Maak ’n plan vir beter konflikhantering

Foto ter illustrasie. (Foto: Tim Gouw/Unsplash)

Deur Tildie de Villiers 

Ons is oral en altyd in verhouding – met ouers, kinders, vriende en kollegas.

Ons spandeer ʼn groot gedeelte van ons lewens in ons werksomgewing. Dit is daarom van uiterste belang dat daar nie onnodige spanning heers, wat individue verhinder om hul werk na die beste van hul vermoë te verrig nie.

Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA), waar ons opleiding toespits op die gemeenskap gefokusde beroepe soos teologie, sielkunde en onderwys, bied uitstekende toerustingkursusse om spesifiek onderwysers in die werksomgewing te help en te bemagtig om die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, op ʼn daaglikse basis, effektief die hoof te kan bied.

Een van die struikelblokke wat onderwysers mee gekonfronteer word, is negatiewe interpersoonlike verhoudings met kollegas. Dit is dus nodig om onderwysers toe te rus met begrip en insig in hul eie kommunikasie- en konflikhanteringstyl én die van kollegas. Vanuit hierdie kennis word die onderwyser dan bemagtig om met ʼn wyer spektrum van hanteringsmeganismes die diverse uitdagings wat interpersoonlike verhoudings soms voortbring, doelgerig te kan aanspreek sodat beide partye gehoor word en voel dat hul sienswyse gerespekteer en belangrik geag word.

Wat is die uitkomste van goeie interpersoonlike verhoudings?

  • Praktiese kommunikasie- en luistertegnieke om veiligheid en konneksie in verhoudings met kollegas te skep, sodat albei partye gehoor, gesien en belangrik voel.
  • Identifisering van aspekte wat aanleiding gee tot individu se eie beskermende gedrag (veg, vlug, vries) tydens konfliksituasies en dié van ander en wat die oorsprong/ kern daarvan is.
  • Kennis en vaardighede om ʼn omgewing van veiligheid en vertroue te skep waarbinne eerlike kommunikasie kan plaasvind en verskille op ʼn volwasse, opbouende wyse aangespreek kan word.
  • Bewustheid van verskille en hoe elke perspektief waarde toevoeg (saam kan ons meer bereik).

Watter kommunikasiemodel word gebruik om bogenoemde uitkomste te verseker?

Deur middel van Imago-verhoudingterapie-tegnieke word die basiese fondasie van positiewe kommunikasie en belangrikheid van luister eerstens uiteengesit, spesifiek met die fokus op ʼn nuwe benadering tot interaksie met kollegas. Imago is ʼn Latynse woord vir “beeld”. Deur middel van hierdie terapie, laat terapeute individue in verhouding diep in hulself loer en ʼn oplossing vir hul probleme daar vind. Dit het in 1970 ontstaan ​​toe Harville Hendrix en Helen LaKelly Hunt ʼn beradingsmetode ontwikkel het om genesing te vergemaklik en toegewyde verhouding te bevorder.

Vanuit hierdie teoretiese raamwerk, word die onderwyser bewus gemaak van aspekte wat kan aanleiding gee tot veg, vlug en vries response en die oorsprong van hierdie beskermende gedrag. Riglyne word gebied hoe om tydens ʼn konfliksituasie anders op te tree. Dikwels is ons, as mense, geneig om te fokus op die simptome. Deur slegs hierop te fokus, vind daar nie betekenisvolle, langdurige verandering plaas nie. Die Imago-proses sal jou help om by die kern van die pyn en konflik uit te kom. As jy dit kan heelmaak, kan jy betekenisvolle en blywende verandering meebring.

Hoe werk die proses?

Die Imago-proses (dialoog) word verduidelik en prakties gedemonstreer deur middel van metafore:

  • gasheer/ gasvrou (sender van die boodskap)
  • gas/ besoeker (ontvanger van die boodskap);
  • die “brug” (“medium” om ander persoon se wêreld te gaan besoek)
  • die “ontmoeting” (transformasie wat plaasvind na die dialoogproses)

Nadat die onderwyser verstaan wat die proses behels en dat beide partye betrokke in ʼn konfliksituasie ʼn verantwoordelikheid het om die spasie tussen hulle weer veilig te maak, kan die dialoog begin. Dit is belangrik dat die onderwyser bemagtig word om hierdie aspekte toepaslik te kan harnas deur die volgende stappe te gebruik in die dialoogproses:

Stap 1: Stuur, spieël en maak seker

Wanneer jy die sender (gasheer/ gasvrou) van die boodskap is, noem die onderwerp wat jy wil bespreek. Verwys slegs kortliks na spesifieke gedrag van die ander party.

Wanneer jy die ontvanger (gas/ besoeker) van die boodskap is, luister met die doel om terug te spieël. Dit beteken dat jy vir ʼn oomblik jou eie gedagtes en gevoelens opsy moet skuif − jou eie optrede – vir die doel om die ander party se punt in te sien.

Stap 2: Opsomming

Die ontvanger som die sender se boodskap 100% akkuraat op.

 Stap 3: Validering

Die doel van validering is om te sê “ek sien”, nie noodwendig “ek stem saam” nie. Jy hoef nie met jou kollega saam te stem ten einde hom/ haar te bekragtig nie.

Stap 4: Empatie

Die doel van empatie is om die emosies wat jou kollega stuur te herken, uit te reik daarna en, in ʼn sekere sin, te ervaar. Die empatie-proses behels dat jy aanvoel en waag om te raai wat jou kollega se gevoel is of was (nie wat hy of sy dink nie).

Stap 5: Ruil om

Ontvanger word sender en sender word ontvanger.

Kennis en vaardighede wat ontwikkel word:

  •  Vermoë om aandagtig na ander te luister en hulle siening/ standpunt te spieël en te valideer.
  • ʼn Meer bewuste en intensionele ingesteldheid van eie gedrag en reaksie tot ander.

Verdere opleiding vir onderwysers:

Die AP Akademie bied in November ’n reeks ope aande vir sy Toerustingspuntkursusse aan. Die reeks artikels sal die volgende onderwerpe aanspreek:

  • Probleemgedrag in die klaskamer met Mia Coertze
  • Neuromotoriese ontwikkeling en integrasie met Adél Breytenbach
  • Seksuele misbruik en etiek met Nolene Rust
  • Kreatiwiteit en innovasie met Freek De Villiers
  • Gesonde interpersoonlike verhoudings met Tildie de Villiers
  • Uitbranding en selfsorg met Marlene Pienaar

Vir meer inligting oor die TPK ope aande, besoek www.apa.ac.za/toerustingspuntkursusse-tpk-ope-aande/

Vir meer inligting oor TPK, besoek www.apa.ac.za/toerustingspuntkursusse/of stuur ‘n e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Toevalling is ek tans besig met so ‘n kursus. Ek was onlangs bevorder tot bestuurder en nou moet ek ophou werk, en ander mense aan die werk sit en seker maak hulle is nie lelik met mekaar nie. Is darem ‘n lekker kursus. En dit behandel dieselfde punte as hierbo. Ek dink dis baie waardevol en nuttig.

Leon ·

Ek het dieselfde punte op ‘n ander kursus oor verhoudings gesien. Dit lyk na die norm, tog ontbreek dit meeste mense se vermoëns.

annie ·

Ek het ok al alles probeer buiten die nuutste kick in die VSA om giftige paddas te lek vir veelkleurige hoë hoogtes. Weet iemand waar hou SA sy giftige paddas? Nie dié waarmee Cyril boer vir latere kook en uitvoer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.