Matriek 2020, die jaar van leë foto-albums

Claire sê haar skool het ongelooflike tradisies. “Ons het hierdie jaar net nie die voorreg om vir die laaste keer aan sulke wonderlike geleenthede deel te neem en daardie herinnerings met ons maats te maak nie.” (Foto: Verskaf.)

Deur Maretha Botes

Matrieks landwyd is besig met voorbereidings vir die rekordeksamen wat binnekort begin. Baie kyk met ‘n seer hart terug op dié jaar wat veronderstel was om die hoogtepunt van hul skoolloopbaan te wees en nou byna op ‘n einde is sonder enige van die matriekbaldadighede waarna hulle uitgesien het. Die klas van 2020 sal eerder hul laaste jaar onthou as die een waarin baie van hul matriekdrome aan skerwe gespat het. Matrieks landwyd is onder geweldige akademiese druk, voel angstig oor die eksamens wat voorlê, en sukkel om die teleurstelling van “wat sou wees” te verwerk. Mikela Livesey van die Hoërskool Stellenberg in Durbanville en Claire Bouwer van die Hoërskool Sasolburg deel die hartseer én die ligpunte.

Claire word deur haar familie en goeie vriende geken as iemand wie se glas halfvol is. Sy is ‘n optimis en probeer liewer die silwer randjie as die donker wolk raaksien, sê haar ma. Dié omgekrapte jaar het egter sy merk gelaat en hoewel Claire aanvaar het “dit is wat dit is”, is daar steeds dae wat sy sukkel om die trane te sluk. Om te huil is vir haar ‘n uitlaatklep, sê dié amper-grootmens. So ook kan sy afblaas by haar familie en vriende deur oor haar gevoelens te gesels. Sonder hul ondersteuning sou sy beslis nie deur hierdie abnormale jaar met sy berg uitdagings kon kom nie. Sy sê die jaar was allesbehalwe wat sy verwag het dit sou wees.

“Die moeilikste was om die “nuwe normaal”-jaar te aanvaar. Ons moes aanvaar dat ons nie ‘n ‘behoorlike’ matriekjaar gaan hê, en dat daar niks sou kom van al die dinge waarna ons vier jaar lank uitgesien het nie. Ek het twee ouer broers en het altyd met blink oë geluister na alles wat hulle in matriek aangevang het. Ek was só opgewonde oor my laaste jaar op skool, maar het hard met die werklikheid kennis gemaak. Niks hiervan sou vir ons waar word nie,” vertel sy.

“Ons weet, as die jaar verby is, is dit vir altyd verby. Ons kan dit nooit oor kry nie.

“Ons skool het ongelooflike tradisies. Ons het hierdie jaar net nie die voorreg om vir die laaste keer aan sulke wonderlike geleenthede deel te neem en daardie herinnerings met ons maats te maak nie. Ons het vir maande lank voorberei en uitgesien na die hokkie-eindstryd teen Suid-Afrika se nommer een-hokkiespan (hoërskoolmeisies) en was seker dat ons hierdie jaar daardie eerste plek sou kon inneem. Dit kon nie gebeur nie. Ons matriekafskeid het in die stof gebyt en baie van ons sit met halfklaar rokke en leë fotoalbums. Ek ervaar buitengewone angstigheid en stres en ek weet my vriende ook. Ons is dankbaar vir elke onderwyser se ekstra tyd en ekstra klasse, want ons weet ook ons onnies gaan deur ‘n baie rowwe tyd.

“Ek mis dit om net vry te wees, om nie bekommerd te wees oor ‘wat as ek dit kry’ nie, om my maats te kan drukkies gee en sonder ‘n masker skool toe te gaan sodat mense my kan sien glimlag. Ek mis die vryheid van normaal wees. Dit gaan nog ‘n rukkie duur, ek weet. Ons weet dit. Ons weet ook as ons hierdeur kom, kan ons deur nóg moeilike tye kom. Dis net hartseer dat dit moes gebeur, en dit was ‘n rowwe rit tot hier!”

Buiten die druk wat die kinders het om deur hul skoolwerk te kom, het die matrieks in werklikheid nog geen rus gehad nie. Claire se ma, Monique Bouwer, verduidelik:

“Daar was nie vakansietyd waarin hulle net kon asem skep nie, want niemand het regtig geweet of, ás hulle ‘n breek vat, hulle betyds deur al die werk gaan kom nie. Alles was net so onseker vandat inperking aangekondig is. Mense dink die matrieks het minder skool gehad, terwyl hulle in werklikheid nog nooit opgehou het met skoolgaan nie. Skool was net by die huis, onder ander omstandighede. Onderwysers en kinders wou nie kanse vat en agter raak nie. Die kinders is moeg, en ons is nie eens seker of daar ‘n kort breek vir die matrieks gaan wees tussen rekordeksamen en finale eksamen nie,” sê sy.

