Eerste sege vir Maroela in GR-beker

(Foto: Verskaf)

Ná ʼn belowende pas in kwalifiserende rondes heel jaar lank, het ek al werklik begin gefrustreerd raak met die feit dat ek nie goeie kwalifisering in ʼn wen kan omskakel nie. Verskeie faktore het die afgelope ruk my planne in die wiele gery … maar uiteindelik het alles in Oos-Londen mooi in plek begin val.

Die oudste renbaan in die land, waar groot name soos Graham Hill en Jim Clark aan F1-wedrenne op die Prince George-renbaan deelgeneem het, is ook met ʼn reusemarge die vinnigste renbaan in die land. Potter’s Pass, Rifle en Cocobana is berugte draaie op hierdie baan.

Ons Toyota GR-86‑renmotors bereik Potter’s teen omtrent 186 km/h en met jou voet in die mat begrawe, kom jy teen 208 km/h by Rifle aan; jy bereik ʼn asemrowende 217 km/h voor jy 175 m voor die Cocobana-draai met alle mag op die remme klim.

Dit is beslis die opwindendste ronde van enige baan waar ons al vanjaar gejaag het.

Ry hier saam vir my kwalifiserende ronde.

Vrydag se oefenrondes was soms nat en koud, maar die tye het belowend gelyk. Ek het weer derde vinnigste geoefen en was vasberade om Saterdagoggend te probeer kwalifiseer in die tweede of (veel eerder) eerste plek. Ek het 2de ingepalm – nou was dit net om goed te jaag!

My grootste struikelblok vanjaar was draai een waar almal my verbysteek – maar gelukkig was draai een ver.

Met die wegspring besef ek dat ek dadelik vir Setshaba begin wegry. Ek was verward oor hoekom, maar wou nie rondhang om rede te soek nie. Ek het voluit gery vir die eerste ronde om ʼn gaping te skep waarmee ek kon asemhaal. My plan het perfek gewerk en my eerste agt rondes van die wedren het na my eerste oorwinning vir die seisoen gelei.

Dit is ʼn fantastiese gevoel wat moeilik is om behoorlik te beskryf.

Toe ons uit die kar klim, wens Setshaba Mashigo my geluk. Ek vra wat skeefgeloop het en hy antwoord met ʼn skaam glimlag: Hy het sy lugreëling aan vergeet.

Ons skater van die lag – maar ek is maar al te dankbaar vir dié foutjie. Die eerste ronde van wedren 1 was ook die vinnigste van almal; ek spring dus eerste weg in wedren 2.

Die tweede wedren was bitter naby, van ronde 1 tot 8. Ek, gevolg deur Setshaba dan Denis Droppa en daarna Chad Lückhoff, het soos een lang trein ronde ná ronde gejaag sonder om te vryf of te stamp. Mark Jones en Mario de Sousa het in vyfde en sesde plek oorlog met mekaar verklaar en sodoende het die vier van ons vir hulle begin wegry.

Ná die euforiese gevoel van wen, begin ek besin oor die naweek se gebeure. Waarskynlik ʼn kombinasie van faktore. Een daarvan was wat Mark Jones al heel jaar vir my sê: Jy hét die spoed, nou moet jy net minder bekommerd wees oor draai een en mik vir die wen (nie derde plek nie).

ʼn Ander joernalis wat vanjaar self afrig én afrigting kry – Ernest Page – sê vir my: “Daar is geen rede hoekom jy nie kan wen nie, go for it!”

Met die oefenrondes wat goed gegaan het, en die baan wat lekker gevoel het, begin ek hulle nou al so ampers glo. En net daar besef ek: Een van die grootste vaardighede in ʼn renjaer se gereedskapkis is selfvertroue en die geloof dat jy kán wen.

Ons jaag op 9 September by Killarney in Kaapstad en al ses van ons gaan waarskynlik met nuwe selfvertroue en vaardighede probeer wen.

Die kampioenskap staan nou só:

RenjaerPunte
Setshaba Mashigo59
Mark Jones36
Denis Droppa32
Chad Lückhoff27
Brendon Staniforth25
Reuben van Niekerk18

Daar is vier wedrenne oor vir die jaar – dus 28 punte vir eerste plek.

Kom ons kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.