Sonneblom allermins ʼn afskeepgewas

Ter illustrasie. (Foto: Angie/Unsplash)

“Baie Suid-Afrikaanse graanboere beskou sonneblom as ʼn tweede viool-gewas in plaas daarvan dat hulle dit as die ster van hul boerdery behandel. Derhalwe is hulle geneig om nie genoeg tyd, aandag en hulpbronne in dié gewas te belê nie,” sê Muntingh Hamman, bemarkingsbestuurder van rygewasse, Weste, by Syngenta.

“Sonneblom is allermins ʼn afskeepgewas. Hierdie graansoort is meer aangepas vir produksie onder droër toestande en hierdie voordeel, tesame met laer insetkoste, betroubare markpryse en ʼn opsie om ʼn premie te beding vir hoë olie-inhoud, maak dit ʼn gewas wat op gelyke voet met ander graangewasse kan meeding.”

Sonneblom se aanpasbaarheid by verskillende omgewingstoestande word toegeskryf aan sy verdraagsaamheid vir lae sowel as hoë temperature en sy vermoë om droogtetoestande beter te hanteer, kan in die komende seisoen, in die lig van voorspellings dat El Niño laer as gemiddelde reënval gaan veroorsaak, voordelig wees.

Die tragedie van die oorlog in Oekraïne het sonneblompryse aanvanklik die hoogte laat inskiet, siende dat dié land, tesame met Rusland, die wêreld se grootste sonneblomprodusent en -uitvoerder is. Landbou in daardie streek het intussen tot ʼn mate gestabiliseer en teen die middel van Oktober hierdie jaar het sonneblomgraan om en by R9 000/ton verhandel. Hoewel dit heelwat laer is as die R12 000/ton waar die prys gedraai het, is sonneblom steeds ʼn opsie wat oorweeg kan word aangesien sojabone, wat gewoonlik bo sonneblom verkies word, nie beduidende hoër pryse haal nie.

Hamman wys daarop dat die verskil in markprys opgeweeg moet word teen die laer insetkoste en veral die feit dat sonneblom die antwoord kan wees vir graanproduksie onder droër toestande. “ʼn Groot bron van onbenutte potensiaal is egter die premie wat produsente kan verdien vir sonneblomgraan met ʼn hoë olie-inhoud.”

Met die samesmelting van Syngenta en Sensako, het produsente nou direkte toegang tot sonneblomgenetika van die hoogste gehalte onder die Sensako-handelsmerk, aangesien Syngenta allerweë beskou word as die wêreldleier in sonneblomgenetika. Dit bied aan produsente die voordeel van kultivars met ʼn hoë olie‑inhoud en weerstandigheid teen onkruiddoders.

SY 3970 CL en SNK 270 CL is twee van Syngenta se sonneblombasters wat met die oog op hoë olielewering geplant kan word. “Die toekoms van sonneblom lê in olie. In die verlede was die fokus altyd op graanopbrengs, met verwerkers wat aan die kortste ent getrek het. Die nuwe fokus is op kultivars met ʼn hoë olie-inhoud wat tot die verwerker en produsent se winsgewendheid kan bydra,” sê Charles Basson, sonneblomteler en hoof van produkplasing by Syngenta.

Die huidige standaard vir olie-inhoud van sonneblomgraan is tussen 36% en 38%, maar met SY 3970 CL het produsente die afgelope paar jaar tussen 42% en 50% olie behaal. “Daar is heelwat nuwe kultivars in die Syngenta-pyplyn en produsente kan uitsien na produkte wat nie net ʼn hoë persentasie olie gaan lewer nie, maar ook goed sal presteer wat graanopbrengs betref,” sê Basson.

Met die regte ondersteuning en beplanning, wat gewasbeskerming insluit, kan produsente ʼn uitstekende opbrengs op ʼn belegging in sonneblom realiseer.

“Syngenta bied ʼn volledige gewasbeskermingspakket vir sonneblom en saam met ons sonneblombasters en saad van uitstekende gehalte, gee ons aan produsente omtrent alles wat nodig is om die meeste uit ʼn sonneblomaanplanting te haal,” sê Hamman.

Die westelike gedeeltes van die somergraanproduksiegebied is tradisioneel sonneblomwêreld, maar sonneblom kan ook met groot sukses in ander produksiegebiede verbou word. “Dit is verstaanbaar dat sommige produsente verkies om sojabone te plant omdat opbrengs gewoonlik beter is, maar met Metagan® Gold wat grasse voor opkoms beheer en uintjies onderdruk en Captora® wat breëblaar- en sekere grasonkruide na opkoms in bedwang hou, kan onkruidkompetisie tot ʼn groot mate beperk en sonneblomsaailinge doeltreffend beskerm word,” sê Hamman.

Later in die seisoen sal produkte soos Amistar® en Ampligo® onderskeidelik swaminfeksies en insekskade bekamp en selfs verhoed. Blaarvoedings op die regte tyd maak ook ʼn noemenswaardig positiewe verskil.

“ʼn Holistiese benadering sal ʼn sonneblomoes beskerm en produsente in staat stel om opbrengs en wins te maksimeer,” sê Hamman. ʼn Sodanige benadering sluit wisselbou in om veral Sclerotinia sclerotiorum, die swam wat stamvrot veroorsaak, hok te slaan. Dit is ook belangrik om sonneblom op die regte tyd te plant. Hoewel produsente grappenderwys sê dat mens tot op 35 Januarie sonneblom kan plant wanneer die mielieseisoen laat loop, is November die beste tyd om saad in die grond te kry. Deur net vroeër te plant, kan produsente ʼn hoër sonneblomopbrengs en beter winsgewendheid verseker.

Indien produsente mik na optimale opbrengs en olie-inhoud, moet sonneblom nie net as ʼn alternatiewe gewas beskou word nie. “Sonneblom verg dieselfde bestuur en verbouingspraktyke as ander gewasse. Wanneer produsente sonneblom in die optimale plantvenster plant en goeie bemesting- en bestuurspraktye volg, staan hulle ʼn uitstekende kans om goeie geld met die geel blomme te maak,” sê Hamman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.