Honda se 7-sitplek-buks afgestof

(Foto: Verskaf)

Dis altyd lekker om te droom oor ʼn supermotor of bergbok van ʼn 4×4 wat enige terrein kan aandurf. Dit is egter doodgewone, veelsydige rygoed wat die wêreld se wiele aan die rol hou.

Een só ʼn tjor is Honda se BR-V (wat begin het as die Mobilio). Dit was ʼn klein B-segment-veeldoelvoertuig, ook bekend as ʼn MPV. Die BR-V wat daarop gevolg het, was bietjie aantrekliker en het ʼn paar elemente met die Honda Jazz gedeel. Dit was ʼn puik beginpunt.

MPV’s is tans nie baie sexy nie – en almal wil oënskynlik ʼn sportsnutsvoertuig hê: lekker hoog van die grond af, met goeie sigbaarheid uit die voertuig. Daar is egter ʼn nadeel aan sulke voertuie. Soms is hulle lomp, té groot om lekker te parkeer en onnodig swaar op brandstof. Honda meen dat hy ʼn puik middeweg gevind het.

(Foto: Verskaf)

Die nuwe BR-V is voorwaar mooi. Hy deel sy ontwerptaal met dié van die nuwe HR-V – ook ʼn mooi ryding. Wat Honda hierby baat, is dat die BR-V nou meer na ʼn sportnuts lyk as ʼn MPV. Die binneruim is lekker ruim en allerbelangrikste is daai derde ry met die sesde en sewende sitplekke. Alles wat nodig is, is daar. Dit sluit in lugreëling, ʼn raakskerm-inligtingstelsel met Apple CarPlay en Android Auto, asook elektriese vensters en Isofix.

Onder die kap sit Honda se atmosferiese 1.5-viersilinder-petrolenjin. Die enjin bied 89 kW en 145 Nm. Die enjin gaan gepaard met Honda se CVT-palwisseltransmissie. ʼn Sportmotor is beslis nie die plek vir ʼn CVT nie, maar hier in die BR-V is hy dooddollies.

Die atmosferiese V-TEC-enjin hou van omwentelinge en as jy ʼn kwaai bult klim of wil verbysteek, kan dit dalk aardig klink, maar dit is nie genoeg om steurend te wees nie.

Daar is wel  ʼn voordeel wat saam met die CVT loop en dit is lae omwentelinge en uitstekende brandstofverbruik wanneer jy rustig toer. Ons het tydens die bekendstelling 5.7 l/ 100 km gehandhaaf oor naastenby 250 km. Nie sleg nie.

Die BR-V bied lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en stabiliteitsbeheer. Dít en die Isofix-monteringspunte sorg vir ʼn veilige voertuig om die kinders rond te karwei.

(Foto: Verskaf)

Ek is nie baie lank nie (1,76 m in my sokkies) en ek pas redelik gemaklik in die derde ry sitplekke. Nie te versmaai nie.

Teen R379 000 is die prys ook heel in die kol.

(Foto: Verskaf)

As ek hard moet krap om fout te soek, sou ek sê dat die CVT-ratkas met sewe insittendes en die atmosferiese enjin op die Hoëveld gaan sukkel.

Dit gaan nie mooi klink nie en vordering gaan nie vinnig wees nie. Ek dink ʼn effe kleiner 1.2-turboenjin sou beter werk in dié voertuig, veral as jy die juweel van die 1.5-turbo in die nuwe Civic in ag neem. Dis ook ʼn CVT en ry soos ʼn droom.

Die reeks lyk só:

Honda BR-V 1.5 Trend handratR379 900
Honda BR-V 1.5 Comfort handratR409 900
Honda BR-V 1.5 Comfort CVTR434 900
Honda BR-V 1.5 Elegance CVTR459 900

Die reeks word gedek deur Honda se 5 jaar/200 000 km-waarborg en 4 jaar/ 60 000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met die BR-V deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.