Kia se Sportage vier 30 jaar

Kia se puik Sportage is in 1993 gebore, maar in Suid-Afrika het ons hom eers vyf jaar later leer ken.

Kia het intussen van krag tot krag gegaan met die Sportage, wat nou in sy vyfde generasie is en ʼn hoofstroommededinger is wat sy man moet staan teen Toyota se Rav4. Kia het ʼn slim plan uitgedink om vir hom ʼn klein nis te skrop – ʼn C-segment sportnutsvoertuig, die segment waarheen elke C-sedan koper geskuif het bars uit sy nate. Daar is honderde mededingers – maar amper geen dieselmodelle is meer beskikbaar nie.

Die wêreld word aan sy neus gelei deur Europa wat die binnebrandenjin teen 2030 tot niet wil maak. Darem weet Kia dat daar ander markte bestaan waar sy voertuie verkoop – en daai markte is nié Europa nie en het geen heksejag aan die gang met diesel nie. Veral ons vragmotors gaan nog vir dekades met diesel aangedryf word.

Kia se keuse was ʼn middelslagdieselenjin, 1,6 viersilinderturbodiesel wat 100 kW en 320 Nm bied. Die enjin is gekoppel aan ʼn 7-spoed dubbelkoppelaar outomatiese ratkas. Die eindresultaat is ʼn lekker gesinsvoertuig wat maklik minder as 6 ℓ/100 km kan haal. Indien ʼn mens werklik sag met hom werk kan jy so goed as 4,8 ℓ/100 km behaal.

Op die pad toer die Sportage lekker. Ritgehalte is soepel genoeg om gemaklik te wees sonder om padhouvermoë in te boet. Die is egter die spesifikasievlak in die binneruim wat beïndruk.

Tydens die bekendstelling het ons met die intree LX-model gery. Lap bekleedsel, in elk geval my voorkeur, maar verder al die moderne luukshede waaraan ʼn mens gewoond is soos ʼn groot raakskerm met Apple CarPlay en Android Auto, klimaatbeheer en spoedkontrole.

Uit ʼn veiligheidsoogpunt is die Sportage indrukwekkend toegerus met ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en stabiliteitsbeheer sowel as ISOFIX-monteringspunte. Aan die aktiewe kant geniet die Sportage nou ADAS (Advance Driver Assistance System) oor die hele reeks. Die Sportage spog met ʼn 5-ster NCAP veiligheidstoetsgradering.

Toe die vyfde generasie Sportage bekend gestel is, was ek skepties. Die mengsel modelle was aan die duur kant en daar was nie ʼn diesel beskikbaar nie. Kia het dié probleem nou reggestel. Indien ʼn mens daai faktore met Kia se waarborg en diensplan saamvoeg is daar min wat hom sal klop.

Die Sportage-reeks lyk nou só:

Kia Sportage 1.6 CRDi LX100 kW/320 Nm4,9 ℓ/100 kmR637 995
Kia Sportage 1.6 CRDi EX100 kW/320 Nm4,9 ℓ/100 kmR691 995
Kia Sportage 1.6 T-GDi GT-Line132 kW/265 Nm6,5 ℓ/100 kmR713 995
Kia Sportage 1.6 T-GDi GT-Line Plus132 kW/265 Nm6,5 ℓ/100 kmR741 995
Kia Sportage 1.6 CRDi GT-Line Plus100 kW/320 Nm4,9 ℓ/100 kmR765 995
Kia Sportage 1.6 T-GDi GT-Line S132 kW/265 Nm6,5 ℓ/100 kmR798 995

Die reeks word gedek deur ʼn klasleidende 5 jaar / onbeperkte km waarborg en 6 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die diesel mededingers in die mark lyk só:

Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera140 kW/ 450 Nm5,7 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km waarborg en diensplanR778 700
Hyundai Tucson 2.0D Elite137 kW/ 416 NM7,4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km dryfstelselwaarborg

6 jaar/90 000 km diensplan

R779 900
BMW x1 sDrive 18d xLine110 kW/ 360 Nm5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R815 617
Volkswagen Tiguan 2.0TDI 130kW 4Motion R-Line130 kW/ 380 Nm6,6 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R829 200

Teen R637 995 is die LX Sportage ʼn winskoop in dié segment.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.