Mikela sê die uitstel van die tweede kwartaal het aanvanklik opwindend geklink, maar die opwinding het vinnig soos mis voor die son verdwyn en ‘n nuwe werklikheid het vir hulle (die matrieks) gewag. Sy het vinnig besef dat die gewone matriekdinge nie gaan gebeur nie. Daar sal nie ‘n matriekafskeid wees nie, daar sal nie allerhande ander wonderlike lawwighede wees nie.

Mikela een van haar reddingsboeie in 2020 was die kalmerende en rustige omgewing tuis en uitwerking van my ouers. (Foto: Verskaf.)

Maar dié donkerkop was egter vir geen oomblik van plan om die onsekerheid ‘n houvas op haar positiewe ingesteldheid te gee nie. Sy het vinnig planne gemaak om gevoelens van depressie te keer.

Mikela sê: “Ek en my vriende is baie na aan mekaar. Dit was geweldig sleg om mekaar skielik nooit te kon sien nie nadat ons daaraan gewoond was om mekaar elke dag te sien en te omhels. Ek is dankbaar dat my ouers my toelaat om elke paar dae video-oproepe met my beste drie maats te doen. My ouers verstaan hoe belangrik vriendskap en kameraderie in hierdie ekstreem tye is. Aan die einde van so ‘n sessie beplan ons presies wanneer ons die volgende oproep gaan doen. Dit skep sekerheid in onsekere tye, asook oomblikke waarna ons kan uitsien. Dit word bakens van hoop wat ons motiveer om aan te hou en ons beste te doen tot die volgende ‘bymekaarkoms’.

“My tweede reddingsboei was om getrou my aanlynklasse by te woon. Ek is deel van ‘n baie spesiale klas. Ons het ‘n spesiale band en verhouding met al ons onnies. Ek het gedurende die eerste week van inperking, voor ons met aanlynklasse begin het, skielik besef watter geweldig belangrike rol onderwysers in my lewe speel. Hulle het soos ‘n tweede linie ouers geword!

“My derde reddingsboei was die kalmerende en rustige omgewing tuis en uitwerking van my ouers.

“Nóg ‘n oorlewingsmeganisme vir my was om roetine te skep. Om heeldag in pajamas rond te loop en in pajamas klas te hê, het nie vir my gewerk nie. Ek staan agtuur op, trek aan en eet saam met my familie ontbyt. Ek maak ook tyd om pret te hê. Al is dit saam met jou gesin – speel, lag en doen dinge saam wat jou laat ontspan. Dit is net so belangrik as om getrou jou skoolwerk te doen en voor te berei vir die eindeksamen.”

Mikela se ma, Cynthia Livesey (eienaar van Soetlief.co.za), sê min mense besef die kinders het nog nooit ophou skoolgaan nie en hul koppe is nog heeltyd besig.

“Die media hou aan praat oor verlore skooltyd. Ons kinders het géén skooltyd verloor nie. Eintlik meer as normaal skool gehad. Al die tussenin nie-akademiese dinge wat skooltyd vreet, het nou weggeval en die kinders het nét skool gegaan.

“My grootste bekommernis met Mikela was nie afwesigheid van skool nie, want ons het nog heeltyd ‘geskool’, maar eerder dat hulle nie aftyd gehad het nie. Ek hou maar dop en besluit self wanneer sy ‘n langnaweek moet neem. Nou skryf hulle die eindeksamen later…nóg meer skool. Matriek is gewoonlik ‘n kort jaar. Nou rek dit uit soos ‘n stuk kougom.

Ek kan maar net my hoed afhaal in dankbaarheid vir ons onderwysers. Hulle is regtig daar vir die kinders. Selfs op ‘n Sondagmiddag toe daar vrae was oor werk, het ‘n onnie vinnig ‘n aanlynklas gereël om dinge te verduidelik. Nou die aand stuur Mikela vir haar onderwyser ‘n boodskap dat sy doodeenvoudig nie meer reguit kan kyk nie, en haar taak nie kan klaarmaak nie. Sy sou dit eers die volgende oggend kon instuur. Die onnie het kalm terug geantwoord met ‘n hartjiesimbool. Waar in jou lewe kry jy dit? So wonderlik! Dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.