Savpo kry veearts as nuwe hoof

Dr Peter Evans is as die nuwe uitvoerende hoof van Savpo aangestel. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse varkprodusente-organisasie (Savpo) het aangekondig dat dr. Peter Evans as sy nuwe uitvoerende hoof aangestel is.

Dit kom nadat Johan Kotzé, die huidige uitvoerende hoof van Savpo, verlede maand die pos as uitvoerende hoof van Agri SA aanvaar het.

Stephen Butt, voorsitter van Savpo, het Evans gelukgewens en sy opgewondenheid uitgespreek oor die nuwe fase wat voorlê. “Dr. Evans is ʼn gevestigde en veelsydige lid van die Savpo-span en het reeds ʼn stewige blootstelling in die wêreldwye varkvleiswaardeketting. Hy bring ʼn magdom ervaring as ʼn bekende leier in dieregesondheid,” sê hy.

Evans het in ʼn boereryfamilie in die Vrystaat grootgeword en sy graad aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde (Onderstepoort) voltooi. Hy het sy loopbaan as ʼn troeteldierveearts begin voordat hy varkboerdery aangedurf het. In 1993 het hy by CS Vet in Pretoria aangesluit.

Evans het in 2008 op ʼn deeltydse basis by Savpo begin werk en was deurslaggewend in die ontwikkeling van Pork 360, asook die opstel van verskeie intervensies om die volhoubare groei van die bedryf moontlik te maak.

“Oor die jare het varkboere getoon dat hulle uiters doeltreffend en nuutskeppend is,” het Evans gesê. “Dit moet ook gepaard gaan met wye samewerking in die bedryf om intervensies te ontwikkel, om die onderling verwante biosekuriteitsrisiko’s wat in die Suid-Afrikaanse varkbedryf ingebed is te versag.

“Die sleutel tot die varkbedryf se toekoms is waardekettinggebaseerde vennootskappe, wat marktoegang vergemaklik en ʼn volhoubare handelsomgewing kan verseker”.

Evans sal in September 2023 met sy ampstermyn as uitvoerende hoof van Savpo begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.