Maak ’n verskil met jou plastiek

Re.Bag.Re.Use kussingsloop uit ou video-en kassetbande (Foto: Verskaf)

Het jy geweet dat die nuttelose plastiek- en leë broodsakke wat jou huis vol lê nou in pragtige veeldoelige items herskep kan word?

Vir die meeste mense is ’n leë plastieksak net ’n stuk gemors, maar vir ’n groep vroue van Houtbaai en Pretoria verskaf dit ’n inkomste om kos op die tafel te sit.

Strandsakke, hoede, badkamermatjies en kussingslope is van die vele produkte wat die Re.Bag.Re.Use-organisasie uit jóú oortollige plastiek kan skep, en dit is stylvol.

“Die produk wat ons oorspronklik aan die gang gekry het, is ’n veeldoelige sak, gehekel en hergebruik van leë broodsakke, maar namate die projek bly groei en momentum bou, word bykomende produkte by die produkreeks gevoeg,” sê Regine le Roux, dryfveer agter die inisiatief.

Volgens Le Roux is tekstuurpatrone, herlewing van 1980 se modes en volhoubaarheid die kern van 2022 se neigings wat deur modekenners geïdentifiseer is.

Die projek wil vernietigende plastieksakke in bruikbare produkte omskep om te verhoed dat dit langs die pad, in ons pragtige natuur en oseane, of op stortingsterreine beland.

’n Persentasie van al die verkope gaan na plaaslike liefdadigheidsorganisasies, waarvan die Sungardens-hospies in Lynnwood Glen, Pretoria, een van die vele begunstigdes is.

“As jy leë broodsakke, koeriersakke, vrugte- of groentepakkies of selfs ou video- of kassetbande het, laai dit asseblief by Hirsch’s Centurion af,” moedig Le Roux aan.

Dié span gaan Saterdag 3 September self by Hirsch’s wees, dan kan jy self sien watter pragtige items hulle uit afval kan maak.

Margaret Hirsch, bedryfshoof van Hirsch’s, vertel dat hulle dié projek ten volle ondersteun.

“Om vroue in ons gemeenskap te bemagtig en om meer plastiek uit die omgewing te hou, is sleutelaspekte van ons onderneming. Dit is vir ons fantasties om te sien hoe vroue van die gemeenskap hul hekelvaardighede gebruik om iets wat lelik en vernietigend is, te omskep in iets moois wat ’n modestelling kan maak.”

‘n Badkamermat gemaak van plastieksakke (Foto: Verskaf)

Hoe kan jy ʼn verskil maak?

  • Bêre jou leë plastieksakke en skenk dit aan die Re.Bag.Re.Use-span. “Ons span is gretig en gereed om dit op te sny en in pragtige herbruikbare produkte te omskep,” sê Le Roux. Die span sal 3 September by Hirsch’s Centurion wees, “enige skenkings is welkom”.
  • Koop ’n Re.Bag.Re.Use-produk.
  • Maak ’n skenking deur BackaBuddy om geld vir dié kreatiewe sakeonderneming in te samel.
  • Vir enige navrae kan jy Le Roux direk op WhatsApp by 083 302 1528 nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.