Die helende krag van kreatiwiteit

Liza Roets van Elizabeth Studios het ʼn lang, seer pad gestap om by haar roeping uit te kom. (Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Liza Roets van Elizabeth Studios het ʼn lang, seer pad gestap om by haar roeping uit te kom. Sy deel haar verhaal met ons lesers.

Liza vertel dat sy ʼn vreeslike nuuskierige kind was wat haar na ʼn liefde vir lees gelei het, asook om dinge uit te vind en te verstaan. Vanaf 8-jarige ouderdom het sy klavierlesse geneem en op 11 haarself leer kitaar speel. Dans, sing, musiek, drama, teken en skryf het haar van kindsbeen af aangegryp, so ook alles wat met wetenskap en die heelal te doen gehad het.

Boonop was sy sportief en het voor skool alreeds vyf dae per week gimnastiek vir drie ure per dag gehad. “Dit het baie dissipline, toewyding en uithouvermoë ingeboesem. Ek was baie lief vir hokkie, netbal en swem en het ook baie tyd tydens my grootwordjare op my pa se wildsplase deurgebring. Op 7-jarige ouderdom het ek die pad gevat met die driewiel, piekniekmandjie en al.” Toe Liza agt jaar oud was, het haar ouers ʼn strandhuis in Jeffreysbaai gekoop waar hul skoolvakansies deurgebring het. “Ek het in die son en see geboer, visgevang, die seelewe op die rotse verken; dit was die beste tyd van my lewe. So het ʼn onbeskryflike liefde en verkenning van die natuur ontwikkel en dit het nooit opgehou nie.”

Liza vertel toe sy klein was wou sy “alles” word, maar die kunswêreld, wetenskap en om mense te help het haar die meeste bygebly. “Ná skool het ek saam met my kêrel en sy band gaan reis. Kort daarna het ons paaie geskei en het ek in die Kaap ʼn 3-jaar IT-kursus gaan doen.”

Musiek was steeds deel van haar en sy het begin liedjies skryf toe sy 19 jaar oud was. “In 1996 het ek een van my oorspronklike liedjies ingeskryf vir die KFM – Create a Star-kompetisie waar ek ʼn finalis was. Musiek is steeds vir my en my kinders ʼn groot bron van genot.”

Nadat Liza haar studies voltooi het, het sy voltyds vir Nashua in Kaapstad gewerk waar sy ʼn passie vir die besigheidswêreld ontwikkel het. Gedurende die volgende paar jaar het Liza ʼn eiendomsmaatskappy in Hermanus gehad, by ʼn rekenmeestersfirma in Humansdorp ingekoop en vir ʼn paar maande saam met dr. Thandeka Kunene van House of Hemp gewerk. “Dié formidabele vrou het my aan sosiale ontwikkeling blootgestel en só het my passie vir sosiale kwessies vlerke gekry.”

Liza het aangehou om in haar vrye tyd kuns te beoefen, wat musiek skryf, kitaar speel, fotografie, klankingenieurswese, akriel- en olieverf, naaldwerk en allerhande ander crafting insluit. “Ek het met tye gevoel dat ek nie heeltemal lewendig is as ek nie iets skep nie.”

In 2004 het Liza ʼn tweeling seuntjies verwag, maar in haar twaalfde week het een van die embrioniese sakkies geskeur. “Die dokter het gesê dat my baba sou disintegreer. Op 26 weke het ek ʼn niersteen gekry en die hoë koors het my in kraam laat gaan. Min het ek geweet dat my baba verder ontwikkel het. Johan se hartjie het al op pad hospitaal toe gaan staan. Klein Jayden het vir ʼn uur ná die noodkeiser geleef. Ek was nog onder verdowing toe hy gesterf het.”

Toe sy wakker geword het, kon sy hulle vashou; iets waarvoor sy vandag baie dankbaar is. Die aand het haar bloeddruk geval en is sy in hoësorgeenheid opgeneem waar sy vir twee weke weens septisemie, maagobstruksie en vog op haar longe om haar lewe geveg het, dit terwyl sy van die keisersnit moes herstel. “Na die tyd het ek probeer rou, maar daar was weens omstandighede nie regtig tyd nie. Ek dink die ergste was om die goedjies in hul kamer op te ruim, die gehunker om te borsvoed en te nurture.”

Liza het vir Arne, haar sielsgenoot en beste vriend, in 2005 ontmoet. Karma is in 2006 gebore en Alexander ʼn jaar later. Arne was vanaf kindsbeen ʼn tipe 1-diabeet en was op chroniese medikasie vir bloeddruk en cholesterol. Hy het ook aan erge depressie gely en op 28 Augustus 2008, vyf dae ná Liza se 31ste verjaarsdag, het Arne selfmoord gepleeg. “Die maande wat gevolg het, is steeds ʼn blur. Ek het alleen in Jeffreysbaai gebly en het ʼn inslaaphuishulp, Sophia, gehad. Ek onthou die min slaap, die skok, die ongeloof, die moegheid, die gemis – daar was nie regtig tyd om te rou nie. Ek onthou wanneer ek met emosie oorstroom was, het ek onder my studeerkamertafel ingekruip en myself probeer troos. Dan het ek weer die trane afgevee en met die kinders gejol.” Arne se dood het haar reeds bestaande eksistensiële angs vererger, gepaardgaande met haar nageboorte depressie na Alexander se geboorte.

“Daar was ʼn paar traumatiese gebeurtenisse gedurende my 43 jaar op hierdie pragtige aarde. Aanhoudende trauma wat jy nie aanspreek nie, nie erken nie, nie laat heel nie … Dit het alles ʼn invloed op ʼn mens se besluite en algehele welstand. Al dink jy dis normaal en dat om voort te stoom en sterk te staan die beste opsie is, is dit beslis nie.”

