Luister: Avonture tussen die duine

Volgens deelnemers was die agtste skof die moeilikste een nóg. Foto: Foto: MCH Photo/Toyota Gazoo Racing.

Verbeel jouself jy pak die pad van Pretoria na Kaapstad in jou voertuig aan, maar die eerste 800 km is ’n woestyngebied vol klippe en sagte duine; die teeroppervlak van die N1 is nêrens in sig nie.

Nou, dan het jy soort van ’n idee van hoe die agtste skof van die Dakar-veldtydren in Saoedi-Arabië vir die deelnemers moes gevoel het.

Meer as 800 km van sand, stof en duine – volgens deelnemers die moeilikste skof nóg van die 2022-wedren.

Swede se Mattias Ekstrom was eerste in sy Audi met ʼn tyd van 03:43:21, gevolg deur spanmaat Stephane Peterhansel kort op sy hakke.

“Ons het darem vandag nie te veel foute gemaak nie. Dalk was ons benadering effens konserwatief, maar daar moet nog baie water in die see loop,” het Ekstrom gesê.

Sebastien Loeb het ’n verdere hap uit Nasser al-Attiyah se voorsprong gesny, maar die Toyota Gazoo Racing-deelnemer geniet steeds ’n voorsprong van amper 38 minute.

Volgens Suid-Afrika se Henk Lategan was dit omtrent ’n avontuur om die duine te bemeester.

“Ons het vroeg ’n pap band in die klipperige gedeelte gekry, waarna die sagte duine ook ’n moeilike uitdaging was – ’n hele paar ouens het daar vasgesit,” het Lategan gesê.

Giniel de Villiers het die skof in die negende plek afgesluit.

“Dit was beslis die moeilikste gedeelte nóg van die tydren. Veral die eerste 200 km tussen die duine was geweldig moeilik.”

  • Jongste algehele puntestand:
  1. Nasser al-Attiyah en Matthieu Baumel (Toyota Gazoo Racing) 27:45:52
  2. Sebastien Loeb en Fabian Lurquin (Bahrain Raid Xtreme) +00:37:58
  3. Yazeed al-Rajhi en Michael Orr (Overdrive Toyota) +00:53:13
  4. Orlando Terranova en Daniel Oliveras Carreras (Bahrain Raid Xtreme) +01:31:39
  5. Vladimir Vasilyev en Oleg Uprenko (VRT Team) +01:40:57
  6. Giniel de Villiers en Dennis Murphy (Toyota Gazoo Racing) +01:46:05
  7. Martin Prokop en Viktor Chytka (Benzina Orlen Team): +01:54:05
  8. Vaidotas Zala en Paulo Fuiza (Teltonika Racing): +02:40:58
  9. Shameer Variawa en Danie Stassen (Toyota Gazoo Racing): +03:21:41
  10. Juan Cruz Yacopini en Alejandro Miguel Yacopini (Overdrive Toyota): 04:25:34.
  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op hoogte van wat in die Dakar-tydren gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrikaanse deelnemers gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.