Die Sao Paolo-tronk het haar ‘heelgemaak’

Patricia Dirker (Foto: Verskaf)

As sy nie in hegtenis geneem was nie, sou sy haar net dieper in die metafisika bevind het. Maar toe besluit God om haar terug te neem, vertel Patricia Dirker (54) wat vier jaar en twee maande onder ondenkbare omstandighede agter tralies was. Patricia praat in ‘n sagte stem, haar hare is lank en los en haar kleredrag Boheems. ‘n Ware kunstenaarsiel.

Ja, en soos wat die geval met talle vroue is, het sy in die strik getrap om gewetenlose misdadigers se dwelmmuil te word. Die rede? Soos in soveel ander gevalle, was sy ‘n enkelma wat raadop was oor hoe om die pot aan die kook te hou. Toe beland sy in ‘n smerige en bouvallige tronk wat deur dwelmsindikate oorheers word en waar talle Suid-Afrikaanse vroue vir dieselfde misdaad sit.

Patricia vertel: “Hoewel ek vir internasionale dwelmhandel in hegtenis geneem was, was ek nooit ‘n dwelmverslaafde nie.

“Ek is ‘n geskeide enkelma van drie seuns. Ek het in uiteenlopende rigtings studeer en het Uruguay in ‘n stadium met ‘n kuns- en kultuurreis besoek.”

Hoe het dit gebeur dat sy ‘n dwelmmuil geword het?

Toe ‘n wildvreemde vrou Patricia uit die bloute gebel en ingelig het dat sy ‘n aandeelhouer in ‘n in- en uitvoermaatskappy is en haar genooi het om vir die maatskappy te werk, het die gevaarligte dadelik geflikker.

“Ek het my kinders teen sulke dinge gewaarsku. ‘Moet asseblief nooit iets doen wat julle in die tronk sal laat beland nie, ek sal dit nie kan hanteer nie’.”

Ondanks haar vermoede, het sy nogtans ‘n afspraak met die vrou gemaak wat haar probeer oortuig het om “juwele” vanaf Suid-Amerika in te bring Suid-Afrika toe. Haar jongste kind, toe 12, het haar na die onderhoud toe vergesel. Hoewel sy gek oor reis was, het sy vir die vrou gesê: “Sien jy hierdie kind. Ek het drie sulke kinders. Ek kan nie in ‘n buitelandse tronk gaan sit nie.”

Die vrou se reaksie was dat sy ook kinders het en nooit so iets aan haar sou doen nie. Sy het heel opgevoed voorgekom en Patricia het haarself oortuig dat daar niks verdag omtrent die vrou was nie.

Uiteindelik het sy vir die lokaas van R10 000 geval.

Sy het later opdrag gekry om die uitvoerende direkteur van die “maatskappy” in Fourways te ontmoet. Weer eens spreek sy haar kommer uit dat iets verkeerd is en dat hulle haar moet vertel of hulle dwelms in die juwele versteek waarop die man ontkennend antwoord.

Die vrou sê later: “Patricia, hulle gaan dwelms in die juwele sit, wil jy dit doen of nie?”

“Die volgende oomblik hoor ek myself ‘ja’ sê. Maar ek besluit toe eers om my eks te bel en te vra om te help om ons huur te betaal. Toe hy weier, besluit ek om voort te gaan.

“Ek is in ‘n hotel ingeteken, want ek moes die volgende oggend vlieg. Ek het dié aand besluit om te bly, maar die dwelmsindikaatlede daag toe om eenuur die nag by my op en dreig my met die wete oor my huisadres en waar my kinders skoolgaan. Toe ek hulle vra watter dwelms ek moet vervoer, wou hulle niks sê nie. Ek het later gedurende my inhegtenisneming uitgevind dis kokaïen.

“Die volgende oggend het hul ‘prokureur’ my lughawe toe geneem. Ek sou glo by mense in Sao Paulo bly. Alles was baie verdag.

“By die lughawe aangekom, besluit ek weer om kop uit te trek – ek het ‘n huurmotor gekry om my Midrand toe te vat, en hulle gebel en gevra om my daar te ontmoet sodat ek die vliegkaartjie en hul geld kan teruggee. Toe ek in hul motor klim, sit daar twee mans. Toe ek vir hulle sê ek is jammer, maar ek kan dit nie doen nie, slaan hy die stuurwiel uitmekaar en skree en vloek my. Ek het nie ‘n keuse gehad as om die volgende oggend te vlieg nie.

“Daar was niemand om my in Sao Paulo te ontmoet nie. Almal praat Portugees en ek kon niemand bel nie. Uiteindelik word ek deur die sindikaatlid daar, Johnathan, na ‘n hool van ‘n hotel met vrot matte geneem. Johnathan het my geld gevat sodat ek nie kon wegloop nie. Dit het so gestink dat ek nie kon slaap nie. Gelukkig het ek geld in my stewels weggesteek en is toe na ‘n ander hotel. Ek wou egter so gou as moontlik na Suid-Afrika terugkeer. Ek het my eie drasak gehad en moes nog een van Johnathan neem.

“Ek het voorheen baie gereis en het my ou en nuwe paspoort saamgeneem sodat hulle moes dink dat ek ‘n gesoute reisiger is en dus teen agterdog gevrywaar kon word. Maar die teendeel was waar. Hulle dink juis omdat jy baie reis, daar dwelms betrokke is.

