Hyundai stel splinternuwe Grand i10 bekend

Hyundai het gister vir ons sy spiksplinternuwe Grand i10 gewys. ʼn Oulike A-segment buksie in die intree-segment. Die Grand i10 word in een van Hyundai se twee aanlegte in Indië gebou.

Die Grand i10 sit nou in hul reeks tussen die Atos en die i20 en sodoende het Hyundai nou ʼn opsie in elke prysklas tussen R169 500 en R323 900.

Die nuwe Grand i10 het ʼn oulike en modieuse ontwerp. Dit lyk vir my na ʼn mengsel van die vorige Grand i10 en die Atos… glad nie ʼn probleem nie. Aan die binneruim het die paneelbord ʼn puik ontwerp en laat die Grand i10 na ʼn beter gehalte produk voel as die prysklas waarin hy meeding.

Die raakskerminligtingstelsel bied CarPlay en Android Auto. Verder is daar elektriese vensters vir al vier deure, lugreëling, kragstuur, ʼn sentrale sluitstelsel, twee lugsakke en Isofix. Heel volledig, veral in dié segment.

Die Grand i10 is beskikbaar met twee enjins – ʼn atmosferiese 1,0 driesilinder- of 1,2 viersilinderpetrolenjin. Die 1,0 bied 49 kW en 94 Nm. Dít is die model waarmee ons gister gery het – en hy is heeltemal piekfyn – selfs op die platorand. Die 1,2 bied 61 kW en 114 Nm… ʼn redelike voordeel bó die 1,0. Albei enjins is beskikbaar met óf ʼn vyfspoed handrat of vierspoed-wringkragomsitter outomatiese ratkas.

Dit is dus die goedkoopste tjorrie op die mark met ʼn behoorlike outomatiese ratkas in plaas van ʼn AMT geoutomatiseerde handrat.

Op die pad toer die Grand i10 lieflik stil en piekfyn op die snelweg. Sterk wind kan die Grand i10 ʼn bietjie rondwaai – maar dit is heeltemal te verstane in dié gewigsklas.

Dit is heeltemal maklik om die Grand i10 op te som. Hyundai het homself al goed gevestig in die Suid-Afrikaanse mark. Die produkte is eerlik en betroubaar sonder om belaglik duur te wees.

Die reeks lyk só:

Hyundai Grand i10 1.0 Motion handrat49 kW/ 94 Nm5,4 ℓ/ 100 kmR191 900
Hyundai Grand i10 1.0 Motion outo49 kW/ 94 Nm5,9 ℓ/ 100 kmR216 900
Hyundai Grand i10 1.0 Fluid handrat49 kW/ 94 Nm5,4 ℓ/ 100 kmR216 900
Hyundai Grand i10 1.2 Fluid handrat61 kW/ 114 Nm5,9 ℓ/ 100 kmR230 900
Hyundai Grand i10 1.2 Fluid outo61 kW/ 114 Nm6,9 ℓ/ 100 kmR256 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg en 7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg en ʼn 1 jaar/ 15 000 km diensplan.

Ons sal weer tyd met die Grand i10 deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.