Veeskool bekyk bulle van nader

Die interras-beoordelaars, Wayne Porter en Llewellyn Angus in aksie by die LRF se Veeskool. (Foto: Verskaf)

Met die tema, bulseleksie as winsdrywer, bied die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) vanjaar sy 15de opeenvolgende Veeskool aan.

Die organiseerders sê daar is verlede jaar op die koeikudde gefokus en hierdie jaar verskuif die kollig na bulle. Die belangrikheid van ʼn bul in ʼn kudde kan só saamgevat word:

  • ʼn Bul verwek jaarliks 25 tot 60 kalwers.
  • Ná drie geslagte wat verse teruggehou word, is 87,5% van die genetiese samestelling van die vroulike diere in jou kudde die resultaat van die laaste drie bulle wat jy gekoop het.
  • Die genetika van ʼn bul kan vir baie jare in ʼn kudde bly indien sy verse teruggehou word.
  • Die teelgesondheid van ʼn bul beïnvloed grootliks jou kudde se vrugbaarheid.

Dié skool word weer by die Aldam-vakansieoord net buite Ventersburg in die Vrystaat aangebied en vind van 11 tot 13 Oktober plaas.

Die lesings is nie op ʼn bepaalde sektor van die bedryf gerig nie en vanjaar gaan 25 plaaslike en internasionale sprekers hul kennis met opkomende en gevestigde kommersiële en stoetprodusente, asook ander belangstellendes deel.

 

Die Veeskool by Aldam word elke jaar deur veeboere wat ernstig oor hul bedryf is, bygewoon. (Foto: Verskaf)

 

Oor die drie dae word die volgende onderwerpe onder meer van nader bekyk:

  • Bulseleksie vir wins
  • Bulgesondheid en geslagsiektes
  • Bulvrugbaarheidsvereistes en bestuur
  • Voeding van bulle
  • Invloed van genomika op bulseleksie
  • Interpretasie van veilingskatalogusse
  • Karkaseienskappe en vleisgraderingsgeleenthede vir boere
  • Winsmoontlikhede in seleksie vir voerdoeltreffendheid
  • Volhoubaarheid van rooivleisproduksie

Besoek die Veeskool se webwerf vir nog inligting.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.