Husqvarna Norden 901 – ’n Fiets vir enige avontuur  

(Foto: Brian Cheyne)

Aan die einde van 2019, tydens die EICMA-skou in Milaan, het Husqvarna ’n konsepmotorfiets ten toon gestel: die Husqvarna Norden. Die internet het behoorlik gegons, want dit het na ’n behoorlike avontuurfiets gelyk.

Gelukkig het Husqvarna geluister en in November 2021 die Norden 901 bekendgestel. Daar is hier en daar afgewyk van die oorspronklike konsep, maar dit het seker te doen gehad met die feit dat die Norden die meeste van sy komponente deel met die KTM 890, en dit is net makliker om bestaande komponente te gebruik eerder as om iets van nuuts af te ontwikkel.

(Foto: Brian Cheyne)

Ek wou regtig my artikel probeer skryf sonder om te verwys na die KTM 890 waarop die Norden geskoei is, maar dit sal dit onmoontlik raak om te probeer uitpluis waar die Norden inpas. KTM en Husqvarna word besit deur dieselfde maatskappy, so daar is wedersydse samewerking tussen die twee groepe. Husqvarna kan dus KTM-komponente gebruik, maar vrylik uiting gee aan hulle kreatiwiteit as dit by die ontwerp kom. Kyk maar na modelle soos die KTM 390 Duke en die Husqvarna Vitpilen 401. Jy kan seker nie twee meer uiteenlopende ontwerpe kry nie, en tog deel hulle dieselfde enjin en onderstel.

(Foto: Brian Cheyne)

KTM het twee 890 modelle: die standaard 890 en die 890 R. Die R is die hardebaard vrotpadfiets met WP se beste XPLOR-USD-voorvurke en ruim grondvryhoogte. Die Norden sit mooi tussen hierdie twee modelle. Dit het meer grondvryhoogte as die 890, maar minder as die 890 R. En hier, dink ek, het Husqvarna net die regte plek gekry. Ek het heelwat tyd op die ou KTM 790 deurgebring in Lesotho, so ek twyfel geensins dat die Norden oor dieselfde vermoëns beskik as die teerpad ophou nie.

Die eerste keer wat ek die Norden in lewende lywe gesien het, was by Husqvarna in Midrand. Die bakpanele laat die fiets groter vertoon as wat hy is. Dit is nie ’n klein fiets nie, maar foto’s kan bedrieglik wees. Die swart en donker grys kleurskema met die geel aksentstreep is baie treffend. Die hooflig is rond en ver vorentoe gemonteer wat die fiets na ’n renfiets laat lyk. Die kontroles is bekend vir my en ek is effe teleurgesteld dat die instrumentasie ’n eenvoudige, vierkantige eenheid is. Die prototipe het ’n treffende dubbele skerm gehad wat die navigasie van die res van die instrumente geskei het. Tog is daar genoeg inligting en die swart en geel tema word daar voortgesit.

Die 889 cc-enjin ontwikkel 105 pk en die brandstoftenk is aan weerskante van die enjin gedrapeer. Met hierdie konfigurasie verlaag die swaartepunt van die fiets wat die lewe makliker maak in tegniese terrein. Die toetsfiets het ’n REMUS-uitlaatpyp gehad wat die Norden se stem dikker gemaak het. Daar is meer as genoeg woema en die fiets beskik oor snelskakeling.

(Foto: Brian Cheyne)

Die saal is uiters gemaklik, want dit is net plat, breed en ferm. Die saal kan verstel word in twee posisies, maar die hoogste posisie het vir my gevoel ek sit bo-op die fiets eerder as “in’ hom. Die Norden word bemark as ’n toerfiets waarmee jy lang ente teer kan ry om dan weg te dwaal en grondpaaie te verken. Om te sien of die Norden die bemarking gestand doen, het ek besluit om Kaapsche Hoop toe te ry. Met my klein oornagtassie agterop vasgemaak het ek die vervelige N4 aangepak. Die Norden beskik oor snelheidbeheer, en dan is jou enigste uitdaging om nie aan die slaap te raak nie.

Die kort skermpie werk verbasend goed en die bakpanele sorg dat die meeste wind van die ryer af weggelei word. Die hitte van die enjin was egter merkbaar by my voete in stadiger verkeer. Op die oop pad is hierdie hitte egter nie ’n probleem nie. Die bakpanele maak nie net van die Norden ’n aantreklike fiets nie, maar bied uitstekende stabiliteit op spoed. Verder het dit gesorg dat ek grotendeels droog gebly het toe ek my skielik in ’n reënbui bevind het. Selfs met my entoesiastiese ryery was die Norden se brandstofverbruik 4,9 ℓ/100 km.

Ons avontuurryers bring baie tyd op teer deur om by ons eintlike bestemming uit te kom. Daar pak ons die fiets af en gaan verken die klein grondpaadjies na nêrens. Hier skitter die Norden. As jy wil ver ry, kan hy. As jy ’n stofpad wil verken, kan hy. Selfs al wil jy met Sani-pas op ry, sal ek nie huiwer oor die Norden nie. So, hulle bemarking was reg. Hulle het die ideale toerfiets vir enige avontuur!

Die feite:

Enjin889 cc parallel twee
Gewig (Nat)204 kg
Kraglewering77 kW / 105 pk  @ 8 000 rpm
Wringkrag100 Nm @ 6 500 rpm
Tenkkapasiteit19 ℓ
Saalhoogte854 / 874 mm
PrysR246 699

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.