“Op die lughawe gekom, tik ‘n man my op die skouer en beveel my: ‘Please come with me’.”

“Hulle neem X-straalfoto’s en druk ‘n mes in die sak en hier kom poeier uit. My hart het gaan staan. Ek bedank net daar die Vader, want skielik weet ek hoekom ek daar was. Om terug te keer na Hom toe.

“Ek is eers ná die naweek se aanhouding na die gevangenis toe waar ek lank verhoorafwagtend was. Ek het vir die eerste keer gehuil toe ‘n Argentynse vrou vir my vertel hoe rof die tronke is. Dit wemel van rotte en lei tot talle gevangenes se dood.

“Intussen help ek die polisie om vir Johnathan vas te trek. Ek het hom gebel en gesê my bagasie is oorgewig, hy moet sy sak kom haal. Tevergeefs.

“Ek is een oproep toegelaat waarin ek ‘n vriendin vra dat my eks langer na my kinders omsien.”

“Dit was aaklig in die Sao Paolo-gevangenis. Ek het my eerste sel met die Mafia gedeel – die dwelmbase wat die PCC (“666”) genoem is wat van die tronke in Brasilië beheer en selfs polisiebeamptes as lede het.

“Ons sel was so klein dat daar nie slaapplek was nie. Die twee sementstapelbeddens het so min ruimte tussenin dat mens nie regop kan sit nie. Die ekstra twee gevangenes slaap halflyf onder die sementbed in. Jy kry ‘n dun sponsmatrassie en dun kombersie om die yskoue winterlug wat deur die vensters (wat almal uitgeslaan is) kom, af te weer. As dit reën, is alles onder water. Daar was nie eens telefoonhokkies van waar jy iemand kon bel nie.

“Jy weet nie wie jou vriend of jou vyand is nie. Ek het vinnig Portugees geleer. Ek was ondervoed, my vel het uitgeslaan en my hare het uitgeval. Jy eet omtrent net rys, ‘n gekookte eier en vrot vleis.

“Die regters in Sao Paolo is nie opgelei nie en doen aanlyn aansoek vir die pos. Dis die staatsaanklaer wat alle mag in sy hande het en besluit hoe lank jy moet sit. Vir dwelmhandel kan jy minstens 5 jaar en tien maande tot 15 jaar kry.

Dan is daar die vroue wat op jou verlief raak en met mekaar baklei. “Een van die vroue het vir my selmaat aanmaakkoeldrank waaroor sy gek was, gegee. Dit was met slaapmiddels en dwelms gemeng. Haar hart het agt keer gaan staan.

“Ek was baie ongewild in die tronk omdat ek altyd geglimlag en vir almal gebid het. Ek is as ‘n heilige poppie beskou. Daar was ook twee jong Britse meisies wat beplan het om die ongewilde faxinas (skoonmakers) van Kaapstad wat ook in gesagsposisies was en dissipline moes handhaaf) in die badkamer aan die brand te steek. Ek self is met sigarette gebrand. Daar is ook weens jaloesie ‘n selfoon in my sel geplant as gevolg waarvan ek drie maande se werkremissie verloor het. Jy kon uit vrees dat jy vermoor word, nie by die bewaarders kla nie, want hulle was kop in een mus met die Mafia.”

Patricia het gelukkig besoeke van haar eksman, haar ma, broer, suster en haar kinders ontvang.

“Ek besef nou dat ek my skeppingsdoel in die tronk gevind het. Alles in my lewe gaan nou oor heel wees. ‘n Holistiese leefwyse waar liggaam, siel en gees in harmonie is. Ek doen vandag lewensafrigting, berading vir paartjies en is by antidwelm- en mensehandelorganisasies betrokke. My lewe gaan oor mentorskap, die regte leefstyl en motiveringslypskole. Ek is ook ‘n welstandkonsultant.

“Al my ervarings sou waardeloos wees as ek nie aktief tot my sosiale verantwoordelikheid-inisiatiewe bygedra het nie. My rol is om mense emosioneel by te staan en dwelmmuile te help rehabiliteer. My metamorfose van verleentheid na geleentheid is voltooi.”

Besoek gerus Patricia se webblad by: www.akaia.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Riana

Wat n ongelooflike storie wat net weer bewys hoe Almagtige God ons dien. Ek haal my hoed af vir Petricia en dank God vir haar redding en werk wat sy nou doen

Botterblommetjie

Ek het jou storie deurgelees…. Jy is weereens n voorbeeld dat die Here jou sal deurdra… Ek glo dat God ons Christene sal dra in die tyd van beproewing in ons land… Ek hou net vas aan Sy beloftes maak nie saak wat die media of mense sê nie…

Chantel

Dis bitter jammer. My vraag is egter, sy het nie geld vir huur nie, maar sy het die wêreld vol getoer.

Misky

Dis omtrent n verhaal, maar jammer ek dink dis vol gate…… Toe sy van plan verander het en hulle in die motor daarvan inlig, het hulle die stuurwiel stukkend geslaan….. En toe gaan sy nie polisie toe en vertel alles en reel vir beskerming vir haar en haar kinders nie. Jammer, paar dinge klink vir my nie heeltemal reg nie. Moes seker steeds n ervaring en leerproses wees, maar die hele aanloop klink bietjie aangelap