Bakkie-oorlog: Word die Triton onderskat?

Hier in sonnige Suid-Afrika is ons darem bitter lief vir ons bakkies. Ek wonder hoe ons vergelyk met ander lande soos Australië en Amerika as dit kom by bakkies teenoor ander soorte voertuie. Nietemin, die twee sterkste mededingers in Suid-Afrika is, met ʼn redelike marge, Toyota se Hilux en Ford se Ranger.

Deesdae word daar by die 1 000 eenhede elk van Isuzu se D-Max, Nissan se Navara en GWM se P-Series maandeliks verkoop. Mitsubishi se Triton en Mazda se BT-50 suig aan die agterspeen. Hoekom? In die Mazda se geval kan ek presies sê hoekom – die vering is ʼn enorme mislukking. Die bakkie se rit is onaanvaarbaar.

Maar wat van die Triton? Dit is ʼn betroubare Japanner met ʼn mooi ontwerp. Sy proporsies is netjies, en die pêrelwit glanskleur is bitter mooi. Sy binneruim het steeds ʼn Japannese gevoel, maar is beslis lekker luuks. Daar is al die truuks wat mens van ʼn moderne voertuig verwag, naamlik leersitplekke, klimaatbeheer, outomatiese ligte en ruitveërs, Apple CarPlay en Android Auto – alles. Om nie te praat van goedjies wat vanselfsprekend is nie, soos elektriese vensters en kragstuur.

Onder die kap bêre Mitsubishi ʼn lekker 2.4-viersilinderturbodieselenjin wat 133 kW en 430 Nm bied. Dit is voorwaar lekker sterk. Die enjin is gepaard aan ʼn 6-spoedratkas en is beskikbaar in 4×2 óf 4×4. Die enjin en ratkas is mooi gekalibreer en bied ʼn sagte, egalige rit. Die 4×4-weergawe bied Mitsubishi se SuperSelectII-4×4-stelsel – beslis een van die bestes in die bedryf.

Op die pad kan die Triton se vering effens hard voel, maar nie belaglik soos die Mazda BT-50 s’n nie. Die padhouvermoë is heel in die kol vir ʼn groot bakkie en nie veronderstel om soos ʼn sportmotor te hanteer nie. Aan die veiligheidskant bied die Triton sewe lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer. Nie sleg nie. Die Triton kan ook 3,1 ton sleep.

Dit is maklik om die Triton op te som. Met bakkies se pryse wat die hoogte ingeskiet het, begin die Triton voorwaar soos ʼn winskoop lyk. Nie nét is hy baie goedkoper as van sy mededingers nie, maar hy is ook nie ʼn uiters gewilde opsie nie, en dit beteken hy is ʼn baie laer risiko as dit kom by diefstal en kaping. Dáái veiligheid gepaard met die besparing behoort meer mense te swaai om ʼn Triton te kies.

Die reeks lyk só:

Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit133 kW/430 Nm7,5 ℓ/100 kmR594 995
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit outo133 kW/430 Nm7,6 ℓ/100 kmR614 995
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit 4×4133 kW/430 Nm8,2 ℓ/100 kmR654 995
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit 4×4 outo133 kW/430 Nm8,3 ℓ/100 kmR674 995

 

Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit 4×4 Xtreme133 kW/430 Nm8,3 ℓ/100 kmR734 995

Die kompetisie lyk só:

GWM P-Series 2.0TD dubbelkajuit LT 4×4 outo120 kW/400 Nm9,4 ℓ/100 km1,2 ton5 jaar/100 000 km-waarborg en diensplanR574 900
Ford Ranger 2.0SiT dubbelkajuit 4×4 XLT outo132 kW/420 Nm7,5 ℓ/100 km3,5 ton4 jaar/120 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

R687 300
Nissan Navara 2.5DDTi dubbelkajuit LE 4×4 outo140 kW/450 Nm8,1 ℓ/100 km3,5 ton6 jaar/150 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R704 900
Isuzu D-Max 3.0TD dubbelkajuit 4×4 LX outo130 kW/380 Nm7,8 ℓ/100 km3,5 ton5 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R742 800
Toyota Hilux 2.8GD-6 dubbelkajuit 4×4 Raider outo150 kW/500 Nm8 ℓ/100 km3,5 ton3 jaar/100 000 km-waarborg

9-dienste- diensplan

R747 100
Mazda BT-50 3.0TD dubbelkajuit 4×4 Individual outo140 kW/450 Nm8 ℓ/100 km3,5 ton3 jaar/onbeperkte km-waarborg en diensplanR794 400

Hier is nie ʼn slegte mededinger gelys nie. Die GWM is ʼn ware winskoop, maar sy sleepkapasiteit laat hom in die steek. Die Ranger is ʼn enorme winskoop, en die enkelturbo XLT is my gunsteling in die reeks, maar wees versigtig vir daai prys – die diensplan is nie ingesluit nie. Die Navara het bitter slim vering, en ry soos ʼn droom. Die Isuzu word eersdaags vervang – so wees versigtig daar. Die Mazda is heeltemal te duur en sy vering onaanvaarbaar. Tussen dié is dit die Ranger, Triton en Navara wat my aandag trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

As mens so na die pryse kyk, is daar geen rede om NIE ‘n Hilux te koop nie. Ford maak mooi bakkies, maar hulle hou nie as jy hulle plaas toe vat nie. En Mistubishi Suid-Afrika dink hulle is Mercedes so ek koop nie iets by hulle nie. Hul diens is amper net so vrot soos GM s’n was toe hulle nog hier rondgehang het.

Johan ·

Ek weet waarom alle Mitsubishi’s so swak verkoop:
1. Handelaars is onbevoeg.
2. Onderdele is alewig op bestelling – vir weke. (En nogal belangrike onderdele, soos suspensie en remme)
3. Onderdele is VERSKRIKLIK DUUR! Die Triton se onderdele kos amper 4X die prys van ‘n soortgelyke onderdeel vergelyke met ‘n Ranger, DMax en Hilux. Selfs die Fiat Fullback (wat ‘n Triton is) se onderdele is die HELFDE van die Triton se pryse!!! Bv. ‘n zenon hooflig op ‘n Triton is R30 500 – maar ‘n zenon hooflig op ‘n Fullback is maar R11 500. Dis absurd!

So, geen wonder Mitsubishi’s se inruilwaardes is so pateties nie, en dat hul net deur mense wat niks van karre af weet nie, gekoop word! (En dis jammer, want andersins is Mitsubishi se produkte absollut puik.) Maar die idiote by Motus / Impreial Holdings wat aan die stuur van Mitsubishi SA is, het geen idee wat hul doen nie…

Groete, van ‘n voormalige Pajero en Colt eienaar.

Helgard ·

‘n Potensiele goeie koop as jy in die tweedehandse mark is.

Oor die algemeen is ek klaar met die plaaslike agente se uitbuiting, selfs my ou Corolla hou ek ver weg van die Toyota workshops. Hulle het dieselfde pad as die res geloop, onbevoegte mechanics wat vergeet om die gearbox weer vol te maak met olie, hulle stamp jou kar in die workshop; teovallig op die dag werk geen van die kameras nie. Koop parte direk aan by oorsese agente en vat hom na my goeie indy mechanix toe.

JohanR ·

Ek weet nie van die nuwe Ford Ranger wat kom nie, maar as ek NOU op soek was vir ‘n bakkie sal dit ‘n Toyota wees…..jammer Ford.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.