‘Basta met kos’ sê dié Centurion-man

Op 8 Augustus 2022 om sowat 21:45, het Francois de Ridder die laaste keer kos oor sy lippe gehad. Die 56-jarige het toe ʼn allemintige 221 kg geweeg.

Diëte ken hy goed en oefenprogramme is niks vreemd vir hom nie, want van kindsbeen af moes Francois opmerkings oor sy gewig en raad oor hoe om dit in toom te hou aanhoor.

Wanneer hy vandag terugkyk na foto’s van hom as kind, wonder hy of die kind in dié foto’s dan nou eintlik só vet was en of hy nie dalk net ʼn ondersteunende hand nodig gehad het nie.

Deur die jare heen het sy uitdagings met sy gewig nooit werklik opgehou nie.

“Dit was ʼn bose kringloop,” het Francois in sy sitkamer in Centurion aan Maroela Media verduidelik.

“Na elke dieet, het ek net vetter geword as wat ek was. Die laagtepunte het al hoe laer geword en die hoogtepunte al hoe hoër.”

In Augustus het Francois egter besluit tot hiertoe en nie verder nie. Met ʼn plan om slegs vir 20 dae te vas, het hy besluit om kos vir eers vaarwel te roep, en nou is dit al sewe maande later en hy vas steeds.

Tot hier toe en nie verder nie

Die keerpunt het gekom toe hy op ʼn dag in die gesin se musiekkamer inloop en ʼn rolstoel daar sien staan. Hy het weens ʼn achilles tendon-besering met die hulp van krukke geloop, en dié stoel het vir hom gewink.

“Ek het geweet dat as ek in daardie rystoel gaan sit, gaan daar vog in my bene opbou en dan is die amputasie van my bene die volgende stap.

“Ek wil hemel toe gaan, maar nie nou al nie.”

Sedertdien het Francois nog nie weer ’n enkele happie kos geëet nie, nie eers ’n ou proeseltjie wanneer hy vir die res van die gesin in die aande kosmaak nie.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die ononderbroke vas het tot ʼn gewigsverlies van meer as 100 kilogram in dié tyd gelei. Hy gebruik mineraal- en vitamienaanvullings en drink baie water deur die dag. Hy benadruk egter dat dié aanvullings nie enige kosvervangers is nie, maar hom bloot aan die lewe hou.

Sy doelgewig is ʼn 100 kg, maar Francois raai niemand aan om in sy spore te volg nie.

“Dit is kranksinnig om te doen wat ek doen, moet dit nie doen nie. As jy iets wil doen, raadpleeg jou dokter of kry professionele hulp.”

“Ek is oortuig daarvan dat onderbroke vas [intermittent fasting] die regte manier is om van ekstra vetjies ontslae te raak.”

Francois is ook deeglik bewus daarvan dat sy liggaam in skok in kan gaan en daar is selfs die risiko dat hy kan sterf wanneer hy die eerste keer weer eet. Wanneer dié dag aanbreek, sal hy mediese hulp inroep om dit glad te laat verloop.

Hy stap nou sy pad saam met die Here en weet dat hy dié vrees met Hom aan sy sy sal oorwin.

ʼn Geskiedenis met gewigsprobleme

“Ek het baie meer dieetkundiges as meisies gehad. Ek het al die diëte moontlik probeer, maar dit het nooit ʼn antwoord ingehou nie.”

Francois erken dat daar nog altyd ʼn gevoel in sy hart geheers het dat hy nie goed genoeg is nie. Dít het egter verander toe hy sy vrou ontmoet. By haar het hy gemak gevind, sê hy.

“My vrou het my gevat en aanvaar nes ek is. Jou eggenoot is altyd aan jou kant.”

In 2014 het Francois sowat 192 kilogram geweeg toe hy op ʼn dag met twee fietse vir sy dogters, wat in daardie stadium nog kinders was, en ʼn fietsrak vir vier fietse agter op sy motor by die huis opgedaag.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Anneri wou weet wat hy met dié rakke gaan doen, waarop hy bloot geantwoord het dat hy én sy die volgende jaar aan die Argus-fietswedren gaan deelneem.