Na Arne se dood het Liza Kaap toe getrek en was sy by ʼn NGO betrokke waar sy met sosiale kwessies in Suid-Afrika, Namibië en die DRK gewerk het. “Ek was betrokke by sosiale entrepreneurskapsgeleenthede. Ek het nie besef hoe hard die swaarkry van mense my eie trauma sou trigger nie, en ek sou ook nie kon dink dat dit moontlik was vir trauma om in my liggaam te manifesteer, wat my funksionering sou aantas nie.”

Liza sing ook graag. (Foto: Verskaf)

In 2016 het ek my huis in die Kaap verkoop en teruggetrek Jeffreysbaai toe. Die skielike stilstand weg van die gehustle en bustle en konstante survival mode waarin ek geleef het, was ʼn besluit wat ek nie ligtelik geneem het nie. Ek het dae omgehuil, maar dit was soos ʼn homecoming of sorts – terug na jouself. Trauma wat ʼn mens ignoreer sit om in PTSD, en dit is aaklig.”

Liza het doelbewus die besluit geneem om haarself terug te versorg na ʼn veilige, emosionele plek, en dit is tydens dié proses dat sy glas ontdek het.

“Kuns was my enigste uitweg; om iets uit niks te skep nie. Daardie spasie tussen niks en iets is waar my onderbewussyn leiding geneem het. Kuns is nie baie rasioneel nie en ek was partymaal sprakeloos hoe dit moontlik is dat so ʼn proses soveel emosie na vore kon bring. Kuns is morsig, dit is chaoties, ʼn mens is alleen, facing your fears, maar ook vertrou jy jouself genoeg om te sê wat dit is wat jy diep binne-in jou voel. Al wat my emosies nodig gehad het, was vir my.

Haar seer en hartseer het haar vertroosting nodig gehad; haar woede het haar liefde en vriendelikheid benodig. “Ons is ʼn sosiale spesie wat kuns, musiek en fotografie benodig om ons toe te laat om menslikheid in mekaar te vind. Dié besef was lewensveranderend en het vir my die genesing gebring waarna ek so lank gesoek het.”

Glaskuns het haar nog altyd gefassineer. Toe sy in Hermanus gebly het, het sy gereeld ʼn winkel besoek en ure lank gestaar na alles wat hulle maak. “My intensie toe ek na Jeffreysbaai getrek het, was om ʼn kunsgalery oop te maak, maar ek was nie presies seker wat ek wou doen nie. Ek het ʼn miljoen idees gehad, maar nie ʼn plan nie. Eendag het Karma vir my ʼn glasbak op Instagram gewys, en dis waar als begin het. Ek het geen glaskursusse gedoen nie, net ʼn jaar se navorsing. My ouers het my gehelp om die skeppende spasie reg te kry.”
Die eerste glas wat Liza gesmelt het, was ʼn stuk wynbottel. Dit was nie baie mooi nie, maar dit was die begin van hoe haar liefde vir wetenskap saam met haar liefde vir kuns en haar onversadigbare drang om gesond te raak sou smelt. “Ek het lank geëksperimenteer en toe slaan Covid toe. Ek het dit van soggens tot saans geoefen. Ek kon nie juis vir idees google nie; daar is geen inligting nie.  Oor die afgelope twee jaar het ek ʼn tegniek ontwikkel waarop ek baie trots is en wat eie is aan Elizabeth Studios.”

(Foto: Verskaf)

Liza sê om te eksperimenteer is haar gunsteling deel. Elke stuk is uniek. “Ek maak my glasjuwele uit my hart, uit my daaglikse ingesteldheid of gevoelsplek. Soms doen ek stukke met dieselfde styl, maar dis altyd verskillend. Ek is ook nie so erg gepla met ‘presiese’ vorms nie. Ek doen geometries sowel as vreemde vorms, byna soos wat die lewe is.”

Tans maak Liza slegs glasjuwele en kleioorbelle. “Sodra ek die gepaste gereedskap kan aanskaf, beplan ek nog produkte. Ek is in die proses om my glasontwerpe op funksionele items asook materiaal te plaas. My inspirasie is ʼn mengelmoes van my kinders se ongelooflike volharding, die natuur, wetenskap, musiek en traumaheling. Ek het ʼn signature pendant met die naam Follow the sun, wat vanuit my moeilike dae spruit wanneer ek net eenvoudig my sambreel en stoel vat en op Jeffreysbaai se strand gaan sit en alles rondom my inneem. Vitamiene see en D is van die beste medisyne vir enige kwaal onder die son!”

Liza sê dit was en is nog steeds nie maklik om ʼn enkelma te wees nie. “Ek dink daar is ʼn groot krag in alleen staan. Die metamorfose na ʼn wildernis, groot oop spasies, droogte, onontdekte oases en ʼn hemelruim vol sterre wat jou lei na waar ook al jy wil gaan. Daar is vryheid van gees en oorlewing word ʼn kuns.”

(Foto: Verskaf)

Winkels waar Liza se glaswerke tans te koop is:

  • Mooi-Mooi – Hermanus
  • Intrigue Boutique – Southdowns Shopping Centre Pretoria
  • Miss Flores – décor, gifts & flowers – Brooklyn Pretoria
  • Flower Boutique – Jeffreysbaai
  • Country Khaya – Jeffreysbaai

Besoek Liza se Facebook-blad of Instagram-rekening vir meer oor haar glaskuns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.