaard aangestel is as die nuwe uitvoerende hoof van die organisasie. Hy sal die leisels by Jannie de Villiers vanaf 1 September vanjaar oorneem, ná De Villiers se vroeëre aankondiging dat hy einde Augustus as uitvoerende hoof sal uittree.

“Taljaard is welbekend in die landbousektor en bring ʼn rykdom van kundigheid na hierdie rol,” sê Derek Mathews, voorsitter van Graan SA.

Taljaard het die afgelope jare in ʼn aantal senior leiersposisies gedien, waaronder tans as die bestuurder vir kleingraan en nywerheidsgewasse by Bayer Crop Science. Hy werk reeds verskeie jare saam met Graan SA in sy hoedanigheid by Bayer, Monsanto, NWK en as dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

“Hy het sy PhD in landbou-ekonomie aan die UV verwerf en was die afgelope ses jaar in die saadbedryf werksaam. Hy is passievol oor landbou, wat ook die afgelope 19 jaar sy stokperdjie as deeltydse boer is. Hy het ʼn opgeleide agtergrond in landbou en toegepaste ekonomie en spesialiseer in verbruikers- en produksie-ekonomie, ekonometrie asook wiskundige optimalisering.”

Die aanstelling van Taljaard volg op ʼn deeglike werwingsproses onder toesig van ʼn spesiale komitee van die hoofbestuur met behulp van die werwingsmaatskappy The Talent Connection, wat ʼn wye verskeidenheid van buitengewone kandidate gekeur en ondervra het.

“Dit was baie belangrik vir Graan SA om die regte aanstelling te maak wat die organisasie in die volgende era kan lei. Pieter het wye ervaring in die graansektor en het baie nou saam met produsente gewerk,” sê Mathews.

“Met sy bedanking as uitvoerende hoof, wil ek ook van hierdie geleentheid gebruik maak om vir Jannie van harte te bedank vir sy jare lange toewyding en harde werk om die organisasie te bring waar dit vandag is. Hy sal nie vir landbou verlore gaan nie, en sy mentorskap en geestelike leiding sal die bedryf voortaan steeds beïnvloed. Ons wens hom alle voorspoed vir die toekoms toe,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.