Die personeel by die fietswinkel het hom daarop gewys dat hy 188 kg gaan moet weeg om die fiets te kan ry, wat hom aangemoedig het om gewig te verloor.

Hy het toe wel aan die Argus in 2015 deelgeneem, en ook daarby ’n paar kilo’s afgeskud en by 154 kilogram gaan draai.

Die gewigsverlies was egter van korte duur, hy het daarna weer die gewig opgetel.

Van Oktober 2021 tot en met April 2022 het Francois weekliks sowat 12 kilometer geswem. Daarmee saam het begin om ’n leefstyl van onderbroke vas (intermittent fasting) te volg, hoewel hy erken dat hy toe nog nie veel daarvan geweet het nie. Hy het egter steeds in dié tydperk sowat 17 kilogram afgeskud.

Dié aktiwiteit het egter tot ’n halt gekom toe hy gesukkel het om ’n duikpak in sy grootte by ’n plaaslike verspreider in die hande te kry sodat hy in die winter steeds kon aanhou swem.

“Teen die tyd wat die duikpak uiteindelik by ons afgelewer is, was dit al bitter koud en hy het boonop nie gewerk nie.”

Ná ʼn familiewegbreek waartydens hy Jason Fung se boek, The obesity code, sowat vier keer deurgelees het, het hy meer gemaklik met onderbroke vas gevoel en wat dit alles behels.

“Met dié kennis, het ek besef dat mens nie ʼn pakhuis met ʼn kruiwa kan leeg ry nie. Ononderbroke vas was vir my die vurkhyser toe ek op die 8ste Augustus begin vas het.”

Aanslae van die publiek en ʼn geloofsreis daardeur

Francois het deur die jare nie net uitdagings ervaar met diëte en die volhoubaarheid daarvan nie, maar ook met die aanslae van mense wat wreedaardige woorde oor hom te sê gehad het.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Mense het dikwels in die publiek hard genoeg agter ons gepraat dat nie net ek nie, maar my gesin daarmee saam ook moes seerkry,” vertel ʼn bewoë Francois.

“Toe ek ʼn omvang van 2,1 meter gehad het, was dit die aanslae wat ek moes vat.”

Die rolstoel in hul musiekkamer was dalk die vuurhoutjie wat die vlam onder Francois aangesteek het, maar die motivering was om vir mense te wys dat hy werklik genoeg selfdissipline het.

Francois deel gereeld meer oor sy gewig- en lewensreis op sy YouTube-kanaal, Yourlife.co.za.

Wat sê die kenners?

Jéjéan du Plessis, ʼn Johannesburgse dieetkundige, meen vas is nie ʼn volhoubare lewensstyl nie. “Indien die individu weer terug begin beweeg na sy vorige leefstyl toe, is daar ʼn baie groot risiko dat die gewig wat verloor is weer opgetel word, indien nie meer as voorheen nie.

“Hormoonbalanse kan ook versteur word indien vas onverantwoordelik toegepas word. Dit sal lei tot ongereguleerde bloedglukose vlakke. Indien bloedglukose nie deur die loop van die dag onderhou word nie, verhoog die individu se risiko vir insulienweerstandigheid, wat weer sal lei na gewigstoename.”

Sy stel egter voor dat ʼn gebalanseerde eetpatroon met algemene verbeterings- en gesondheidsdoelwitte toegepas word om gewigstoename te beperk.

“Indien die individu van die begin af hierdie lewensstylveranderinge gebruik, sal daar gesonde gewigsverlies plaasvind, wat dan nie weer maklik opgetel word nie. Dit sal ook makliker wees om die gewigsdoelwit te onderhou ná aanvanklike gewigsverlies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chavonne ·

sterkte met jou transformasie. glo als sal mooi en goed uitwerk. waar daar ‘n wil is, is daar altyd ‘n weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.