Isuzu D-Max: Swak gehalte ʼn probleem

Isuzu se D-Max is nie ʼn vreemdeling vir Suid-Afrikaners nie. ʼn Rateltaaiwerkesel wat jy oral sien – veral onder boere. Die bakkies was nog altyd uiters betroubaar, sonder die “myne is groter as joune”-bekgevegte om die braaivleisvuur.

Die nuwe reeks D-Max-bakkies is werklik mooi. Ek weet daar was vrae oor of die 1,9-diesel die pyp gaan rook. Die kort antwoord – absoluut maar daar is altyd ʼn maar.

Die 1,9-viersilinderturbodiesel bied 110 kW en 350 Nm. Dit is meer as wat die vorige 2,5 gebied het. Een van die vorige generasie se beste punte was die ratkas. Perfek gespasieerde ratverhoudings kan selfs ʼn gemiddelde enjin goed laat voel. Die teenoorgestelde is waar van slegte ratverhoudings. ʼn Lekker enjin voel erg swak as die ratkas hom nie help nie.

Dit is die geval met die handratweergawe van die 1,9. ʼn Uiters kort eerste rat, dan vier wat min of meer gelyk gespasieer is en ʼn laaaaaang sesde rat om die omwentelinge laag te hou op die snelweg. Daai lang sesde werk bitter goed. Die 1,9 LS D-Max is beslis die mees ekonomiese bakkie waarmee ek al gery het. Ek het brandstofverbruik van by die 6,2 ℓ/100 km ervaar… maar indien daar dorpsverkeer is of gereelde stilhou en wegtrek, kan ʼn mens nie met die handrat saamleef nie.

Ek vra toe vir Isuzu of daar ʼn outo is, voordat ek dié berig skryf. Hulle reël vir my ʼn outo om vir ʼn paar dae te ry. Daai kort eerste rat maak nou glad nie meer saak nie. Die outo skop mooi vas en die wringkragomsitter is goed gekalibreer. Sonder die kort eerste rat haal ʼn mens ook baie van die gestamp en stoot van die dryfstelsel uit wat jy in die handrat ervaar. Die outo is net só lig op brandstof – én mens het nie ʼn koppelaar om te brand nie – die beste van alle wêrelde.

Dit bring my wel by ʼn paar swak punte. Die bougehalte aan die binneruim van die D-Max is effens swak. Nie onaanvaarbaar soos vroeë Chinese voertuie nie, maar beslis nie waar Isuzu moet en kan wees nie. Die truspieëltjie vibreer partykeer so dat ʼn mens nie mooi in hom kan sien nie en die deurpaneel beweeg as jy nie die venster toemaak nie. Soos die ruit bó kom en vasskop, dan druk dit duidelik die ratjie van die elektriese motor vas. Daai motor neem ek aan is aan die deurpaneel vas – dan skuif die deurpaneel soos hy vasmaak. Ek het nog nooit só iets in ʼn voertuig gesien nie.

My laaste kwaal met die D-Max is in die onderstel. Die 1,9 het minder dwarslatte in die leerraam. Dít, saam met die sagter vering wat Isuzu op besluit het (dankie tog – want die Mazda is onuithoudbaar), los die onderstel ʼn bietjie buigsaam. Dus, as mens teen ʼn matige spoed ʼn draai ingaan en begin vet gee, kan jy voel hoe die voertuig “buig”. Agter en voor praat nie mooi met mekaar nie.

Ek sal dan só sê: Die D-Max behoort uiters betroubaar te wees. Die nuwe enjin is lekker – slegs met ʼn outo‑ratkas. Die bakkie is nie aaklig duur nie en die 1,9 kan 2 100 kg sleep. Aan die ander kant is die bakkiesegment tans aan die brand. Die nuwe Navara is ʼn lieflike bakkie, en Ford en Volkswagen stel nou hul nuwe Ranger en Amarok bekend. Isuzu gaan vinnig die bougehaltekwale moet regruk as hulle ʼn lekker groot markaandeel wil hou.

Die 1,9-dubbelkajuitreeks lyk só:

Isuzu D-Max 1.9TD dubbelkajuit L handratR511 400
Isuzu D-Max 1.9TD dubbelkajuit L outoR530 100
Isuzu D-Max 1.9TD dubbelkajuit LS handratR533 900
Isuzu D-Max 1.9TD dubbelkajuit LS outoR551 000
Isuzu D-Max 1.9TD dubbelkajuit L 4×4 handratR590 300
Isuzu D-Max 1.9TD dubbelkajuit LS 4×4 handratR645 100

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/120 000 km‑waarborg en 5 jaar/90 000 km‑diensplan

Die kompetisie lyk só:

Mahindra Pik up 2.2CRDe dubbelkajuit S6 outo103 kW/320 Nm9,3 ℓ/100 km2 500 kg4 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R413 999
GWM P-Series 2.0TD dubbelkajuit SX outo120 kW/400 Nm8,8 ℓ/100 km1 375 kg5 jaar/100 000 km‑waarborg en ‑diensplanR435 950
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit GL100 kW/324 Nm8 ℓ/100 km1 400 kg3 jaar/100 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R494 990
Nissan Navara 2.5DDTi dubbelkajuit SE outo140 kW/450 Nm8 ℓ/100 km3 500 kg6 jaar/150 000 km‑waarborg

6 jaar/90 000 km‑diensplan

R542 900
Toyota Hilux 2.4GD-6 dubbelkajuit Raider outo110 kW/400 Nm7,3 ℓ/100 km2 750 kg3 jaar/100 000 km‑waarborg

9‑dienste‑diensplan

R568 400

Tussen dié mededingers kies ek beslis die Triton indien die begroting knap is. As ʼn mens ʼn bietjie meer geld het en tussen die D-Max en die Navara moet kies, is die Navara die keuse – veral met sy fantastiese krag en sleepvermoë teen die prys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.