Beste waarde sewesitplek-sportnuts?

Motorpryse het die afgelope paar jaar die hoogte ingeskiet en groot sportnutse en bakkies se pryse kruip al hoe nader aan die R1 miljoen-kerf.

Isuzu het onlangs ʼn 1.9-weergawe van sy mu-X vir ons gewys en ek is om verskeie redes gek daaroor.

Die ontwerp is netjies, selfs mooi. Hy lyk uniek genoeg, maar nie té futuristies nie. Die binneruim is eenvoudig, maar ruimer as die Fortuner, waarteen hy meeding, sʼn. Die intreemodel bied steeds ʼn derde ry sitplekke wat mooi in die vloer wegvou – nog ʼn uitklophou vir die mu-X.

Die analogiese gevoel van die mu-X is waarskynlik die verfrissendste van als. ʼn Mens sluit hom met ʼn sleutel aan… nie net knoppies nie. Die lugreëling is presies dit, en nie ʼn ingewikkelde klimaatbeheerstelsel nie.

Daar is egter twee kwale. Die plastiekafwerking voel nie wonderlik nie en die raakskerminligtingstelsel is piepklein en die ontwerp van die sagteware nie op standaard nie. Tog is daar vir die tweede ry sitplekke USB-poorte om fone mee gelaai te hou asook onafhanklike lugreëling vir die agterste deel van die kajuit.

Dit is op die pad waar die mu-X my beïndruk. As jy saggies met hom werk, is 6,3 ℓ/100 km maklik haalbaar. Dit is werklik puik. Die outomatiese ratkas wissel seepglad ratte en die 1.9‑viersilinderturbodieselenjin is stiller as sy 3.0-boetie met heelwat minder gekletter van die enjin. Die 1.9 bied 110 kW en 350 Nm – in die kol vir dié soort voertuig. Op die toetsroete is die verrigting van die 1.9 nie verstommend nie, maar ek glo vir 90% van kopers sal dit oorgenoeg wees, en uit vorige ondervinding met ʼn Isuzu wil hy eers behoorlik inloop en begin hy eers hier op 20 000 km behoorlik sy voete vind.

Die ritgehalte op die pad is in die kol vir die soort voertuig danksy die klein (teen moderne standaarde) 18”‑wiele. Die 1.9 kan ʼn billike 2,1 ton sleep en bied steeds ʼn indrukwekkende sewe lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding sowel as vastrap- en stabiliteitsbeheer.

Ek sal die mu-X 1.9TD LS só opsom: Die kar is presies wat jy nodig het, sonder enige foefies. Ek dink Isuzu moes ʼn bietjie aan die prys gewerk het om die syfers met ʼn ses te laat begin; R699 999 klink heelwat beter as R708 000, maar bied steeds lekker waarde in die segment. Die mu-X sal moontlik ook ʼn laer diefstal- en kapingrisiko as die Fortuner inhou.

Die reeks lyk só:

Isuzu mu-X 1.9TD LS outo110 kW/350 Nm7 ℓ/100 kmR708 000
Isuzu mu-X 3.0TD LS outo140 kW/450 Nm7,6 ℓ/100 kmR800 000
Isuzu mu-X 3.0TD LSE outo140 kW/450 Nm7,6 ℓ/100 kmR842 800
Isuzu mu-X 3.0TD LS 4×4 outo140 kW/450 Nm7,6 ℓ/100 kmR885 000
Isuzu mu-X 3.0TD LSE 4×4 outo140 kW/450 Nm7,6 ℓ/100 kmR927 700
Isuzu mu-X 3.0TD Onyx 4×4 outo140 kW/450 Nm7,6 ℓ/100 kmR960 600

Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/120 000 km-waarborg en ʼn vyf jaar/90 000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met die 1.9 mu-X deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kirst ·

Beslis sagter op die oog as die Fortuner. Ek kan steeds nie vat kry aan daardie agtervensters aan die kante wat so kinkel in het nie. Die Isuzu ry waarskynlik sagter as die Fortuner ook. Lg se vering is baie hard.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.